Staatskaping: ‘Komiteehoof is ‘n skelm’

Julius Malema, leier van die EFF, en Godrich Gardee, sekretaris-generaal, spreek verslaggewers in Johannesburg toe. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Die EFF beweer Terence Nombembe, die man wat pas aangestel is as die hoof van die ondersoekspan in die kommissie van ondersoek na staatskaping, het geld van Trillian Capital Partners, ʼn maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-familie het, ontvang.

Julius Malema, leier van die EFF, het aan verslaggewers in Johannesburg gesê Nombembe, die voormalige ouditeur-generaal, het die kontant ontvang in sy hoedanigheid as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) en hy moet daarom van die kommissie van ondersoek na staatskaping verwyder word.

“Die EFF-koukus het aan Nombembe geskryf oor die R1,2 miljoen wat Saica in 2017 van Trillian ontvang het. Hy het nie gereageer oor die donasie nie, maar het in plaas daarvan gevra vir ʼn telefoongesprek met die EFF-koukus. As jy nie iets op skrif kan sit nie, dan is dit korrup,” het Malema gesê.

“Die EFF-koukus het aan Nombembe gesê daar sal geen telefoniese gesprek wees nie en hy moet reageer oor die Trillian-betaling. Hoekom het hy daarop aangedring om telefonies te reageer? Hy het tot vandag toe nog nie hierop gereageer nie. Hy is ʼn skelm.”

Trillian Capital Partners wat destyds deur voormalige pres. Jacob Zuma se vriende, die Gupta-broers, beheer is, het R1,6 miljard onwettig van Eskom ontvang sonder ʼn kontrak en sonder om enige werk te verrig.

Nombembe is Woensdag aangewys as hoof van die ondersoekspan van die kommissie wat onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo staan. Ander sleutelaanstellings is adv. Leah Gcabashe, adv. Vincent Maleka, adv. Thandi Norman en adv. Paul Pretorius as deel van die regspan. Pretorius is die leier van dié span.

Die lede van die kommissie wat staatskaping sal ondersoek. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Malema het gesê Zondo “spring weg op die verkeerde voet” en moes van die betaling aan Saica geweet het nadat die EFF voorheen aan die instituut geskryf het om te versoek dat ouditeursfirmas betrokke by die staatskaping-debakel ondersoek word.

“Daar was nog geen behoorlike ondersoek deur Saica nie. Saica en sy uitvoerende hoof [Nombembe] is gekaap, maar tog gaan hy staatskaping ondersoek? Die adjunkhoofregter moes dit geweet het as hy dié saak gevolg het en wie die moontlike [staatskaping-] verdagtes is.”

Malema het gesê die EFF is van voorneme om te eis dat Nombembe voor die kommissie antwoorde gee oor die Trillian-donasie. Hy het ook ʼn beroep op Zondo gedoen om Nombembe te verwyder of om regstappe in die gesig te staar oor die beweerde konflik van belange.

Malema het ook die aanstelling van Pretorius as die regspan se leier gekritiseer en gevra hoekom Maleka nie as leier aangewys is nie.

“Hoekom ʼn wit man aanstel om aan die hoof van Vincent Maleka te staan? ʼn Swart man wat die regsbedryf betree het lang voordat dit mode was? Wat het Maleka nie wat hierdie wit knaap het om outoriteit oor Maleka te hê? Ons is nie gelukkig nie, hierdie kommissie bekommer ons.”

Hy het verder aangevoer adv. Norman is “ʼn verteenwoordiger van Zuma” in die Regterlike Dienskommissie.

“Thandi Norman SC is ʼn direkte verteenwoordiger wat deur Zuma met die hand uitgekies is vir die Regterlike Dienskommissie. Kan iemand wat deur Zuma gekies is werklik neutraal wees in ʼn kommissie waar Zuma van staatskaping beskuldig word? Hierdie gaan nie oor haar persoonlik nie, maar oor die feit dat die publiek volle vertroue in die kommissie moet hê,” het Malema gesê.

Malema het ʼn beroep gedoen op alle lede van die kommissie, wat ʼn konflik van belange het met beskuldigdes of enige getuies, om hulself van die kommissie van ondersoek te verskoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wurmpie ·

Arme Julius. Hy het ook probleme met almal en als. Hy wil so graag gehoor word. Kry hom verskriklik jammer

Lientjie ·

hy vergeet hy het nie eers meer ‘n plaas agv van sy skelm streke nie.

Paul ·

Hy was darem nie al die vorige kere verkeerd oor bewerings nie, kom ons kyk of hy bewyse van so ‘n epos en ander bewyse op die tafel kan sit. Dat hy hier met verdagmakery besig is, mag so wees, en as hy reg is? Daar was daardie tyd baie rondom Trillian, die Guptas en die bedrag hier bo geskryf.

Alida ·

Snaaks genoeg so min respek as wat mens vir JM het mag hy dalk reg wees. En dan? Sy verwysing na Adv Pretorius is rassisties van aard en daaroor moet hy gestraf word.

Michael ·

Ai dat n mens nou so n groot salaris kan kry net om nonsens te praat. Ai Malema hy is n siek mens.

Paul ·

Nombembe was dan hoof van Saica wat in 2017, R1,2M van Trillian ontvang het, dan is dit maar seker reg dat die vrae gevra word.

Bloedhond ·

Dis kleingeld in vergelyking met die R7m salaris wat SAICA vir Nombembe betaal

DS ·

Wonder net wie GROU so om inligting oor al MALema se “vyande” te bekom. Hy vergeet baie maklik van sy EIE “misverstand” soos hy dit noem met SARS. MALema as jou rekord “wit”rein was kon jy jou bek so oor almal uitgespoel het maar JY staan agter die deur so bly stil en sit stil.

Cor ·

Ou Juillius is seker bang Adv. Pretoruis gaan dalk iets van hom ook uitvind. Was dit nie dat die ANC hom uitgeskop het nie was hy ook diep in die zupta sakke. Hy maak verniet of hy niks het om weg te steek nie. Hy wat sou sterf vir no nul.

OomAndre ·

Die einste Terence Nombembe wat nie vinnig genoeg kon spring om vir Des van Rooyen geluk te wens met sy aanstelling as Minister van Finansies nie. Geen soortgelyke briewe is aan enige van sy opvolgers gestuur nie. Laat mens wonder hoeveel geraamtes in daardie kas wegkruip.

PJC ·

Maak nie saak hoe min ons van Julius hou nie. Hy is dikwels handig. Ons sal maar moet sien wat kruip hier uit. Duidelik het hierdie Nombembe ń paar groot geraamtes in die kas en is hy dus nie geskik om op hierdie komitee te dien nie.

Casper Labuschagne ·

6% van die steun maar 90% van die kollig in die media. Duidelik is iets buite verhouding verkeerd hier en ek glo ek ruik ‘n baie stink rot. ‘n Rot met ‘n kamera, ‘n mikrofoon en ‘n notaboek wie se besigheidmodel uit en uit gevestig is op sensasie.

Theresa ·

Ek sien nie joernaliste so oor mekaar val om ander mense se menings uit te blaker nie.
Waarom word hierdie man soveel mediadekking gegun??
Waarom word hy nie gestraf vir elke haatlike moord aanmoedingswoorde en ander karakterskendinge nie??

Mister president, is it at all possible to answer these questions? This man (only a small party – not even the opposition – is doing whatever he wishes and is not reprimanded?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.