Staatskaping-kommissie hoor klankopname oor ‘Zuma-gesprek’

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Donderdag ʼn klankopname gehoor wat na bewering die stem van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, is waarin hy spog hoe hy voormalige pres. Jacob Zuma sou beïnvloed om mense van sy keuse by belangrike staatsinstellings aan te stel.

Die opname is deur Angela Agrizzi, voormalige operasionele hoof by Bosasa, gemaak. Agrizzi het vandeesweek voor die kommissie getuig oor hoe Bosasa na bewering talle regeringsbeamptes omgekoop het sodat die maatskappy winsgewende tenders kon bekom. Toe dié onderhandelinge onder die aandag van ondersoekers gekom het, het Bosasa na bewering senior aanklaers omgekoop om enige moontlike vervolging te verhoed, beweer Agrizzi.

Donderdag het Agrizzi beweer Watson het R100 000 per maand aan adv. Nomgcobo Jiba, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, betaal van 2012 af totdat Agrizzi einde 2016 by die maatskappy weg is. Dit is glo gedoen om noodsaaklike dokumente te bekom wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bymekaargemaak het ter voorbereiding van die vervolging van Bosasa en sy begunstigdes.

Toe Jiba egter onder die media se vergrootglas gekom het oor haar bedrywighede, het Watson glo druk op Jiba geplaas om die Bosasa-dossier in die hande te kry wat die Valke nie wou vrystel nie.

Agrizzi het getuig hy het in Mei 2015 vir Watson vergesel na ʼn vergadering met Linda Mti, voormalige kommissaris van korrektiewe dienste. By dié vergadering het Watson glo gesê hy wou Zuma oortuig dat Jiba in gedrang is en ʼn risiko vir Bosasa inhou. Agrizzi het sonder Watson of Mti se medewete ʼn klankopname van die vergadering gemaak.

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

In die nege minuut lange opname wat Agrizzi Donderdag aan die kommissie gespeel het, kan gehoor word hoe Watson namaak hoe hy met Zuma sal praat wanneer hy hom opdrag gee om “mense in die regering rond te skuif”.

Watson praat in die opname oor hoe hy Zuma sou aanmoedig om Jiba te beskerm aangesien sy wel die vervolging van Bosasa probeer staak het, maar voormalige Valke-hoof Anwa Dramat het geweier om die dossier te oorhandig. Jiba het gevolglik die hoofaanklaer, Marijke de Kock, van die saak verwyder, maar sy “is teruggesmokkel” in 2012.

“Ons moet hierdie ding beëindig, meneer die President,” sê Watson in die opname. “Ons moet die regte mense op die regte plek kry. [Voormalige Valke-hoof Berning] Ntlemeza is die regte ou by daardie plek. Nou moet ons die regte persoon by die NVG kry. Jy moet nou die regte besluite neem, jy het nie baie tyd nie. Dit is hoe ek met hom sal praat.”

Watson sê verder in die opname hy wil nie adv. Willie Hofmeyr, voormalige hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), betrek nie, ondanks die feit dat “ek weet Willie is ʼn draadsitter en het al dinge vir jou gedoen, meneer die President” – omdat Hofmeyr en voormalige aanklaer Glynnis Breytenbach steeds met mekaar praat.

Agrizzi beweer Watson het later daardie maand met Zuma vergader voordat Zuma Rusland toe gevlieg het. In Junie 2015 het Zuma adv. Shaun Abrahams as die nasionale direkteur van openbare vervolging aangestel. Abrahams het die aanklagte van meineed teen Jiba teruggetrek.

Die kommissie het verdaag vir die week en sal Maandag hervat word wanneer Agrizzi sy getuienis voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Sjoe, die gupta’s is seker bly oor hierdie situasie? Vat ‘n bietjie die aandag van hulle af, doen dit nie?

zoom zoom ·

Ja Swaer.

Is daar iets wat Jy weet wat ons ander nie weet nie.

Zumie ·

Ooooh ons lewe in die Republiek van Korruptistan, skrikwekkend dat privaatpersone vir ‘n staatshoof voorse wie om aan te stel in die vervolgings gesag sodat hulle beskerm is as hulle aangekla word… en dan wonder mens waar kom al die vreemde beslissings van die NVG vandaan.

PJ ·

Nou sè ons agbare president hulle kan nog nie optree oor hierdie bewerings nie ongelooflik. In die goeie ou dae as daar aantuigings teen jou was was jy voor die hof gedaag nou is daar n kommissie wat dit ondersoek wat dan weer dai kommissie ondersoek en dan verdwyn die kommissie en so ook die beskuldigdes net soos die guptas wat n sirkus

Kewertjie ·

So bly al die dinge kom uit, bid al so lank dat alles vir die hele wêreld te sien sal wees, en dat hulle niks sal kan wegsteek nie. Hoop hulle word so vasgedraai in ‘n hoek dat hulle nie daaruit kan beweeg nie. Hulle het ons lieflike land ‘n rowersnes gemaak.

Judge Dredd ·

Die hele spul is korrup – ANC Regering,Maatskappye,polisie, nasionale vervolgings gesag en ons howe maak ook al hoe meer politiese besluite.

Anoniem ·

Laat mens wonder hoeveel soorgelyke maatskappye soos Bosasa is nog daar buite waarvan ons net niks weet nie.

Careltjie ·

O Jene, julle sal vir Angelo mooi moet oppas tot aan die einde van die verhoor. As ek kan aflei, was hy nie te vinde vir al hierdie bedrog nie. Mens maak nie sommer opnames nie. Net as dit vir jou een helse frustrasie raak en jy nie meer anders kan, as om ingesluk te word nie.

Zelda ·

As die hele gedoente en verslag en alles klaar is. Gaan iemand weer appeleer en vra dat alles herondersoek moet word. Want iemamd gaan nie happy wees met dit nie.
Dan vat dit weer MAAAAAAANDE voor iets weer gebeur. Dan kom die selfde goed weer uit. Dan appeleer hulle weer. En so gaan dit aan gaan.

Michelle ·

Nee wat almal geniet die nuus stories daar word goed gesê die publiek se hard werkende geld word gebruik om die miljoene rande se hofsake te betaal wat op die einde van die dag nêrens sal gaan nie. Soos die soos die soos die spreekwoord sal sê fluit fluit my storie is uit

Michael ·

Ek se mos niks sal hiervan kom nie as alles klaar is hou hulle n groot funksie en almal se sakke is vol geld.

Alida ·

As hierdie ou klaar gesing het wat gaan Zondo en CR met die inligting maak. Mens wonder ne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.