Staatskaping: Kommissie hoor oor gunste en ‘monopolie-geld’

Angelo Agrizzi. Foto: Itumeleng English/ANA

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof van die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa, het Donderdag gesê sy voormalige werknemer was op grootskaal betrokke by die betaling van omkoopgeld aan senior regeringsbeamptes om tenders te bekom – tot só ʼn mate dat elke kontrak by die maatskappy besmet was met omkoopgeld.

“Elke enkele kontrak was deurspek met omkoopgeld en korrupsie. Ek sal nie sê hulle is almal as gevolg van korrupsie toegeken nie, maar sodra hulle toegeken is, het die korrupsie ingekruip omdat daar vir iemand gesorg moes word,” het Agrizzi gesê.

Agrizzi het vandag sy getuienis voor die geregtelike ondersoekkommissie na staatskaping voortgesit en nie doekies omgedraai oor wat na bewering agter geslote deure by Bosasa gebeur het nie. Agrizzi het gesê daar is omkoopgeld betaal aan Patrick Gillingham, ʼn beampte by die departement van korrektiewe dienste, wat betrokke was by die toekenning van kontrakte.

Hy het gesê Bosasa het verskeie kluise op sy perseel waarin daar miljoene rande in harde kontant geberg is om vir omkooptransaksies te betaal. Hy sê die plek waar die kontant van hande sou verwissel was gewoonlik ʼn vulstasie naby die Lanseria-lughawe.

Agrizzi het erken hy was medepligtig in die korrupte bedrywighede wat glo by Bosasa plaasgevind het, insluitend die betaling van omkoopgeld omdat hy ook groot bedrae geld ontvang het om stil te bly. Hy sê hy het in ʼn stadium ontnugter geraak oor hierdie reëling omdat hy nie met sulke sakepraktyke saamgestem het nie.

Agrizzi het gesê daar was sekere woorde soos “stuff” wat by Bosasa ʼn sinoniem was vir geld. Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, sou glo gesê het “here is your stuff” wanneer hy vir hulle na bewering geld gegee het om hulle gelukkig te hou.

“Ons is geld gegee om ons lojaliteit te koop. Dit laat jou belangrik voel, maar jy word vasgevang in die kultus. Jy weet van al hierdie kriminele aktiwiteite en jy voel aandadig. Maar dit is ʼn strik. Jou lewenstandaarde verhoog oor al hierdie ‘monopolie-geld’ en teen die tyd dat jy begin kla daaroor, het dit jou klaar meegesleur. As jy mense elke maand omkoopgeld betaal, verstrik jy hulle en kan jy hulle lewenslank beheer,” het Agrizzi gesê.

Angelo Agrizzi. Foto: Itumeleng English/ANA

“Ek het een keer vir mnr. Watson gevra hoekom noem hy omkoopgeld Monopoly-geld. Mnr. Watson het geantwoord hulle wou ʼn monopolie op sake hê, hulle wou tenders monopoliseer, en dit het daaroor gegaan om met geld te speel. Jy speel met mense. Dit is gereeld deur mnr. Watson in die maatskappy genoem. Dit was niks. Kontant was niks.”

Agrizzi het vroeër aan die kommissie ʼn video gewys van Watson wat besig is om byna R1 miljoen te betaal wat hy glo sou gebruik as omkoopgeld om tenders te bekom. In die ses minuut lange video kan Watson gesien word saam met Johannes Gumede, sy voormalige sakevennoot, en Papa Leshabane, uitvoerende direkteur, wat na bewering geld tel in ʼn instapkluis by Bosasa se kantoor waar vertroulike dokumente ook gestoor word.

Bosasa word betrek by korrupsie en word daarvan beskuldig dat die maatskappy gunste en donasies aan invloedryke politici gegee het in ruil vir regeringstenders by Sasol, ACSA, die Poskantoor en die departement van korrektiewe dienste.

Adv. Paul Pretorius, die getuienisleier, het gesê diegene wat deur Agrizzi se getuienis geïmpliseer is, is in kennis gestel en sal die geleentheid gegee word om te reageer. Die kommissie het daarna verdaag vir middagete. Agrizzi het ná middagete sy getuienis voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Genieve ·

Hys darem eerlik om te se hy het ook van die omkoopgeld gekry wat ook sy werk gekos het ai hoe meer jy het hoe meer wil jy net he grootmense wat sulke dade doen wat se jy vir jou gesin??? of dink jy glat ni na hulle in so geval nie staan maar oophand as dit jou kant toe kom.

Koos de Meyer. ·

Die persoon se lewe gaan nou in gevaar wees om dat hy met die hele besigheid uitkom. Hoe meer dae, hoem dinge kom daar uit.

Johann cb ·

Dit kos moed van jou oortuiging om teen jou eie mense te getuig! Ek hoop net dat hy soos goud opgepas sal word! Dankie vir hierdie positiewe stap teen korrupsie!

Alida ·

Niemand kan nou voordeel trek uit sy dood nie. Alles is klaar op die lappe. Hy en sy gesin kan net stil stil verhuis.

Tinus ·

So word die armes se belasting deur korruptes vermors. Vryheidsbewegings bring net voorspoed en rykdom vir die klein groepie in beheer. Die res leef van beloftes !

Anoniem ·

Afrikaanse les vandag is.”Die deler is so goed soos die steler”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.