Staatskaping: Kommissie se mandaat is erkenning dat staatsmasjien faal

Pres. Jacob Zuma (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat pres. Jacob Zuma se verklaring rakende die aanwysing van ’n kommissie van ondersoek na staatskaping ’n erkenning deur die president is dat die staatsmasjien faal. AfriForum meen dat dít die rede is waarom Zuma die mandaat so wyd maak en dat só ’n wye mandaat nooit [voormalige openbare beskermer] Thuli Madonsela se bedoeling was nie.

Dit volg ná die president Dinsdagaand ’n verklaring uitgereik het waarin hy aankondig dat hoofregter Mogoeng Mogoeng vir Raymond Zondo, adjunkhoofregter, aangewys het om dié kommissie te lei. Luidens die verklaring sê Zuma “die kommissie moet streef om nie net die handeling te ontbloot van sommige nie, maar almal wat ons staat of gedeeltes daarvan kwesbaar gelaat het vir beheer deur magte buiten die publiek waarvoor die regering verkies is. Geen area van korrupsie of boosdoener moet die omvang van hierdie kommissie van ondersoek gespaar word nie”.

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê indien die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) hul werk gedoen het, sou dit nie nodig gewees het om die kommissie se mandaat so wyd te maak nie. “Dit kom daarop neer dat een regter nou na alle korrupsie in die land moet kyk. AfriForum weet reeds ’n geruime tyd dat daar mense is wat teen vervolging gevrywaar word. Juis om hierdie rede het die organisasie strukture in plek gestel om mense aanspreeklik te hou,” sê Taute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PJC ·

Dit is net verstommend hoeveel jakkalsdraaie JZ kan maak en dan wegkom daarmee. Duidelik het hy ook ń uitgeslape prokureurtjie wat vir hom voorsê hoe om telkens die wet te omseil. Dit laat my terugdink aan oorlede Eugene Tereblanche se opmerking oor die skelm prokureurtjie van Vereeniging.

Dafer ·

Afri Forum, ASSEBLIEF, almal WEET dat die staatsmasjien faal! Doen asseblief nou iets daaromtrent en los die voorspel uit!

Sarel Strydom ·

Die Mandaat is utgebrei sodat klein ligte ouens opgespoor en die straf sal vat om die aandag weg te lei van die groot koppe.

Wors Rol ·

Ag asseblief, hulle ,ANC,het nog nooit erken dat enigiets gefaal het nie. Alle falings en mislukkings is altyd iets of iemand anders se skuld. En privaatvervolgings gaan ook niks bereik, die NVG gaan of nie die sertifikaat uitreik wat bepaal hulle gaan nie vervolg nie, of hulle gaan beweer hulle gaan nou self vervolg en eenvoudig die vervolgde onskuldig laat bevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.