Staatskaping: Kommissie wag nóg vir opdrag

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die geregtelike kommissie wat staatskaping ondersoek, het gesê hoewel hy al “sedert gister” gereed is om die ondersoek te begin, wag hy nog vir die kommissie-opdrag van pres. Jacob Zuma.

“Ons wag nog vir die opdrag om deur die presidensie afgehandel te word. Daarna moet die regulasies eers in die Staatskoerant geplaas word om die kommissie in staat te stel om personeel aan te stel,” het Zondo Dinsdag aan verslaggewers in Midrand gesê.

“Ek betwyfel dit geensins dat die presidensie die dringendheid van hierdie kwessie besef en die aansoek so spoedig moontlik sal afhandel.”

Zondo het gesê die bewerings oor staatskaping is van ʼn ernstige aard, veral by staatsinstellings. “Enige plundery of korrupsie by staatsinstellings beroof Suid-Afrika van die geld wat vir sy inwoners bedoel is.”

Zuma het Zondo op 9 Januarie, op aanbeveling van hoofregter Mogoeng Mogoeng, as voorsitter van die kommissie aangewys.

Zuma het op 13 Desember ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het. Die hof het toe ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek.

Dit kom nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te verkry wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis.

Dit is nog nie duidelik wanneer die kommissie se opdrag ingedien gaan word en wat die begroting daarvoor gaan wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

U gaan nog baie lank wag Regter. JZ is nie haastig met enigiets nie.

zoom zoom ·

JZ is besig om nog planne te beraam om vir tyd te speel. Hy gaan vra vir die selfde voordele as sy broer Mugabe

Eddie ·

Zoempie is nie haastig nie , maar beslis besig om sy eendjies in ‘n ry te kry sodat daar soveel moontlik van die skuiwer gate benut kan word !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.