Staatskaping: ‘Lynne Brown het nooit haar weergawe gestel’

Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Lynne Brown, voormalige minister van openbare ondernemings, het Donderdag gehoor adjunkhoofregter Raymond Zondo het haar aansoek om die voormalige adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas, te kruisondervra van die hand gewys aangesien sy nie haar eie weergawe gestel het nie.

“Lynne Brown se aansoek is van die hand gewys. Sy het nie haar weergawe gestel nie. Dit staan haar vry om later nog ʼn aansoek te bring as die voorwaardes nagekom word,” het Zondo gesê.

Zondo het adv. Simmy Lebala, vir Brown, herhaaldelik gemaan om Brown se weergawe duidelik te maak ten opsigte van Jonas se getuienis.

Jonas het aan die kommissie gesê dat Ajay Gupta teenoor hom gespog het dat hulle saam met Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, en Brown werk.

Jonas is glo na die Guptas se Saxonwold-herehuis ontbied waar Ajay glo vir hom die pos van minister van finansies aangebied het en omkoopgeld van R600 miljoen.

Lebala kon nie Brown se direkte antwoord aan Jonas vanuit haar beëdigde verklaring uitwys nie. Hy het toe vir Zondo gevra om na die “konteks” te luister en voortgegaan om Jonas se verklaring voor te lees.

Zondo wou egter niks hoor nie.

“Maar voor die konteks moet daar tog ʼn weergawe wees mnr. Lebala, waar is haar weergawe? As jy dit nie kan antwoord nie gaan niks wat jy sê help nie. Enigiemand wat wil kruisondervra moet hul weergawe eers stel … ’n antwoord teen die aantygings,” het Zondo gesê voordat hy Lebala ingelig het hy het net twee minute oor. Lebala het toe toegegee dat Brown nie Jonas se aantygings teen haar ontken nie.

Lebala het geantwoord dat Brown nêrens spesifiek noem dat sy Jonas se aantygings ontken nie. “Nêrens sê sy ek sal demonstreer dat wat mnr. Jonas sê nie waar is nie. Daarom wou ons in die konteks in gaan en holisties na haar kyk, voorsitter.”

Brown is gewikkel in aantygings van staatskaping en word daarvan beskuldig dat sy die omstrede Gupta-familie se toegang tot staatsinstellings onder haar toesig moontlik gemaak het.

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het Brown in Februarie skuldig bevind aan die misleiding van die parlement in haar bewering dat daar geen ander kontrakte tussen Eskom en die Gupta-verwante Trillian gesluit is nie.

Mkhwebane het haar skuldig bevind aan oortreding van die bepalings van die uitvoerende etiese kodes van die Grondwet. Sy het pres. Cyril Ramaphosa opdrag gegee om binne 14 dae gepaste stappe teen Brown te doen.

Brown is afgedank tydens ʼn kabinetskommeling in Februarie en sy het kort daarná as LP bedank.

Die verhoor sal volgende week hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ander Annie ·

Sy was deel van die Zuptagate. Doen wat reg is Me Brown – gaan getuig. Dis maar moeilik nê.

alida ·

Korrektiewe dienste sal moet begin naamplaatjies maak en nommers toeken. Wat ‘n blye dag sal dit nie wees (as dit ooit gaan gebeur nie). !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.