Staatskaping: Manyi gooi Williams onder die bus

Die sakeman Mzwanele Jimmy Manyi, voormalige hoof van die GCIS, verlaat die verhoor nadat hy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping gegee het. Foto: Itumeleng English/ANA

Die sakeman Mzwanele Jimmy Manyi het Woensdag uitgevaar teen Phumla Williams, waarnemende hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), se getuienis teen hom voor die kommissie van ondersoek na staatskaping.

Manyi, ʼn voormalige hoof van die GCIS, beweer hy het gedurende sy tyd by die departement ontslae geraak van korrupsie waarvan Williams deel was. Manyi was veronderstel om eers later vandeesmaand voor die kommissie te verskyn, maar het by die verhoor opgedaag en daarop aangedring dat hy kan getuig oor wat by die GCIS gebeur het voor hy daar aangekom het.

Manyi was uitvoerende hoof van die GCIS van 2011 tot 2012.

Hy het aan die kommissie gesê daar was iets “verskriklik verkeerd” by die GCIS se verkrygingsafdeling. Hy sê hy stem saam met Williams se getuienis dat hy “dramatiese veranderinge” by die GCIS aangebring het.

“Dit was my plig as rekenpligtige amptenaar om uitvoering te gee aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, want ek is die een wat uiteindelik aanspreeklik gehou sou word. Ja, ek het die bodbeoordelingskomitee verander. Ek het vasgestel iets het erg skeefgeloop in die verkrygingsprosesse. Daar was ʼn onreëlmatige aanstelling van diensverskaffers – een het die regering minstens R7 miljoen gekos. Die algehele projek was R26 miljoen werd,” het hy gesê.

Manyi sê hy het samewerking tussen lede van die bodbeoordelingskomitee en mense wat verantwoordelik was vir verkryging agtergekom.

“Hulle het ʼn kenmerkende manier gehad om dit te doen. Dit was ʼn mini-VBS. Die situasie was onuithoudbaar. Daar is geen manier dat ʼn rekenpligtige amptenaar dit so sou los nie. Ek het aan die interne hoofouditeur opdrag gegee om dit by die owerhede en die ouditeur-generaal aan te meld. Daar het niks van gekom nie.”

Hy sê die diensverskaffer was gekontrakteer om werk vir Statistieke SA se sensusveldtog in 2011 te doen. Manyi sê daar is toe met die statistikus-generaal ooreengekom om die nasionale tesourie te vra om ʼn ondersoek van stapel te stuur.

“Ek moet beklemtoon dat al hierdie rampspoed gebeur het in die teenwoordigheid en met die deelname van die mense wat me. Williams opgehemel het as bekwaam en wat aan al die vereistes voldoen het. Maar ondanks die [lofprysinge] was daar baie korrupsie en bedrog wat gebeur het met baie van hulle daarby geïmpliseer … Ek moes die bodbeoordelingskomitee ontbind.”

Hy het daarna ʼn verslag voorgelê wat in 2012 deur die nasionale tesourie bekendgestel is. In dié verslag is bevind die diensverskaffer se agtergrond is nooit nagegaan voor die GCIS hulle aangestel het nie.

“Op 7 Januarie was daar ʼn betalingskennisgewing om die R26 miljoen-projek goed te keur. Die persoon wat dit onderteken het, was Williams. Die tesourie het bevind sy is nie gedelegeer om dit te doen nie. Dit is die goed wat gebeur het voor ek daar aangekom het,” het hy gesê.

“Al hierdie dinge is in Williams se ryk gedoen. Daar was geen wigte en teenwigte nie. Elke reël wat verbreek kon word, is daar verbreek. Dit was ʼn reusekrisis.”

Die sakeman Mzwanele Jimmy Manyi, voormalige hoof van die GCIS, verlaat die verhoor nadat hy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer het. Foto: Itumeleng English/ANA

Manyi het verder beweer enige kontrak groter as R1 miljoen moes eers deur die tesourie goedgekeur word, en daarom is die kontrak verdeel in kleiner kontrakte wat elk minder as R1 miljoen was sodat dit deur middel van verskeie fakture geëis kon word.

Hy het nog ʼn geval genoem vir StatsSA waar minstens R64 miljoen betaal is, maar geen werk is deur die drie diensverskaffers gedoen nie.

“R64 miljoen is betaal vir werk wat nooit gedoen is nie. Dit is grootskaalse korrupsie en staatskaping. Met VBS was almal [wat onder verdenking is] geleerd, maar korrupsie het voortgeduur. Hierdie verslag is in 2012 beskikbaar gestel, maar teen daardie tyd het ek die regering verlaat en kon dus niks doen nie, want ek was buite die regering,” het Manyi gesê.

Hy het gesê Williams was tien jaar lank ʼn lid van die bodbeoordelingskomitee wat hy meen “verkeerd was, want dit stel mense bloot aan korrupsie”.

Hy het ook na die tesourie gekap en gesê hulle het versuim om die oortreders aan die pen te laat ry.

“Ek was ietwat teleurgesteld deur die tesourie [se versuim] om die R64 miljoen terug te kry. Hulle sê in die verslag hulle het probeer om die verskaffer te vind, maar die verskaffer het nie op hul oproepe gereageer nie. En dit is net so gelos. R64 miljoen? Die tesourie het ʼn verpligting volgens die Grondwet om seker te maak die land se finansies is in orde.”

Manyi sê hy het by die GCIS aangesluit nadat die voormalige minister in die presidensie, wyle Collins Chabane, hom die opsie gegee het om te kies tussen uitvoerende hoof van die GCIS en bedryfshoof van ʼn hotel in Midrand.

Hy het GCIS gekies en by Themba Maseko oorgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Hoekom wil dit lyk of Jimmy die ou is wat almal besluit het: kom ons pak alles op hom. En nou sê die bewyse anders.

Alida ·

Het hulle al begin tronke bou en oorpakke maak. Dit sal nice wees om al daai snyerspakke met overalls te vervang.

Gert van Wierdapark ·

“jimmi come lately”. Die ou is gladder as n paling! Hy het mos die Guptas se Tv stasie en New Age “gekoop” vir R450 miljoen, maar die oefening om hul geld uit die land te kry en die een-ogige Zuma boodskap te boost, het nie lank gehou nie. Hy en die afgedankte Sars-baas is voels van eenderse vere = uitgeslape, parmantig eiewys en nie gepla met wat goed is vir SA of nie. Hofskoene is altyd byderhand om n sakie hof toe te sleep. Nota: onthou Jimmy het ongevraagd by die Kommissie opgedaag om me Williams se aantygings ens. aan te vat en te vertel hoe goed hy eintlik die lysels vasgehou en bestuur het.

Johan H. ·

Hulle is seepglad. Jimmie. Hulundy.,ou gaba. Molefe,mbete…Hier is nie genoeg spasie nie

Henk du Toit ·

Haha lekker peul die wurms nou uit. Wys jou net dat die mensdom nog nie alles gesen het nie. Uit Afrika altyd iets nuuts. Wie sou nou kon dink dat ‘n paling in ‘n emmer snot so kan voorbrand maak? dit alles nog sonder ‘n vuurhoutjie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.