Staatskaping: ‘Moyane wil sy loopbaan rehabiliteer’

Tom Moyane en adv. Eric Mabuza by die sitting van die Zondo-kommissie van ondersoek. Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency

Die Zondo-kommissie van ondersoek het Woensdag gehoor Tom Moyane, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), wil die staatskapingsondersoek gebruik om “homself en sy loopbaanvooruitsigte te rehabiliteer”.

Adv. Michelle le Roux het Woensdag Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, verteenwoordig teen Moyane se aansoek om verlof om Gordhan te kruisondervra. Le Roux het aangevoer Moyane het versuim om die presiese aspekte in Gordhan se getuienis waarmee hy nie saamstem nie en die redes daarvoor in sy aansoek uiteen te sit.

“Totdat ons verstaan wat die doel is van ʼn kruisondervraging voor u moet hierdie aansoek in sy geheel geweier word. My geleerde kollega [adv. Dali Mpofu] aanvaar daar is nie outomaties ʼn reg tot hierdie kruisondervraging nie en dat dit onderworpe is aan u diskresie. Wat hy versuim het om te takel is die toets wat die regulasies en die reëls daarstel vir u om daardie diskresie uit te voer,” het Le Roux gesê.

Le Roux het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê Moyane wil weer sy narratief oor ʼn “geheime eenheid” binne die SAID opper en probeer om sy verwydering uit sy amp na aanleiding van die Nugent-kommissie se verdoemende verslag om te keer.

“Is dit nodig en bevorder dit die kommissie se werk as dit afdwaal na die kwessies genoem in mnr. Moyane se aansoek? Ons meen dit sal nie. Hy wil bloot die ‘geheime eenheid’-narratief weer aanvoer en sy verwydering as SAID-kommissaris omkeer. Die taalgebruik in sy eerste verklaring is nogal ekstreem indien nie histeries nie. Hy sê mnr. Gordhan het ʼn vendetta teen hom en dat dit die minister se lewenstaak is om hom te verwyder. Natuurlik, soos die minister ook getuig het, is sy lewenstaak om te strewe na ʼn nie-rassige, nie-seksistiese Suid-Afrika.”

Moyane is deur pres. Cyril Ramaphosa in die pad gesteek na aanleiding van aanbevelings deur ʼn kommissie van ondersoek na bestuursprobleme by die SAID. Die kommissie is deur afgetrede regter Robert Nugent gelei.

Dié ondersoek het bevind Moyane was roekeloos in sy bestuur van die inkomstediens en het aanbeveel die nasionale direkteur van openbare vervolging moet ondersoek instel of Moyane nie op aanklag van bedrog vervolg moet word rakende sy valse vertoë wat hy aan Bain & Co gemaak het om ʼn nuwe sakeplan vir die SAID te laat optrek nie.

Moyane het verlede maand nog ʼn terugslag gely in sy poging om na die inkomstediens terug te keer toe die konstitusionele hof sy aansoek om verlof tot appèl geweier het. Moyane wou appelleer teen ʼn vorige hofbeslissing wat sy poging om sy afdanking te betwis ter syde gestel het.

Le Roux het aan die Zondo-kommissie gesê die kwessie wat Moyane nou weer wil aanroer is as gevolg van die voltooide Nugent-ondersoek. Sy meen Moyane se aansoek kom dus neer op ʼn versoek om die Nugent-ondersoek “te hersien en oor te doen”.

“Nugent het gekyk na hierdie kwessie oor ʼn geheime eenheid en het tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie so iets is nie. Daar was geen gronde om te sê ʼn onwettige eenheid is by die SAID bedryf nie.”

Zondo het egter van Le Roux verskil oor die feit dat Moyane wil hê die Zondo-kommissie moet die Nugent-ondersoek oordoen. “Om dit so te stel is dalk nie akkuraat nie. Wat meer akkuraat is, is dat ons kyk na dieselfde kwessies wat regter Nugent na gekyk het … sonder om dit te etiketteer as oordoen of hersien,” het Zondo gesê.

Le Roux het hierop geantwoord dat die Zondo-kommissie versoek word om tot ʼn teenoorgestelde bevinding as die Nugent-kommissie te kom. “Julle word gevra om te bevind daar wás ʼn geheime eenheid, terwyl Nugent bevind het daar was nie so onwettige eenheid by die SAID nie. Kom ons aanvaar julle doen dit en kom tot ʼn ander gevolgtrekking as hy [Nugent] en dien dit by die president in. Wat moet die president doen met twee teenstrydige verslae van twee ondersoeke wat in verskillende rigtings gaan?” het Le Roux gevra.

Sy het bygevoeg dit is ook nie in die Zondo-kommissie se belang om aandag te skenk aan Moyane se bewering dat Gordhan rassisties is nie. “Kom ons sê u besluit om voort te gaan hiermee en mnr. Moyane se regspan kruisondervra minister Gordhan oor sy afkeer in die voormalige kommissaris. Hoe gaan dit u help om u mandaat uit te voer in terme van jul verwysingsraamwerk? Dit gaan nie jul werk enigsins verder neem nie. Met miljoene rande wat bestee is en die beperkte tyd wat beskikbaar is, moet dit nie gebruik word om mnr. Moyane se gevoelens te troos nie.”

Uitspraak oor Moyane se aansoek is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

David ·

Ek dink die NVG moet hom “help” sy loopbaan rehabiliteer – agter tralies !

Robert ·

Ek stem maar hy moet maar lewenslank daar bly dit gaan so lank vat om hom te rehabiliteer

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis terrible as jy afgeval het van die soustrein af, en op moedverloor se stasie staan…..met droë kaviaar op jou bord….vir die heel laaste maal…

Avra ·

Hy het soveel mense se lewens se lewens verwoes,. Waaroor kla hy nou?

Nelia van Zyl ·

Wat is hierdie man se probleem? Waarom kry hy nie die boodskap nie?? Gáán net aan!!!

fred ·

moenie sy prokureur Mpofu vergeet nie…hy was die vorige CEO van die SABC….suspended and given n 14 miljoen rand as “golden handshake”?????lekker om onbekwaam te wees en hiervoor beloon te word…maar ja dit is nou die nuwe kultuur by die ANC beheerde instansies….en hulle kieslys bewys dit weer eens.

PPP ·

Mense julle vertsaan nie sy sakke is nog nie genoeg gevul met jou belasting geld nie.

Maljan ·

Die rehabilitasie vind mos plaas aa mens n oranje pak dra. Dis wat gebeur as kwaaddoeners net in die pad geatyeek wors nie tor sie leyyer van sie wet vervolg wors nie. Dan wil hulle tehabiliteer in die pos waar hulle oortree het, in n armani pak, noe n oranje een nie. Ander wil blikke wurms oopmaak. Openbare afpersing! Maar word hy aangekla? O nee. Mnr het n sekreraris wat sy tweets doen.

Gert van Wierdapark ·

Vir iemand wat basies ekonomiese sabotasie by SARS beplan/
help pleeg het, is dit Onverskoonbaar dat die swerkater nog los rondloop – watwou nog sy Loop-Baan reha-belleer!!!

BlinkStephaans ·

Ag ou tommie ek weetnie… dink nie daar is n reabilitasie program wat sal hond haaraf maak met jou en jou mede benoemdes se verslawing. Julle is nie reabiliteerbaar. Die heel eerste ding wat jy moet doen om te begin reabiliteer is om self te erken dat jy ñ probleem het… en hoe gaan jy nou dit regkry?

Erich ·

Hy moet nie bekommerd wees nie. Na die verkiesing sal hy nog n beter pos kry.

Hendrik ·

En so hoor ek wolf wat skaapwagter gemaak is wil homself ook nou rehabiliteer. Nou wonder ek hoe haal mens die skaap uit die wolf uit, dit is nou as dit in die wolf se natuur is.

Ouma ·

Spyt kom te laat..♫ kom te laat♫ dit kom om jou seer te maak♫♪♫ Baby dan sal jy dit mis….♫♪♫

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.