Die openbare beskermer (OB) sal pres. Jacob Zuma se hofaansoek om die sogenaamde staatskapingverslag en die aanbevelings daarin te laat hersien, teenstaan.
Adv. Busisiwe Mkhwebane het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria aangekondig dat sy Zuma se aansoek sal teenstaan. “Oor die staatskapingverslag het ek voorheen gesê ek kry regsadvies oor die saak. Ja, ons sal [Zuma se] hofaansoek teenstaan,” het Mkhwebane gesê.
“Ek dink julle weet ons is nog besig om al die nodige bewyse byeen te bring. Die bewyse wat die president benodig, sal beskikbaar gestel word in ooreenstemming met die reëls. Ons finaliseer nog die handtekening van die onderskeie regspanne oor die vertroulikheidsklousule. So, dit is waar ons nou is.”
Die staatskapingverslag is deur Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, saamgestel. Madonsela het bevind daar is aanduidings dat die omstrede Gupta-familie van die president se besluite wou beïnvloed en dat hulle, deur noue bande met onder andere die voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe, winsgewende kontrakte met die staat bekom het. Zuma het geweier om op Madonsela se vrae te reageer toe sy ʼn onderhoud met hom wou voer tydens haar ondersoek.
Zuma het verlede jaar die hooggeregshof in Pretoria genader om te versoek dat die staatskapingverslag en die aanbevelings daarin hersien moet word. In die hofaansoek voer Zuma aan Madonsela se aanbevelings is teenstrydig met die wet en die Grondwet, en oortree die beginsel van die skeiding van magte.
Zuma se regspan meen dit was ongrondwetlik van Madonsela om Zuma te beveel om ʼn kommissie van ondersoek op die been te bring en te bepaal dat dit deur iemand gelei moet word wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangewys is, aangesien hierdie magte uitsluitlik by die president lê.
Sjoe maar nou is sy braaf of gaan sy saam dubai toe om zuma se hand vas te hou
Hoe kan jy `n kommisie aanstel as jy self ondersoek word.Daar moet mos `n onafhanklike persoon aangestel word.Nou hoe verstaan Zuma dit nie?
Kul jou hier en kul jou daar en siedaar…jaaaaaaare se uitstel en afstel en tyd en NOG geld mors om nie noodwendig niks te doen nie, maar ook nie juis te veel of rerig iets nie, net genoeg om n rookskerm te skep vir al die Zumaikies om weg te stap met vol beursies en leë gewetes!
Vervolg hom 700+ aanklagtes regverdig vervolging of wag hulle vir meer.
interessante optrede van iemand wat met haar aanstelling beskou is as Zuma se skoothondjie… Of dis net n rookskerm om Zuma se opposisie te wys hoe “onafhanklik” die OB is, net om later weer iets te doen wat hom verder beskerm.
Dit is n klug. Sy sal vir zuma beskerm tot die dood. Groot sirkus.
Ñ President is nie verhewe bo ñ land se wette nie.
Kan dit wees dat die anc se binnekring alreeds teen zuma gedraai het? Is hierdie een van die eerste dudelike bewyse daarvan? Kyk, of ons dit wil erken of nie, die anc is ‘n magtige organisasie, maar as die topbestuur teen jou besluit het, is jy uit. Voorbeeld? Pallo Jordan wat gelieg het oor sy doktorsgraad. Zuma rig nou meer skade aan aan die anc se beeld as wat hulle kan bekostig, en hulle begin nou teen hom draai. Yay!
zahn, pallo Jordan was net nie swart genoeg nie. Hoeveel ander woeker doodluiters voort nadat hulle leuens oor hulle “kwalifikasies” aan die lig gekom het?
SNOEFIE, Ek weet nie wat jy bedoel met Pallo Jordan was nie swart genoeg nie. Pigmentasie of sy denke. Hy het beweer dat hy studeer en sy doktorsgraad by die Universiteit van Wisconsin in Madison (Wisconsin) behaal het maar is uitgevang toe hy vergeet het van n paar ander Suid-Afrikaners wat terselfdertyd ook daar was. Of hy die ongeregtighede van Apartheid beleef het en dit die rede vir sy afkeur van wittes was weet ek nie want hulle het daar geland toe hy nog baie jonk was .