Staatskaping-ondersoek begin

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Die sitting van die geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings dat die Suid-Afrikaanse regering en sy entiteite gekaap is, sal vandag in Johannesburg begin.

Die voortvlugtende Gupta-familie, wat sedertdien die land verlaat het nadat bewerings aan die lig gekom het van korrupsie en die plundering van miljarde rande deur onwettige kontrakte, staan sentraal in hierdie ondersoek. Die omvang van die familie se invloed oor die staat is uiteengesit in e-posse wat van die Guptas se rekenaarbedieners gelek is, die sogenaamde “GuptaLeaks”.

Die Gupta-broers, Atul, Ajay en Rajesh, het ʼn hegte verhouding met voormalige president Jacob Zuma. Die familie het Zuma se seun, Duduzane, aangestel as ʼn direkteur van een van die maatskappye in die familie se besit, Sahara Computers. Duduzane se tweelingsuster, Duduzile, het later ook ʼn direkteur by Sahara geword.

Daar word beweer dat die Gupta-broers vanuit hul herehuis in Saxonwold besluit het wie as ministers aangestel moet word en na bewering ministers en hoofde van staatsinstansies ontbied het om hulle opdragte te gee. Talle staatsinstansies, insluitend Eskom, Transnet, Denel en die SAUK, het na bewering die knie gebuig onder die Guptas se invloed en het glo miljoene rande spandeer om by die familie se mediamaatskappye, die ANN7-nuuskanaal en die koerant The New Age te adverteer.

Talle Suid-Afrikaners het vir die eerste keer bewus geword van die Gupta-familie se mag en omvattende invloed toe hulle hul privaatvliegtuig in 2013 by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland het. Trougaste van Indië wat op pad was na ʼn uitspattige familietroue by Sun City, was aan boord die vliegtuig.

Die “baie belangrike gaste” is deur beskermingsbeamptes van die SAPD vergesel en in luukse motors na die troue toe aangery. Gaste by die troue het verskeie ANC-leiers en kabinetsministers ingesluit. Volgens die gelekte e-posse het Suid-Afrikaanse belastingbetalers glo opgedok vir die R30 miljoen onkoste van die troue.

Ná maande se regsaksie deur Zuma om te probeer verhoed dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, haar staatskapingverslag bekendmaak, het die regsgeding in November 2016 tot ʼn einde gekom toe die hooggeregshof beveel het dat die langverwagte verslag bekendgemaak word.

Zuma het aangevoer hy is nooit genoeg tyd gegee om op Madonsela se vrae oor die Guptas se beweerde onbehoorlike invloed in sy besluite te reageer nie. Madonsela se verdoemende verslag het regeringsbeamptes, kabinetsministers en die hoofde van staatsentiteite almal by die staatskapingbewerings geïmpliseer. Die verslag het onder meer getoon hoe die Guptas R6 miljard in hul sak gesteek het deur twyfelagtige staatskontrakte en glo beplan het om dié inkomste tot R8 miljard te verhoog.

Daar is ook in die verslag onthul dat die familie vir Mcebisi Jonas, die voormalige adjunkminister van finansies, glo R600 miljoen omkoopgeld aangebied het om die posisie van minister van finansies te aanvaar.

Woedende opposisiepartye het veldtogte teen die Guptas van stapel gestuur en strafregtelike sake aanhangig gemaak teen die mense wat in Madonsela se verslag genoem word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek, het die hooggeregshof genader om die geallokeerde tydsraamwerk van 180 dae na twee jaar te laat verleng om die kommissie genoeg tyd te gee om sy werk af te handel. Die hof het vroeër vandeesmaand dié versoek toegestaan.

Zondo sal Maandag die verrigtinge open waarna adv. Paul Pretorius, leier van die regspan, ʼn verklaring sal maak. Adv. Thandi Norman sal ook voorleggings aan die kommissie doen.

Verskeie getuies sal in die eerste week voor die kommissie verskyn om hul sake te stel. Dit sluit in Jonas; Themba Maseko, voormalige regeringswoordvoerder; Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP; en Phumla Williams, die huidige regeringswoordvoerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa B ·

Die lewe is lekker man lekker. Sorg dat jy vriende het op die regte plekke en jou bankrekening is vol.

Hanna Hoekom ·

Hoop ook so Vytjie! Perdemis is nogals nie vye nie…

C ·

Mooi man. Kan nie wag vir hierdie Zupta Sage om te begin nie. Hier gaan nog baie kakkerlakke uit die blink uit klim. Laat die aksie begin, my Coke, popcorn en smarties staan gereed. LOL!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.