Staatskaping: Ramaphosa wysig reëls van ondersoek

Pres. Cyril Rampahosa. Foto: Cindy Waxa/ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het die reëls van die kommissie van ondersoek na staatskaping gewysig om getuienisse in die ondersoek toelaatbaar te maak in strafregtelike verrigtinge, met uitsondering van waar ʼn getuie hom of haar mag inkrimineer.

Die wysiging van regulasie 8(2) van die kommissieregulasies, wat deur oudpres. Jacob Zuma aangekondig is, is gemaak ná aansoeke deur die Helen Suzman-stigting en AfriForum by die konstitusionele hof ingedien is.

Die wysiging is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer.

AfriForum het Vrydag gesê die burgerregte-organisasie verwelkom die gewysigde staatskapingregulasies en bestempel dit as ’n oorwinning vir diegene wat geregtigheid wil laat seëvier in die lang, uitgerekte staatskapingsage.

“Dié vorige regulasie het bepaal dat geen getuienis wat voor die staatskapingkommissie gelewer word in strafverrigtinge toelaatbaar sou wees nie,” het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.

“AfriForum het in sy aansoek aangevoer dat Zuma die regulasies op só ’n manier opgestel het omdat hy homself van vervolging wou vrywaar. Die burgerregte-organisasie het op grond daarvan ’n tersydestellingsaansoek by die konstitusionele hof ingedien.”

Spies het gesê die wysiging van dié regulasie deur Ramaphosa maak verdere regsoptrede deur AfriForum nou onnodig, aangesien die gewysigde regulasie daarvoor voorsiening maak dat getuienis wat voor die kommissie dien wel in latere strafverrigtinge as getuienis kan dien, tensy ’n getuie hom- of haarself inkrimineer.

Spies het dié verwikkeling verwelkom as ’n oorwinning vir AfriForum en almal wat wil sien dat Zuma vervolg word “vir sy aandeel die grootskaalse plundering van staatsbates deur die Gupta-familie”.

Zuma het adjunkhoofregter Raymond Zondo op 9 Januarie, op aanbeveling van hoofregter Mogoeng Mogoeng, as voorsitter van die kommissie van ondersoek aangewys.

Zuma het op 13 Desember ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het. Die hof het toe ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek.

Dit volg nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te verkry wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Wie is die Guptas? Wie en van waar is hulle oorspronklik? Eintlik weet ons niks van hulle nie behalwe waar amateurs ‘n BMW met 2 of 3 passasiers kaap, kaap hulle sommer ‘n land met 60 miljoen passasiers. Die eerste wat ons van hulle gehoor het was hulle reeds skatryk met groot invloed in die donker wêreld van die regering. En dit lyk asof Indië ook eers na die poging om Suid Afrika te kaap, nuuskierig geword het oor hulle Al wat ons van hulle weet is ‘n paar herhalende televisie fotos en koerantfotos. En dat hulle vanaf Indië is. Maar wie hulle eintlik is en en vanuit watter hool, weet die land se mense nie. Hulle moes egter vanuit Dubai of Indië reeds groot invloed in die regering gehad het. Groot genoeg om na Suid Afrika te verhuis.

Gerrit ·

Ek het nie van die vorige presedent gehou nie , ek was optimisties toe die een oorvat maar nou kan ek sien ek was verkeerd hy is miskien goed as n beee opertunis maar n swak leier.

Alida ·

Hulle het Zuma se posisie en bokwagter onkunde gebruik om te kry wat hulle wil. Dit slaan mens egter dronk dat CR wat n geleerde man en toe adj pres was nie ingegryp het nie. Ek probeer nog daai een uitsorteer.

Elle ·

Cherokee, jammer as dit nie relevant klink op die spesifieke onderwerp/ forum nie.
Het jy die onlangse berig/kommentaar gevolg oor die (steeds) vermisde vrou wat in vloedwater meegesleur is 2016?
Scroll bietjie verlangs terug op die kommentaar van vandag en gister.
Mense het jou mening gevra omtrent die aangeleentheid…
Klink my hult jou verklaar as die Patriarg van MaroelaM -Lesers!

Cherokee ·

Elle, dit was ‘n onverwagse kompliment wat ek nie raak gelees het nie. Dankie dat jy dit uitwys. Baie dikwels volg ek nie eens op met kommentare self geplaas. En dankie vir die kompliment:-)

TLC ·

Nou is dit n kwessie van ons weet wat ons gehad het en ons vind nou uit wat ons ‘nie’ het nie

Rynhardt ·

Verstommend hoe Afriforum altyd die reels verwelkom wat die ondersoek na staatskaping wysig.Eerstens die Anc het die SA ekonomie opsetlik vernietig en pres.Ramaphosa was deel van Zuma se kabinet.Tweedens Ramaphosa en kie.het gereeld gekeer in parlement dat Zuma ontslaan word!Zuma en Anc(Ramaphosa ingesluit)is skuldig aan staatskaping met Guptas.Die Anc regering wat SA tans het is n onwettige regering terwyl sy eie ondersteuners dit nie eens weet nie.Ramaposa weet net hoe om publiek te speel met ondersoek.Die spore van die grootmenere in Anc is lankal doodgevee met staatskaping!

Lerato ·

Gerrit
Ramaphosa het meer vyande binne die ANC, as buite. Om van Zuma se wortels ontslae te raak, is nie n maklike taak nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.