Staatskaping: Regeringswoordvoerder glo binne ʼn dag vervang

Phumla Williams getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Nokuthula Mbatha/ANA

Phumla Williams, die waarnemende uitvoerende hoof van die regering se kommunikasiediens (GCIS), het Vrydag aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê haar voormalige bestuurshoof, Themba Maseko, se verwydering uit sy amp op kort kennisgewing het verwoestende gevolge vir die GCIS ingehou.

Williams, wie se permanente posisie adjunk-direkteur-generaal van die GCIS is, het gesê sy het nog nooit in haar twee dekades in die staatsdiens gesien dat ʼn senior beampte só haastig vervang word nie. “Ek het dit nog nooit gesien nie en ek is al van 1994 in die staatsdiens,” het Williams aan Kate Hofmeyr, die bewyseleier in die ondersoek, gesê.

Nadat Maseko sy kollegas ingelig het dat hy oorgeplaas word na die departement van openbare administrasie, het hy sy personeel gevra om sy goed te begin oppak. Maseko is nog dieselfde dag deur Mzwanele “Jimmy” Manyi vervang.

Williams het getuig haar kantoor was langs Maseko sʼn en sy het gestap om met hom te gaan praat. Hy het egter afgekyk en sy sê sy kon sien hy wou nie met haar praat oor sy oorplasing nie. Sy sê hy het wel later die dag vir haar vertel dat hy sy planne laat vaar om ʼn huis te koop.

Op ʼn vraag oor die uitwerking van Maseko se oorplasing, het Williams geantwoord: “Die uitwerking was ontsaglik. Die vlak van mismoedigheid … dit was ʼn hele kultuur. Ek dink ons het gevoel of ons koppe draai soos ons probeer uitpluis wat aan die gang is en niemand was bereid om ons ʼn verduideliking te gee nie.”

Sy het gesê Maseko was altyd beskikbaar vir al sy kollegas, ongeag hul postitel, maar Manyi “het ʼn hele paar veranderinge gemaak wat nie ooreengestem het met ons kultuur nie”.

Maseko het vroeër die week ook voor die kommissie van ondersoek getuig en vertel dat Ajay Gupta, een van die broers wat sentraal staan in die staatskapingskandaal, hom beveel het om die GCIS se R600 miljoen-advertensiebegroting aan die familie se koerant te betaal.

Hy het gesê Ajay het aan hom gesê indien daar enige ministers was wat dit nié wou doen nie, moes Maseko net vir hom sê, dan sou Ajay vir destydse pres. Jacob Zuma vra om hulle te hanteer. Maseko het gesê hy het vir Ajay gesê hy kan nie so met die ministers praat nie, waarop die sakeman geantwoord het: “Nee, dit is hoe die stelsel nou werk.”

Maseko was ʼn hoogs gerespekteerde regeringswoordvoerder, maar is net ʼn paar maande later uit sy amp gedwing.

Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS), tydens sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping (Augustus 2018). Foto: Nokuthula Mbatha/AfricanNewsAgency

Williams het Vrydag ook getuig oor haar moeilike verhouding met Faith Muthambi, wat die minister van kommunikasie was toe Zuma nog president was. Binne ʼn maand nadat Muthambi minister geword het, het sy ʼn brief aan Williams gestuur waarin sy gesê het sy is nie gelukkig met haar werk nie.

Williams het gesê sy was geskok en het ook getuig Muthambi het daarop aangedring dat sy te alle tye as “Eerbare Muthambi” aangespreek moes word. Toe sy vir Muthambi daarop wys dat dit nie die aanvaarde protokol is nie, het hul verhouding so versleg dat sy direk met Zuma oor Muthambi se eis gepraat het. Zuma het glo gelag en gesê “hy sal die saak hanteer”.

Williams het gesê sy het ook beswaar aangeteken teen ʼn opdrag van Muthambi dat sy vir Gift Buthelezi, ʼn voormalige lid van die kommunikasiedepartement, by die werk van die GCIS moet betrek sonder dat daar behoorlike administratiewe bewyse daarvoor was. Sy sê sy het Muthambi gewaarsku dat dit onwettig was om dit te doen.

Williams het getuig sy is kort daarna na ʼn laervlakpos geskuif, haar rol as waarnemende kabinetswoordvoerder is van haar ontneem en sy is beveel om die R35 000 terug te betaal wat aan haar betaal is in ooreenstemming met die regeringsriglyne vir haar waarneming as uitvoerende hoof.

“Sy het gesê ek help net uit en daarom verdien ek nie om betaal te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hanna Hoekom ·

“Like a puppet on a (Gupta) string…” Lyk my almal moes maar net na,die Guptas se pype dans. En die hoof
nar moes die “moeilikheidmakers” hanteer! Wonder of hulle ooit die finansiele skade sal kan bepaal? Dit moet n angswekkende syfer wees.

Evert ·

Dagvaar Ramaposa en Zuma om oor staatkaping te getuig. !!!!!

Snowball ·

Mens wonder nogal hoeveel het die “New Dawn” van die al dié mannewales geweet en toe maar net ‘n blinde oog gedraai het?

John ·

As CR met die sak patats vorendag gekom het, was Zuma vroeer in die pad gesteek en sou ons meer respek vir hom gehad het, maar hy bly toe tjoepstil. Die Zuma’s het dalk ‘n houvas op hom want hy het vir antie-Z in sy kantoor aangestel. Waar op deeske aarde kry mens sulke groot liefde vir jou opponent.

Jaap ·

Ag CR saam al die narre in sirkus.
Almal dieselfde korrupte spul.
Voel nul vir mense,dink net aan hulself.
Alles in sy duiwel in,land,ekonomie en al die mense trek aan agterend.

Basjan ·

Gelees op Facebook:

“It is critical to observe that the Zondo commission of inquiry into allegations of state capture is designed to unearth the truth. But truth alone – as we are learning – is NOT enough. Some of us want JUSTICE! I am with them. Whoever stole the rainbow needs to give it back and be punished.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.