Staatskaping: Stats SA ontken Manyi se bewerings

Die sakeman Mzwanele Jimmy Manyi, voormalige hoof van die GCIS, verlaat die verhoor nadat hy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping gegee het. Foto: Itumeleng English/ANA

Statistieke SA het Vrydag voormalige media-eienaar Mzwanele “Jimmy” Manyi se getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping dat die instansie R64 miljoen betaal het vir ʼn kontrakteur wat versuim het om werk vir die 2011-sensusveldtog te lewer as bogstories afgemaak.

“Stats SA kan bevestig dat die instansie inderdaad R64 miljoen aan ʼn diensverskaffer betaal het vir kreatiewe bemarkingskonsepte en produksiedienste wat gelewer is tydens Sensus 2011, in ooreenstemming met al die verkrygingsketting-voorskrifte. Die organisasie het volle vertroue in die Zondo-kommissie en sal sy samewerking aan die kommissie gee in verband met kwessies rakende hierdie saak,” het die organisasie gesê.

Manyi was Woensdag vol selfvertroue toe hy sy getuienis voor die kommissie gelewer het. Hy sal wel volgende week kruisondervra word nadat Phumla Williams, hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS) hom in haar getuienis voor die kommissie onder verdenking geplaas het.

Die sakeman, ʼn voormalige hoof van die GCIS, het onder eed bewerings gemaak dat hy in 2011 “’n mini-VBS” by die inligtingsdiens ontbind het.

Hy het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê hy wil net die geleentheid hê om sy kant van die saak te stel teen Williams se getuienis. Hy het haar daarvan beskuldig dat sy deel was van korrupsie by die GCIS se bodbeoordelingskomitee en sy verkrygingsafdeling.

Manyi het aangevoer ʼn ondersoek deur die nasionale tesourie het getoon dat R7 miljoen onregmatig aan ʼn diensverskaffer betaal is, asook R64 miljoen vir werk wat nooit gelewer is nie.

“Ek moet beklemtoon dat al hierdie rampspoed gebeur het in die teenwoordigheid en met die deelname van die mense wat me. Williams opgehemel het as bekwaam en wat aan al die vereistes voldoen het. Maar ondanks die [lofprysinge] was daar baie korrupsie en bedrog wat gebeur het met baie van hulle daarby geïmpliseer … Ek moes die bodbeoordelingskomitee ontbind,” het hy gesê.

“Al hierdie dinge is in Williams se ryk gedoen. Daar was geen wigte en teenwigte nie. Elke reël wat verbreek kon word, is daar verbreek. Dit was ʼn reusekrisis.”

Williams het reeds in September getuig hoe Faith Muthambi, destydse minister van kommunikasie, “verwoesting gesaai” het by die GCIS en dat sy deur oudpres. Jacob Zuma beskerm is.

Manyi, destyds die hoof van die GCIS, het ingrypende verandering aan tenderprosesse aangebring en daarop aangedring dat die tenderkomitee aan hom verslag moet lewer. Manyi het ʼn teksboodskap aan Williams gestuur terwyl sy in die getuiebank was, oënskynlik om haar getuienis te beïnvloed.

Manyi word daarvan beskuldig dat hy voorkeur aan The New Age en ANN7 gegee het en miljoene rande se regeringsbesteding vir advertensies na die twee maatskappye gekanaliseer het. Manyi het in 2011 by Themba Maseko oorgeneem wat in die pad gesteek is omdat hy glo geweier het om die Guptas se opdragte uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Penellope Jones ·

Dis ‘n draaikolk van leuens waarvan niemand weet nie, maar waarvan almal weet.
Niemand het enigiets gedoen nie, niemand weet van niks, het ooit geweet nie, of ooit gehoor nie. was ook nie naby nie.
En as dit die saak pas pas, is hulle bewus van alles, was dalk selfs teenwoordig.

Andrea van Vuren ·

Gaan lees Psalm 73. Hierin word vandag se siek toestande saamgevat. Skrikwekkend!

zoom zoom ·

In Engels is daar ‘n gesegte.

“IT wasn’t me. I wasn’t there.I didn’t do it.”

Hulle almal het geskep maar gebruik nou Zuma se taktiek. NIEMAND KAN VIR MY SÊ WAT EK VERKEERD GEDOEN HET. EK IS ONSKULDIG.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoeveel kreatiewe bemarkings-konsepte koop mens vir R64 miljoen? In die ou Suid Afrika het ons besigheid gedoen dat die Rande rol…………sonder om enige iemand R64miljoen vir “bemarkingskonsepte” te betaal? Jy het iets, ek het dit nodig, jy maak jou prys, ek kibbel daaroor, ons vind middelgrond, ek betaal, en jy gee wat ek by jou koop. Wat se “bemarkingskonsepte” is nou skielik nodig? In die nuwe Suid Afrika is daar skielik darem nou BAIE “raadgewers” en “konsultante” wat NIKS doen nie, vir BAIE geld…????

Lientjie ·

Dis so pateties hulle gaan so ver om te sê dis nie hulle op die foto nie.

Adriaan ·

Hoe harder die bewering ontken word, hoe nader aan die waarheid is dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.