Staatskaping: Tweede bloedneus vir Zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pres. Jacob Zuma het Woensdag ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het.

Die hof het ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek. Die voorsitter van die kommissie moet deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangewys word.

Dit kom nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te bekom wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis en deur regter-president Dunstan Mlambo gelewer.

Die hof het in sy uitspraak Zuma se gedrag skerp veroordeel. “Na my mening is ʼn eenvoudige bestraffende kostebevel nie gepas nie. Ek sê so omdat dit die belastingbetaler aanspreeklik sal maak vir die koste. Dít is ʼn geval waar die hof geregverdig is om te bevind dat dit onregverdig is dat die belastingbetaler die koste moet dra,” het Mlambo gesê.

“Die optrede van die president en die konteks van die litigasie vereis strenger berisping. Daar is geen twyfel dat, wanneer dit deeglik oorweeg word, die agtergrond van hierdie saak en die omstandighede van die litigasie toon dat die president op geen aanvaarbare regsgronde gesteun het nie en dat daar inteendeel geen gronde was vir hom om vol te hou met hierdie regsgeding nie.”

Mlambo het gesê Zuma se gedrag “kom neer op ʼn poging om die nakoming van ʼn grondwetlike verpligting van die kantoor van die openbare beskermer te stuit”.

Mlambo het gesê Zuma het sake vererger deur vol te hou met die hofaansoek nadat hy aanvanklik toegegee het dat Madonsela se verslag bekendgemaak moet word. Hy het gesê die president se volharding om voort te gaan met die hofaansoek kom neer op misbruik van die regsproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ai man ·

Is dit nie lekker om sulke berigte te lees nie ? Hy het seker gedink hy is verhewe bo die reg . Maroela media ‘bou so voort – rk sal julle dophou om te sien wanneer word hy toegesluit

Eish ·

Dis byna of die dag begin aanbreek na n baie lang, donker, sterlose nag. Heuglike nuus om te lees!

Vonkie van der Dool ·

Hy kry geen bloedneuse nie. Daar is al talle uitsprake teen hom gemaak,selfs in die hoogste hof en nog niks het gebeur en gaan gebeur nie. Ons regstelsel is ‘n regte “papiertier”. Hy lag net verder. Hoop van harte ek is verkeerd

Riaan ·

Stem saam ?? & hoop ook dat ons hierdie keer verkeerd is!!!

Nel ·

Hy voel vere want iemand sal seker maar weer sy skuld vir hom betaal.

Andre ·

Sy greep en beheer oor die regstelsel en howe is minder, hoop dit hou so aan totdat hy, sy hele familie en al hulle vriende in die tronke is en op al die bates beslag gelê is en terugbetaal word aan die belastingbetalers.

Leeutjie ·

As hierdie man agter hom kyk gaan hy sien dat sy eie mense nie eers meer agter hom staan nie! Die Guptas was net vriende omdat hulle hom kon gebruik. Nie meer president…nie meer vriende… Sy dag van pakslae is naby!

Fantabulous ·

Hopelik word hy uit die stoel gelig voordat die hele SA ‘n tweede Zim is en die hele SA in duie stort. Hy kry hopelik wat hy verdien. Alle gevolge het nagevolge…..Viva SA

Cherokee ·

So jy dink Suid Afrika is nog nie ‘n 2de Zim nie? Jy is optimisties!

Anoniem ·

En een van die dae slaan die Bulhond hom ook bloedneus via Duduzane…

Fantabulous ·

Nee Cherokee, SA is sterk oppad om ‘n tweede ZIM te word. Oms het darm nog baie boere en mense wat saam staan. Ek is optimisties dat alles in SA gaan verander ten goede van die bevolking van SA…………Zoem, Zoem is amper uit !

André Badenhorst ·

Die verdoemende uitsprake kon nie op ‘n beter tyd kom nie. Die vraag is nou: Wat gaan die ANC konferensie daarvan maak? Ignoreer hulle dit, is nie net Zuma nie, maar die ANC amptelik die vyand van sy eie kiesers.

snoefie ·

n wyse man sou nou al n geleentheid Dubai toe geneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.