Staatskaping: Valke bekommerd oor verdoemende bewerings

Mcebisi Jonas (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Godfrey Lebeya, die nasionale hoof van die Valke, het sy kommer uitgespreek oor bewerings wat Mcebisi Jonas Vrydag tydens die kommissie van ondersoek na staatskaping oor dié gespesialiseerde eenheid van die polisie gemaak het.

Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, het Vrydag onder meer getuig die Valke het doelbewus probeer om die ondersoek na die bewerings dat die Guptas hom probeer omkoop het, te saboteer.

Jonas het getuig hy het ʼn oproep van die Valke ontvang nadat hy ʼn mediaverklaring uitgereik het met besonderhede oor sy ontmoeting met Ajay Gupta, Duduzane Zuma en Fana Hlongwane. Jonas het destyds beweer Ajay het hom omkoopgeld van R600 miljoen aangebied om bevordering tot minister van finansies te aanvaar en dan die omstrede familie se opdragte uit te voer.

Volgens Jonas was sy regsverteenwoordiger, Max Boqwana, saam met hom by die vergadering met genl.maj. Zinhle Mnonopi van die Valke wat hom glo wou dwing om ʼn vals verklaring te onderteken.

Mnonopi het glo aan hom gesê die saak is ʼn “DA-kwessie”. “Sy het gesê ek wil nie aan die kant van die DA wees nie. Sy het gesê daar is geen saak nie en dat hulle die saak sal doodsmoor.”

Volgens Jonas wou Mnonopi glo hê dat hy die “verklaring” onderteken waarvolgens hy onderneem dat hy nie bewyse het vir sy bewerings nie, hy nie ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak het nie en nie bereid sou wees om dit in die toekoms te doen nie.

Jonas het getuig hy het geweier om die verklaring te onderteken en dat hy later ʼn verklaring aan die Valke gestuur het met die besonderhede van sy klag teen die Guptas.

Lebeya het in reaksie op Jonas se bewerings gesê die Valke steun die werk van die kommissie en sal wag tot getuies hul getuienis voltooi het voordat hulle hulp ingeroep sal word om die bewerings te ondersoek. “Die Valke sal die proses noukeurig volg en die nodige wette toepas,” het Lebeya gesê.

Intussen het die Congress of the People (Cope) ʼn beroep gedoen op polisieminister Bheki Cele om dadelik vir Mnonopi te skors.

“Cope is nie verras of geskok deur die verdoemende getuienis van Jonas voor die kommissie nie. Cope het nog altyd volgehou dat die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en die parlement deur die Guptas en Jacob Zuma gekaap is,” het Dennis Bloem, Cope se woordvoerder, gesê.

“Cope het al talle male strafregtelike aanklagte van korrupsie teen Zuma, die Guptas en ander partye aanhangig gemaak. Nie een van die sake is ooit voor ʼn hof gebring nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rynhardt ·

Jonas se getuienis het gewys dat inmenging deur Guptas wat deur Anc toegelaat is,strek diep in NVG, Valke en Nasionale intelligensie.Bogenoemde moet heeltemal skoongemaak word,want die Republiek en sy burgers se veiligheid is in gedrang gebring vir finansiele gewin en vet gunste! n Neutrale kommissie(sonder Anc bewonderaars) moet dadelik in die lewe geroep word om beide Zuma-en Ramaphosa -regerings aan te tree! Geregtigheid moet geskied vir SA en sy burgers anders gaan land groot probleme optel! SA is gekaap op n wye spektrum deur bogenoemde!

koos1 ·

Laat my dink aan die boek Animal Farm.
Almal is gelyk voor die wet, maar sommiges meer gelyk as ander.
Dit gaan dekades neem om die Zuma tydperk te ontknoop. En voor ons ons oë uit vee, is die volgende “Zuma” weer president!

Wolf ·

Ek vra mooi asseblief, pas mense soos Mcebisi Jonas baie mooi op. Netnou lees ons ook iewers dat hy sy eie lewe geneem het. Wat n Brawe man. Ek hoop dat daar in die verrote anc nog meer soos hy is.

Andre ·

Zuma kon dit nie alleen doen nie. Hulle almal het geweet wat gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.