Staatskaping van A tot Z

Regter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, het in haar laaste verslag wat oor staatskaping gehandel het, een groot storm ontketen. Sy het aanbeveel dat die hoofregter Mogoeng Mogoeng ʼn kommissie aanstel om staatskaping te ondersoek.

Dit omdat die vorige president, Jacob Zuma, waarskynlik deel van die staatskapingnetwerk sou wees. En die Grondwet is pertinent – net die president kan ʼn kommissie aanstel. Dit was in 2015.

Soos waarskynlik net Zuma kan, het hy weer die hof genader om Madonsela se aanbevelings ter syde te stel.

Die Demokratiese Alliansie het die OB in die hofgeding gesteun en Zuma se eis teengestaan.

Op 17 September verlede jaar is daar teen Zuma beslis.

Daarna kon hoofregter Mogoeng voortgaan en die kommissie, wat deur die adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word, aanstel.

En nou in sy eerste paar maande het die kommissie reeds van onbehoorlike inmenging deur politici en die Guptas se handelinge gehoor.

Hier is ʼn eerste A tot Z-blik op staatskaping

Alles, persone en feite, wat hier genoem word, is reeds deur die kommissie aangehoor.

A.

ANN7 en The New Age – die Guptas se mediabelange. Volgens getuienis van Jan Gilliland van die nasionale tesourie het die regering R260 miljoen op die twee media-organisasies bestee. Die Vrystaat, waar Ace Magashule premier was tot sy verkiesing as hoofsekretaris van die ANC, het R79 miljoen bestee op dié nuuskanaal en koerant. Die meeste deur ʼn provinsie.

B.

Banke – Die eerste vasskop teen die Guptas se invloed het van Suid-Afrika se handelsbanke gekom. Volgens getuienis wat gelei is, het Absa, Nedbank en FNB geweier om voor die interministeriële komitee te verskyn waar Mosebenzi Zwane, Mildred Oliphant en Jimmy Manyi ʼn hardnekkige houding teenoor Standard Bank ingeneem het. Ondanks die ANC se versoeke om te vergader, het eersgenoemde drie banke voet by stuk gehou en indirek ʼn oorwinning oor die Guptas behaal deur hul rekeninge te sluit.

C.

China het ook onder die vergrootglas gekom. China South Rail het 1 064 elektriese- en diesellokomotiewe aan Transnet verskaf. As deel van die ooreenkoms het die Guptas glo miljoene in hul sak gesteek. Die kontrak vir die lokomotiewe het R38,6 miljard beloop, maar het tot R54,4 miljard gegroei.

D.

Denel is deur ʼn Gupta-maatskappy geteiken om markte in Asië te betree. Dit het egter nie uitgewerk nie en Denel is in ʼn finansiële krisis gedompel. Denel het geskarrel om sy personeel hul Desembersalarisse te betaal en moes by die nasionale tesourie aanklop vir geldelike hulp.

Argieffoto

E.

Eskom moet nog onder die vergrootglas kom. Tog het die banke te kenne gegee dat Zwane en Eskom se optrede rakende die verkryging van Glencore se Optimum-myn, gevaarligte laat flikker het.

F.

Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het waarskynlik die trekpas gekry in Maart 2017 omdat hy die Guptas nie hul sin gegee het nie.

G.

Die Gupta-broers, Atul, Ajay en Tony, het met hul buitelandse en binnelandse trawante – wat Bell Pottinger, die BLF-groep (Black First Land First), Manyi, Trillian en McKinsey insluit – die land se hulpbronne geplunder of ʼn negatiewe prentjie geskets, soos die term “white monopoly capital”.

H.

Die luukse Hotel Oberoi in Dubai waar die Guptas hul gaste uit Suid-Afrika onthaal het om uitvoering aan hul staatskapingsplanne te gee.

I.

Indië is die derde Brics-land wat by staatskaping betrokke is. Die Guptas se oorsprong is in Indië en volgens Barbara Hogan is sy haar pos as minister van openbare ondernemings kwyt omdat sy nie SAL se roete na Indië wou opsê ten gunste van die Guptas nie.

Pravin Gordhan, die minister van finansies, met sy adjunk-minister, Mcebisi Jonas. Foto: GCIS

J.

Jonas Mcebisi, adjunkminister van finansies, het die land geskok met sy bewering dat die Guptas hom R600 miljoen aangebied het om Nhlanhla Nene op te volg en gunstige besluite namens hulle te neem. Nadat Nene afgedank is en deur Des van Rooyen opgevolg is, het die land binne die bestek van 48 uur R500 miljoen op markte verloor.

K.

Koornfontein is die tweede Gupta-beheerde steenkoolmyn. Die myn sukkel om sy werkers te betaal of steenkool aan Eskom te lewer.

L.

Staatskaping het menige joernalis, politikus en uitgewer op hol gehad. Een joernalis en skrywer wat die Gupta-vergrype met die pen ontbloot is, is Pieter-Louis Myburgh.

Uit sy pen het The Republic of Gupta: A story of State Capture verskyn. In dié boek het Myburgh geskryf dat Aja Gupta op een van Thabo Mbeki se adviserende rade was, en ook bewerings gemaak dat die Gupta-gesin vir Jacob Zuma gehelp het om politieke mag te bekom. Daar is ook die netelige vraag oor hoe die gesin Suid-Afrikaanse krieket gekaap het en wat hul belangstelling in die omstrede kernkragprogram was.

M.

Mosebenzi Zwane is die vorige minister van minerale hulpbronne en ’n voormalige Vrystaatse LUR van landbou. Onder sy “toesig” het die Guptas die Estina-melkery in Vrede geplunder waar meer as R200 miljoen gesteel is. As minister van hulpbronne wou hy ʼn mynbouhandves finaliseer wat ook glo die Guptas sou bevoordeel.

N.

Nhlanhla Nene, nou vir ʼn tweede keer die voormalige minister van finansies, het getuig dat hy in sy eerste termyn die trekpas gekry het omdat hy nie ʼn kernkrag-ooreenkoms met Rusland wou teken nie. Die ooreenkoms sou meebring dat die Guptas die uraan vir die projek sou voorsien.

Die Oakbay-groep se regspan in die hooggeregshof in Pretoria (9 Oktober 2017). Foto: Brenda Masilela/ANA

O.

Oakbay Resources, die Guptas se maatskappy waarin hul belange gelê het, se notering is op die JE opgeskort, namate die staatskapingsgerugte toegeneem het. Sy vorige uitvoerende hoof, Nazeem Howa, is ook een van die agt beskuldigdes in die Estina-saak.

P.

Pravin Gordhan (saam met Nene, Jonas, Derek Hanekom, die banke en Suid-Afrikaanse media) het die Guptas se uitbreidingsplanne gestuit.

Q.

“Questions”: Talle vrae betreffende die Guptas is nog nie beantwoord nie. Een wat op almal se lippe is, is of hulle ooit aan Suid-Afrika uitgelewer gaan word of selfs in die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping sal getuig.

R.

Rusland wou ʼn kernkragooreenkoms in SA se keel afdruk, nieteenstaande die land se onvermoë om dit te bekostig. Dit en Nene se afdanking was waarskynlik die begin van die einde vir Zuma.

S.

Shiva is die uraanmyn waarby die Guptas munt kon slaan indien die kernkragooreenkoms met Rusland geteken was.

Linda Mabaso, voorsitter van Transnet se raad, en Siyabonga Gama, die groep uitvoerende hoof, verskyn voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa). Foto: Chantall Presence/ANA

T.

Transnet se lokomotiefbestellings moet nog onder die vergrootglas kom by die kommissie. Die raad van Transnet onder leiding van Popo Molefe het verskeie topamptenare oor dié bestellings geskors.

U.

Verskeie u-draaie is in die eerste paar weke van die Zondo-kommissie gedoen. Een daarvan was Duduzane Zuma, oudpres. Jacob Zuma se seun, wat sy besluit om te getuig, heroorweeg het om getuienis (wat hom impliseer het) onder kruisondervraging te neem.

V.

Varun Gupta is ʼn neef van die omstrede Gupta-broers en waarskynlik hul koppelaar wat verbind word met korrupsie in die Vrystaat en die Estina-melkplaasprojek.

W.

Die rand se wisselkoers is kwaai deur Nene se afdanking geaffekteer. Verliese op die kapitaal- en aandelemark het R509 miljard beloop. Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het R100 miljard in beleggings verloor.

X.

Die getuienis van Brian Molefe, vorige hoof van die OBK, Transnet en Eskom, kan die X-faktor vir die kommissie wees. Daar is ook groot belangstelling in Anoj Singh, se getuienis. Hy was die vorige finansiële hoof by Transnet en Eskom.

Y.

Net soos in die vorige paragraaf, kan die kommissie ook Y-faktore in die gelekte #GuptaLeaks-dokumente kry, terwyl iemand soos Themba Maseko se getuienis verdoemend kan wees.

Z.

Jacob en Duduzane Zuma, die Suid-Afrikaanse spilpunt waarom die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann M van Heerden ·

Hoe herstel mens die skade? Gaan dit ooit reg kom? Gaan die skuldiges aan die pen ry? Gaan die massas wat grootliks deur die proses benadeel is, nou teen die ANC stem? Vir wie, indien wel, gaan hulle stem? Afrikane is gewone stemvee van hul heersers en het nie ‘n begrip van hoe demokrasie werk nie. Ek voorspel dit gaan nooit regkom nie. Die verrotting is te diep en ‘n te groot deel van die bevolking is betrokke.

AW ·

“Laws are like COBWEBS,
which may catch small flies,
But let Wasps and Honets break through.”
– Jonathan Swift

Taal Ninja ·

MM kyk gou hierna:
Paragraaf J. Laaste sin lees “oopgevolg” vermoed dit moet wees “opgevolg”

Tania Heyns ·

Dagsê Taal Ninja

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Zelda ·

Bou waar is almal wat betrokke was met staatskaping NOU . Lekker by hulle huis en niks gebeur met hulle nie . So my vraag is. Hoekom sal enige 1 hulle aan enige gereg steur of enige wet steur as niks gebeur oor staatskaping nie. Moenie my vertel die sake word nog ondersoek nie. Die bewyse is alles daar. Anders was dit nie nou op MM nie . So weer eens waar is almal wat skuldig is . Gaan daar nooit iets van kom. Of gaan alles net so gelos word en onder die mat in gevee word soos altyd

marous ·

Hier sal niks van kom nie . Die hele gupta saga insluitend hul ontvlugting was ‘n klein deeltjie van die grootste bedrogspul deur die regeerders van die land en hul kaders om alles te verorber . Dit was lank voor die boeties hul voete hier gesit het , bespreek en beplan . Die rookskerm komissietjies ook !

lewies ·

Verkeerde besluite is die wortel van die mensdom se probleme en ondergang. Kom eers op jou kniee voordat jy ‘n besluit neem.

Mrs H ·

Vir my, was die begin van die einde vir Zuma, die dag toe ons geadviseur is om warm storte te vat as jy met AIDS geslaap het! Lol…. Natuurlik ook Nkandla.. En almal hou hulle mondjies maar bangerig stil oor en vir Zuma, want hy het mos duidelik gewaarsku, dat daar n klomp mense is wat saam met hom sal onder gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.