Staatskaping-verhoor begin dán

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die geregtelike kommissie wat staatskaping ondersoek, het Donderdag gesê die eerste getuies in dié ondersoek sal in Augustus vanjaar ʼn eerste verskyning in die hof maak.

Zondo het bevestig dat die kommissie se regspan reeds in verbinding met die getuies en hul eie regspanne was. “Die regspan het reeds met hulle [die getuies] kontak gemaak. Die regspan sal binnekort met hulle onderhoude voer. Ons waardeer die publiek se belangstelling in die ondersoek. Oral waar ons [die kommissie] gaan, word ons gevra wanneer die kommissie met die ondersoek gaan begin.”

Die kommissie het Donderdag sy korporatiewe embleem by ʼn inligtingsessie by Hill On Empire in Parktown, Johannesburg, bekend gemaak. Zondo het gesê die kommissie sal van ʼn aanliggende gebou gebruik maak vir die duur van die ondersoek.

Die geregtelike kommissie wat staatskaping ondersoek se embleem (Foto: Gertrude Makhafola/ANA)

Hy het gesê die kommissie het reeds agter die skerms begin werk ten spyte daarvan dat die ondersoek ʼn tyd lank vertraag is. Die vertragings was glo weens “gesprekke met staatsdepartemente en entiteite wat langer geduur het as wat verwag is”. Ondersoekbeamptes van die kommissie was veronderstel om al in Maart aan die ondersoek te begin werk.

“Die sensitiwiteit rondom die ondersoekbeamptes, wat anoniem sal bly, verg ʼn vlak van vertroulikheid. Ons moes dit alles eers met die regeringsdepartemente bespreek om tot ʼn ooreenkoms te kom. Ons het wel ʼn ooreenkoms bereik en nou beweeg ons vorentoe,” het hy gesê.

Hy het gesê die kommissie het bewyse in sy besit van entiteite wat ondersoeke na bewerings oor staatskaping gedoen het. Hierdie rekords is glo dié van die parlement, wat verkry is deur verskeie komitees, en dié van Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se kantoor.

Zondo het gesê die rekords van die OB se kantoor word nog deur die regspan ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.