Staatskaping-verslag: DA en AfriForum eis Zuma se bedanking

Pres. Jacob Zuma (Oktober 2016) Foto: GCIS, Flickr

Pres. Jacob Zuma (Oktober 2016) Foto: GCIS, Flickr

Die Demokratiese Alliansie het Woensdag opnuut sy versoek gerig dat pres. Jacob Zuma die regte ding moet doen en bedank ná voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se staatskaping-verslag bekend gemaak is.

“Gegewe die bevindings in die verslag, moet Zuma die eerbare ding doen en bedank,” het Mmusi Maimane, leier van die DA, in ʼn verklaring gesê. “Gegewe die skaal van die staatskaping wat in die berig bekend gemaak word, wat hy toegelaat en aangemoedig het, kan hy nie langer die amp beklee nie. Die Zuma-presidensie is ʼn klad op Suid-Afrika, slegs sy bedanking kan help om die skade te herstel wat hy veroorsaak het.”

Madonsela het bevind dat Zuma moontlik die uitvoerende etiekkode in verskeie gevalle verbreek het, insluitend dat, indien dit waar is, die Gupta-familie verlede jaar geweet het dat Nhlanhla Nene uit die minister van finansies-pos verwyder sou word.

“Die verslag het bewyse gevind van beduidende oortredings, onbehoorlike invloed, botsing van belange en korrupsie – meeste hiervan is nuwe inligting, en alles wys direk na pres. Zuma, Duduzane Zuma en die Guptas,” het Maimane gesê.

“Die manier waarop Jacob Zuma homself gedra is absoluut oneerlik en nie geskik vir die land se president nie.”

Die DA is van voorneme om volgende maand weer ʼn mosie van wantroue in te stel teen Zuma indien hy nie bedank nie.

“Hierdie verslag gee bykomende gewig vir hierdie mosie van wantroue, en daar is geen redelike verduideliking vir die ANC in die parlement om hierdie mosie te verwerp nie,” het Maimane bygevoeg. Hy het ook Madonsela se opdrag, dat ʼn kommissie van ondersoek onder leiding van ʼn regter aangestel moet word, verwelkom.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook intussen gesê hy is van mening dat die ingrypende gebeure vandag rakende die staatskaping-verslag en die kommer wat Madonsela oor Jacob Zuma en onbehoorlike gedrag deur staatsamptenare hierin uitgespreek het, vereis dat Zuma afgedank en strafregtelik vervolg moet word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Zuma oneerlik, sonder ’n greintjie integriteit en ’n enorme verleentheid vir die land. “Dis tyd dat daar van hom ontslae geraak word.”

AfriForum gaan die inhoud van die verslag bestudeer en strafregtelike klagtes by die polisie indien teen individue wat daarin geïmpliseer word.

Lees alle berigte oor die staatskaping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Renée ·

Maar, hy moet mos nou tronk toe. Hy het hopeloos te veel get out free kaartjies. Waar is ons slimkoppe wat weet hoe om dit te doen? Komaan julle

marlene ·

Wat van sy ander 785 korrupsieklagtes?? Gewone mense word toegesluit. Die president vd land kom weg daarmee. Smee die yster terwyl hy nog warm is.

humor ·

n Mens kan maar net in moedeloosheid jou kop skut. weet nie of hierdie versoeke geslaagd sal wees nie. Hy beplan dit dan reeds om dit verder te voer.

Jan ·

Nee, laat hy bly. Beste manier om te verseker dat die ANC meeste mag verloor in 2019 verkiesing

Jcwf ·

Wat gaan dit vir die ANC beteken? Indien hulle hom nie dwing om af te tree nie, gaan hulle die prys daarvoor in die volgende verkiesings betaal. Maar indien hulle probeer om hom te dwing kan dit ‘n bloedbad veroorsaak. Polities of ook biologies.

neelsie ·

Sjoe! dit is darem vervelige nuus ,oud en uitgewas.
Sal ons ooit die bede van Salomo in Ps 72 kan ego?

vytjie ·

Ek stem 100% saam met Jan. hy kan nie tronk toe nie, dan weet ons nie wat die volgende skuif is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.