Staatskaping-verslag: Dit is wat Madonsela bevind het

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is

Adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskemer, het verskeie bekommernisse uitgelig in haar ondersoek na bewerings van staatskaping.

Madonsela sê in haar staatskaping-verslag, wat Woensdag uitgereik is, dit is kommerwekkend dat die Gupta-familie bewus was of moontlik bewus was dat minister Nhlanhla Nene uit sy amp verwyder is, ses weke nadat adjunkminister Mcebisi Jonas hom meegedeel het dat hy glo deur die Guptas ʼn pos aangebied is in ruil vir gunsies aan hul familie-ondernemings.

Volgens Madonsela is dit ook kommerwekkend dat minister Des van Rooyen wat Nene vervang het, minstens sewe keer geplaas kan word in die Saxonwold-area, insluitend die dag voor hy minister geword het. “Dit lyk onreëlmatig, gegewe die feit dat hy in daardie stadium ‘n lid van die Parlement was wat in Kaapstad gebaseer is. Nog ‘n kommerwekkende toeval is dat minister Nene verwyder is nadat Jonas hom in kennis gestel het dat hy verwyder gaan word.”

Madonsela sê indien die Gupta-familie van die voorgenome aanstelling geweet het, blyk dit of die inligting gedeel is in oortreding van die uitvoerende etiekkode wat lede van die uitvoerende gesag verhoed om inligting te gebruik wat hulle vertroulik ontvang, in die uitvoer van hul pligte.

Volgens Madonsela blyk daar geen bewyse te wees van enige aksies wat geneem is om Vytjie Mentor se bewerings, onder meer dat die Gupta-gesin glo vir haar ook ʼn pos as minister aangebied het, te staaf nie.

Madonsela het wel bewyse gevind van ʼn “gemaklike verhouding” tussen Eskom-hoof Brian Molefe en die Guptas. Sy sê dit is ‘n bron van kommer, aangesien niks daaraan gedoen is nie, ten spyte van sekere staatsinstellings se grondwetlike pligte.

Madonsela is van mening dat die kabinet in ʼn “buitengewone en ongekende” stap ingegryp het in wat blyk ʼn dispuut te wees tussen ʼn private maatskappy, wat deels deur die president se vriende en sy seun besit word, en die land se banke. “Dit moet ondersoek word in verband met ʼn moontlike botsing van belange tussen die president as staatshoof en sy private belange as ʼn vriend en pa.”

Madonsela sê daar is geen bewyse dat Jonas se bewerings, dat hy geld en ʼn ministerspos aangebied is in ruil vir gunste, ooit deur die uitvoerende gesag ondersoek is nie. “Jonas sal as ‘n leuenaar beskou word en in die openbaar verneder wees, tensy hy gelyk gegee word rakende sy openbare verklaring dat Ajay Gupta hom die posisie van minister van finansies aangebied het, met die kennis van president Zuma en Zuma wat daarna ontken het daar was so ‘n aanbod. Gevolglik sal die mense van Suid-Afrika, wat Jonas in sy vertroue geneem het deur die onthulling, vertroue verloor in ‘n oop, demokratiese en verantwoordingspligtige regering indien president Zuma se ontkennings as vals bewys word.”

Madonsela het onder meer ook bevind dat die raad van Eskom onbehoorlik aangestel is en dat Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, moontlik nie korrek opgetree het rakende die toekenning van tenders nie.

Lees: Staatskaping-verslag: Madonsela versoek dié stappe

Lees die volledige staatskaping-verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WitBlits ·

Goeie werk TM en met jou laaste verslag maak jy toe vir Wolf skaapwagter!
Nou sal die waarheid nooit uitkom en die kommisie se verslag sal eers uitkom lank nadat die hoenders tande gekry het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.