Strafregtelike aanklagte is Vrydag amptelik teen pres. Jacob Zuma en ander persone, wat in die voormalige openbare beskermer se staatskaping-verslag genoem word, aanhangig gemaak.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het die klagtes by die Moot-polisiestasie in Pretoria teen Zuma, Ajay Gupta, Tegeta en Eskom se raad, asook teen Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, en Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, aanhangig gemaak.
Dit volg ná die voormalige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela, se veelbesproke staatskaping-verslag Woensdag bekendgemaak is.
“Die staatskaping-verslag dien as prima facie-bewys dat die bogenoemde persone en amptenare se optrede moontlik onwettig kan wees en dat hulle moontlik skuldig is aan sekere misdade. Dit sluit in, maar is nie noodwendig beperk tot, bedrog, diefstal, korrupsie en geldwassery,” het Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, by die polisiestasie gesê.
AfriForum is van mening dat Zuma afgedank moet word aangesien hy ’n enorme verleentheid vir die land is.
Die DA het Donderdag aangekondig dat die party ook klagte teen onder andere Zuma, sy seun, Duduzane Zuma, en lede van die Gupta-familie aanhangig gaan maak.
Die party het gesê die staatskaping-verslag het bevestig wat talle Suid-Afrikaners reeds weet en dit is dat die regering deur ʼn “mafia” beheer word.
Die DA het klaar ʼn mosie van wantroue in Zuma ingedien en het reeds bevestiging ontvang dat die mosie volgende Donderdag in die Nasionale Vergadering gedebatteer sal word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Wat is die kans dat hy iets gaan oorkom? Aankla is een ding, maar wat se sukses verwag julle?
Gaap…
Liewe Jacob, kan ek jou nou asb kom help jou tassies pak?
Moeg om jou naam te hoor.
Is die Guptas nie reeds land-uit nie? Dubai ? Kan hul uitgelewer word as hul daar is? Is dit hoekom RSA so vinnig uit die Internasionale Strafhof wil bedank ?
So baie vrae en so min antwoorde.
skies, die rapporteer van Andre was per ongeluk
One weet mos al by die tyd dat die ou spulletjjie hulle nie gaan steur aan enige hof se bevel nie. Sela.