Staatskaping-verslag: Tshwane-ANC sê hoekom hy nie saam betoog

Kgosientso Ramokgopa, Tshwane-ANC voorsitter, en Mapiti Matsena, ondervoorsitter. Foto: ANA

Kgosientso Ramokgopa, Tshwane-ANC voorsitter, en Mapiti Matsena, ondervoorsitter. Foto: ANA

Die ANC se Tshwane-streek het verduidelik hoekom hy nie deel wou neem aan die #SaveSouthAfrica-samekoms teen staatskaping Woensdag in Pretoria nie, ten spyte van deelname deur verskeie ANC-swaargewigte aan dié veelpartyveldtog.

“Die streek se uitvoerende komitee het besluit om nie deel te neem aan die protesoptrede van teenrewolusionêre magte van die #SaveSouthAfrica-beweging nie,” het Mapiti Matsena, Tshwane-ANC se ondervoorsitter, Donderdagmiddag aan verslaggewers tydens die afsluiting van hul drie dae lange bosberaad gesê.

“Ons revolusionêre bewussyn laat ons nie toe om saam met die ware staatkapers te betoog nie – ware staatkapers soos die uitvoerende hoofde van mynhuise, banke en groot maatskappye wat die massas uitbuit deur diskriminasie in die werkplek. Ons kon nie deel wees van die #SaveSouthAfrica-beweging wat met sy twyfelagtige elemente die vordering van die nasionale demokratiese revolusie ontspoor nie.”

Die #SaveSouthAfrica-veldtog bestaan uit burgerlike organisasie, sake- en korporatiewe leiers, prominente individue en Suid-Afrikaners in die algemeen wat ʼn beroep doen op pres. Jacob Zuma om te bedank. Die beweging versoek ook ʼn einde aan endemiese korrupsie en nepotisme wat verband hou met die regering en ryk individue.

Van die ANC se swaargewigte wat Woensdag se byeenkoms in die middestad bygewoon het, sluit in Paul Mashatile, ANC-leier in Gauteng, Barbara Hogan, voormalige kabinetsminister, en Cheryl Carolus, voormalige ANC-adjunk-sekretaris-generaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

lynette ·

Hemel, hulle kan darem twak praat!!!!!! Ek is so moeg daarvan dat alles wat deur ander se swoeg en sweet opgebou is, vir hulle n pyn is en wat hulle voel hulle toekom al het hulle geen aandeel in die tot standkoming daarvan gehad nie. Die twak van diskriminasie in die werkplek, hulle moet hulle oe oopmaak. Daar is amper nerens meer n blanke te sien nie. Ook die klagtes oor salarisse, jy word betaal wat jy werd is, as jy nie n goeie werker is nie, kan jy nie vra vir meer geld nie. As jy voel hulle waardeer jou nie genoeg nie, dan forseer jy hulle nie om jou meer te betaal nie, jy bedank en gaan soek n ander werk. As jy so goed is soos jy dink, sal jy nie sukkel om ander werk te kry nie!!!!!!

pieter ·

Hoe kan hulle nou teen hulle skelm maatjies draai want hulle is self skelm gewees in die stadsraad.

Niccy ·

DRAADSITTERS….. hulle is bang hul word van die SOUSTREIN afgestamp!

jaco ·

Daar was van 1994 as REGERENDE party oorgenoeg tyd om die anti-rewolusionere groot besighede the nasionaliseer en behoorlike rewolusie teweeg te bring. waarom is niks dan gedoen nie? Lenin, Stalin, Honecker, en Mao Zedong sou walg as hulle kon sien hoe kapitalisties die ANC SA sedert 1994 regeer.

Manie ·

Die korrupte Ramokgopa sal nooit teen sy korrupte maatjies draai. Dit is mos te lekker as ons almal saam korrup is. Daar is nou nog nie nie antwoorde vir die miljoene rande wat betaal is vir die elektrisiteit meters deur die belasting betalers van Pretoria

zoom zoom ·

Nou is die tyd dat hy sy bewussyn herwin en kyk wat regtig aangaan om hom. Welcome to reality. Die man snuif sy kouse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.