Staatskaping was al in 2014 duidelik – Gordhan

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: Siphephile Sibanyoni/ African News Agency)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Maandag aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê daar was al in 2014 tekens van staatskaping tydens voormalige president Jacob Zuma se administrasie.

Hy het gesê individuele korrupsie, deur goedere en dienste teen verhoogde pryse van derdepartye aan te skaf, duur al sedert 2009 voort. “Hierdie tipe korrupsie was al in 2009 gewild, soos die storie van ʼn botteltjie water. Die bottel water kos jou R6 by ʼn winkel, maar die regering word R40 gefaktureer (deur derdepartye). Nog ʼn fenomeen het in 2015 sy kop uitgesteek by talle instansies wat betref ingewikkelde stukke toerusting en onderdele, byvoorbeeld, vir ʼn vliegtuig,” het Gordhan gesê.

“Daar is ʼn beleidsbesluit geneem dat daar nie direk aankope by die vervaardiger gedoen sal word nie. Om iets by ʼn maatskappy aan die Oos-Rand aan te koop, wat nie enige kapasiteit het om die onderdeel te vervaardig nie, kos jou $16 miljoen, eerder as die $40 by die vervaardiger. Jy betaal $16 miljoen. Dit is om te wys op watter vlak staatskaping begin,” het hy gesê.

“Toe is daar in 2010 ʼn kabinetskommeling en die rade is verander ná [voormalige minister van openbare ondernemings Barbara] Hogan uit die kabinet verwyder is. Dit het gelyk soos net nog ʼn voorval waar ʼn sekere getal mense die kabinet verlaat en ander in hul plek aangestel word. Die prentjie was dof, maar dit het in 2014 en 2015 al hoe duideliker geword. Gebeure wat in 2015 by die tesourie plaasgevind het en die manier hoe die kernkragooreenkoms hanteer is… dit was alles tekens dat daar iets meer daarin steek as net individuele korrupsie. Daar was ʼn groter plan.”

Hy het gesê die planne is onthul toe die Gupte-e-posse aan die media uitgelek het. Die minister het gesê mense het in daardie stadium die bewyse gesien en “die kolletjies verbind” oor die impak van staatskaping.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou weet waarom die regering verkies het om meer te betaal deur derdepartye. “Dit lyk of dit algemene praktyk by staatsdepartemente was om goedere, wat maklik by ʼn winkel aangekoop kon word, eerder by iemand aan te koop wat ʼn persentasie op die bedrag bygevoeg het wat belastingbetalers duurder gekos het. Hoekom?”

Gordhan het gesê dit was nie die regering se beleid nie, maar staatsamptenare het dit in elk geval gedoen. “Maar die vraag bly staan: wie trek voordeel hieruit? Waarheen gaan die geld? Wie ontwerp hierdie prosesse?”

Lees alle vorige berigte oor staatskaping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

RG ·

Wat ek graag wil weet is wie is die ouditeure en waarom het hulle weereens niks wys geword nie.

Ander Annie ·

Minister, jy slaan die spyker op die kop. Jou voorbeeld van ‘n botteltjie water is “spot on”. Staan sterk asseblief Minister.

Gert van Wierdapark ·

Die spesifieke ouditeure was dalkies deel van die proses – kyk nou maar na die VBS Bankroof waar die “hoof-ouditeur” toe een van die groot skelms was. Onthou die kaders skep met GROOT lepels sodat baie ouens “byvoordele” kry. Party kry net meer as ander!!!

Frikkie ·

Daai R40m is seker maar net weer swak proefleeswerk? Moet eintlik R4m wees?

Dries du Toit ·

Nee Frikkie, liewer 4 biljoen. Hierdie lot praat lankal nie meer van mieljons nie hulle praat van bieljons

Therese ·

Die woord “staatskaping” is spesiaal uitgedink om die rampspoedige Jacob Zuma-termyn te beskryf, maar Gordhan en andere vergeet gerieflikheidshalwe van die miljarde der miljarde staatsgeld wat lank vóór Zuma jaar na jaar verdwyn het.
Nelson Mandela het net gelag toe hy daarvan bewus gemaak is.
Nie almal word so maklik gebluf nie.

Therese ·

Enigste verskil, geld tydens die Zuma-jare het nie álles in die kaders se sakke beland nie, maar ook in die Guptas s’n.

Geheueverlies ·

En tussendeur dit als was Ramaphosa tweede in bevel vd land en ANC. En hy het niks geweet nie, ne. En niks gedoen nie. En hy hou nou vir hom witter as sneeu …

Korrup ·

Die agbare minister v welsyn, Batlabile Dlamini is in 2004/5 skuldig bevind aan bedrog in die ‘travelgate’skandaal toe sy saam met baie ander LPs reiskoepon bedrog gepleeg het. En sy is steeds n minister. Na dit en die groot genors wat sy met sassa toelaes gemaak het en Net1, die maatskappy wat sy vir jare ten alle koste in plek hou om die sassa uitbetalings te doen. Ne mnr Ramaphosa. Maar jy weet seker niks hiervan nie …

Skroef ·

Ander munisipale gunsteling is “Bill it to me personally.” betaal dan ook uit persiinlike rekening. Wat hulle daarna met jou invoice maak kan ek nie voor pa staan nie. Ek het kwoteer, werk gedoen en was betaal.

Skroef ·

Ander munisipale gunsteling is “Bill it to me personally.” betaal dan ook uit persoonlike rekening. Wat hulle daarna met jou invoice maak kan ek nie voor pa staan nie. Ek het kwoteer, werk gedoen en was betaal.

Cobus ·

HIERDIE IS DIE PRYS WAT ONS LAND BETAAL VIR ONS BBEE BELEID. DAAR KAN SO MAKLIK AANGEKOOP WORD VAN DIE OU MET DIE REGTE KLEUR IN SY BESIGHEID WANT DIT IS MOS REGERINGSBELEID. AS JY BYVOORBEELD NA ESKOM SE TENDER NAVRAE KYK WORD DIT SO ONDUIDELIK GESTEL MET BYVOORBEELD VALS PART NOMMERS EN JY SAL NIE KAN UITVIND WAT HULLE REGTIG SOEK NIE. NET DIE OU WAT AANKOOP EN SY VRIEND WAT DIE BESTELLING KRY SAL WEET WAT DIT IS EN DAN KOOP HULLE MAKLIK N R 5000 SE PART VIR R 5000000 NET OM AGTERNA TE DEEL

Wegsteek ·

Snaaks dat Gordhan nou eers van hierdie korrupsie melding maak. Ek neem aan hy sou geswyg het, as dit nie was dat Zuma aangekla word nie. Het hy dalk iets om weg te steek?

Heather ·

Ai, die hele lot is korrup, en dit gaan maar net nog erger word! Natuurlik moes CR daarvan geweet het asook Pravin! Sal tog nooit die geld terugkry nie, ons land sal maar net meer agteruitgaan! Steel sal daar gesteel word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.