Staatskaping: Zondo sal later beslis oor Van Rooyen-aansoek

Lungisa Fuzile. Foto: ANA

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Maandag gesê hy sal later beslis oor voormalige minister van finansies, Des van Rooyen, se aansoek om Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal van die nasionale tesourie, te kruisondervra.

Zondo sê dié besluit is geneem omdat Van Rooyen sy aansoek om Fuzile te kruisondervra ʼn maand later ingedien het as wat hy gevra is om te doen. Zondo sê dit is belangrik dat die kommissie regverdig optree teenoor al die partye.

Adv. Vincent Maleka SC, die getuienisleier, sê Van Rooyen het sy aansoek vir kruisondervraging eers op 25 Januarie ingedien, ondanks die feit dat die kommissie hom reeds op 19 November verlede jaar in kennis gestel het van Fuzile en ander getuies se getuienis voor die kommissie waarin Van Rooyen se naam genoem word.

Fuzile het in November aan die kommissie van ondersoek gesê Van Rooyen het hom na ʼn vergadering ontbied waar hy na bewering gevra is om die Gupta-adviseurs Ian Whitley en Mohamed Bobat aan te stel, maar Van Rooyen was glo self nie seker wat die twee se rolle sou wees nie.

Fuzile het aan die kommissie gesê hy is toe deur Enoch Godongwana, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, in kennis gestel dat “’n Gupta-minister” aangestel sou word om by Nhlanhla Nene oor te neem as minister van finansies, en dat hy met twee Gupta-vennote by die tesourie sou arriveer.

Fuzile het ook beweer Bobat het enkele dae nadat Van Rooyen in die amp aangestel is geheime kabinetsinligting bekend gemaak – ʼn voorlegging wat deur die tesourie saamgestel is oor ʼn omdraaistrategie vir die ekonomie.

Van Rooyen het gevolglik aansoek gedoen om Fuzile te kruisondervra om dié bewerings te betwis. Maleka het Maandag aangevoer Van Rooyen het die proses vertraag deur sy aansoek laat in te dien en gesê die kommissie kan Woensdag oor dié aansoek besluit.

Maleka het voorgestel die kommissie handel eers Fuzile se getuienis af aangesien hy intussen ʼn aanvullende verklaring ingedien het en Zondo het toe besluit om Van Rooyen se aansoek uit te stel.

Fuzile het daarna sy getuienis voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stephan Cronje ·

Ek wonder hoe lank gaan dit neem voor iemand besluit ek gaan nie alleen val nie… JZ en die anc se nasionale uitvoerende komitee… wat tog duidelik van al hierdie dingetjies bewus was… gaan saam met my val? Of werk dit nou nie so in die anc nie?Vat jy maar die pak vir die span eerder as om die vet katte te diskrediteur?

Jerry ·

Hierdie kommissies het dit ten doel om die ANC se beeld te poets vir die verkiesing, buitelandse investering en om geimpliseerdes se regspanne kans te gee om teenargumente uit te dink en teenbewyse te fabriseer. Die klein vissies gaan suksesvol vervolg word en tronkstraf kry terwyl die groot visse se vervolging, onsuksesvol gaan wees en hulle deur die ANC herontplooi gaan word.

Alida ·

JA dit was dan Zuma se groot tjommie om die land se geld te bestuur LMGA!

Dries du Toit ·

My bek hang oop. Dit is n vreeslike klomp siek skelms in die ANC. Dit is ongelooflik dat die dom massas nog steeds vir die lot gaan stem

jean ·

Het van Rooyen ooooit iets van enigiets geweet!… Maar soos die ou geykte gesegde sê :…Elke land verdien die regering wat hy het…en hier sit ons nou met die grootste klomp skelms op aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.