Staatskaping: Zondo sê oor aansoeke om getuies te kruisondervra

Raymond Zondo. Foto: ANA.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Donderdag beslis oor Duduzane Zuma, voormalige pres. Jacob Zuma se seun, en die Guptas se aansoek om getuies in die verhore na staatskaping te kruisondervra.

Zuma se aansoek is toegestaan terwyl die Guptas sʼn van die hand gewys is.

Zondo het ook die Guptas se versoek om via ʼn videoskakel vanuit Dubai aan die verhore deel te neem geweier, aangesien hy nie in staat sal wees om die kommissie se “magte” af te dwing in só ʼn geval nie.

Zondo het gesê as hulle kant van die storie nie aangehoor word nie, sal dit nie wees omdat hulle verhoed is om dit te vertel nie, maar omdat hulle gekies het om nie na Suid-Afrika te reis en hul weergawe voor te hou nie.

Zondo het volgehou daar sal geen spesiale behandeling vir die Guptas wees nie.

“Solank as wat hulle nie bereid is om persoonlik voor die kommissie te verskyn waar die kommissie sy magte kan uitoefen nie, kan hul aansoek nie toegestaan word nie, maar sodra hulle binne die landsgrense is en bereid is om persoonlik te verskyn, sal ek nie ʼn probleem hê om hul aansoek toe te staan nie,” het Zondo gesê.

Zondo het verder gesê dit is duidelik dat Ajay Gupta “ernstig geïmpliseer” word in die aantygings oor staatskaping en dat dit regverdig sou wees as hy enige getuie wat hom impliseer sou kruisondervra.

“As hulle van plan verander, sal die kommissie nie ʼn probleem hê om hul aansoek toe te staan nie. Hul aansoek om te kruisondervra word dus van die hand gewys.”

Zondo het ook gesê dat die kommissie aan die Guptas se genade oorgelaat word, aangesien hulle as gevolg van jurisdiksie-beperkings enige opdragte wat aan hulle gegee word waar hulle nou in die buiteland is, kan ignoreer.

Zondo het gesê hy is nie bereid om vir die Guptas toestemming te gee om getuies te kruisondervra nie, aangesien hulle nie bereid is om vervolg te word sou hul vals getuienis lewer soos die ander nie.

Ajay en Rajesh Gupta wou Themba Maseko, voormalige woordvoerder van die regering, Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, en Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, kruisondervra ná dié drie se verdoemende getuienis teen hulle.

Zondo het bygevoeg die feit dat Zuma besluit het om te getuig plaas hom nou in dieselfde kategorie as sakeman Fana Mokoena en Zuma sevoormalige assistent Laleka Kaunda. Dáárom is sy aansoek om Jonas te kruisondervra toegestaan.

Duduzane het aanvanklik gekies om nié te getuig nie, aangesien hy teregstaan op strafregtelike aanklagte wat met die staatskapingbewerings verband hou. Dié klagte is verwant aan beweerde omkoopgeld van R600 miljoen wat die Guptas glo by hul Saxonwold-herehuis vir Jonas aangebied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.