Staatskaping: Zuma ‘minstens weekliks by Guptas vir aandete’

Die ondersoek duur voort.
Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS), tydens sy getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping (Augustus 2018). Foto: Nokuthula Mbatha/AfricanNewsAgency

Die kommissie van ondersoek na staatskaping het Donderdag gehoor Ajay Gupta het dikwels gespog oor hoe gereeld die familie vergaderings met destydse pres. Jacob Zuma by hul Saxonwold-woning in Johannesburg gehou het.

Só het Themba Maseko, voormalige regeringswoordvoerder, voor die kommissie getuig. Maseko het gesê Zuma sou minstens een keer ʼn week by die Guptas gaan aandete eet en Maseko is self in 2010 verskeie kere na die Guptas se huis in Saxonwold ontbied.

Die familie se The New Age-koerant sou teen die einde van daardie jaar bekendgestel word en Ajay wou gehad het die regering se R600 miljoen-bemarkingsbegroting moet na die familie se koerant gaan, het Maseko gesê.

Hy het getuig hy het by die Saxonwold-woning aangekom en Ajay en Atul daar aangetref. Atul het hom nie gegroet nie en net iets vir Ajay gesê voordat hy die vertrek verlaat het. Ajay het vir Maseko vertel van die familie se planne om ʼn koerant op die been te bring en gesê hulle wou ʼn verhouding met regeringsdepartemente hê.

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

“Daar is nie juis oor ditjies en datjies gesels nie. Ajay het gepraat oor die familiekoerant en dat die ANC beplan om sy eie koerant te begin. Maar ons weet die ANC praat vir ewig oor goed, terwyl dié mense goed doen. Hy het vir my gesê hy wil hê die R600 miljoen moet by The New Age aan advertensies bestee word,” het Maseko gesê.

“Ek was verbaas dat hy geweet het van die begroting, want dit was nie in die openbare domein nie. Geen private landsburger weet van die begroting nie. Hy het vir my gesê ek moet na die individuele departemente toe gaan en die ministers versoek om die geld aan die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS) te stuur, en my werk sou wees om seker te maak die geld kom by The New Age uit.”

Maseko het gesê hy het geweier en vir Ajay gesê: “Dit is ongelukkig nie hoe dinge werk nie. Dit is my leiers [die ministers]. Ek kan nie na hulle toe gaan en so met hulle praat nie.” Hy beweer Ajay het geantwoord: “Nee, dit is hoe die stelsel van nou af werk. As daar enige probleme is, sal ek vir hom [Zuma] sê en hy sal dit uitsorteer.”

Maseko sê Ajay het toe beklemtoon dat hy gereeld met Zuma vergader en dat talle ministers al Saxonwold toe ontbied is. “Hy het vir my gesê [Zuma] kom minstens een keer ʼn week daar aandete eet. Hy wou vir my wys hoe groot is sy invloed in die hoogste kantoor in die land.”

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Sluit hulle saam toe dan kan hulle mos saam aandete in die tronk eet. Hoe is daai.

Paul ·

En as Zuma oorgebly het, kon hulle saam ontbyt nuttig. Maar waarom nie vir hulle permanent daar laat bly nie.

Cherokee ·

Nòu begin dit lyk asof selfs Zuma ook betrokke was by staatskaping! Julle moet seker maak van jul feite. Tog nie Zuma nie! Daar is immers mense wat dink dat hy so skoon is dat hulle hom somtyds teken met’n stortkop bokan hom.

Karin ·

Daar is nog baie meer as die maatjies wat in die tronk hoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.