Staatskaping: Zuma stel kommissie aan

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Ntswe Mokoena, GCIS

Pres. Jacob Zuma het Dinsdag aangekondig dat hy ʼn kommissie van ondersoek na staatskaping gaan aanstel.

Zuma het gesê die kommissie sal gelei word deur adjunkhoofregter Raymond Zondo.

“Ingevolge die ondersoek en remediërende optrede van die openbare beskermer (OB) aangaande klagtes en bewerings van staatskaping, sowel as die bevele wat deur die Noord-Gautengse hooggeregshof in sy uitspraak van 14 Desember 2017 uitgereik is, het ek besluit om ʼn kommissie van ondersoek aan te stel,” het Zuma in ʼn verklaring gesê.

“Die hof het bevind dat die remediërende optrede van die OB bindend is en dat die president ʼn kommissie binne 30 dae moet aanstel onder leiding van ʼn regter wat deur die hoofregter aangewys moet word. Die hof het ook beveel dat ek persoonlik die koste van die hersiening moet betaal.”

Zuma het gesê dat hy teen die kostebevel geappelleer het.

“Ek neem verdere regsadvies oor die uitvoering van dié appèl, maar is bekommerd dat die kwessie al ʼn geruime tyd die publiek se gedagtes besig hou en dringende aandag verdien.”

Zuma het op 13 Desember ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het. Die hof het ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek. Die voorsitter van die kommissie moet deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangewys word.

Dit kom nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te bekom wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis en deur regter-president Dunstan Mlambo gelewer.

Die hof het in sy uitspraak Zuma se gedrag skerp veroordeel. “Na my mening is ʼn eenvoudige bestraffende kostebevel nie gepas nie. Ek sê so omdat dit die belastingbetaler aanspreeklik sal maak vir die koste. Dít is ʼn geval waar die hof geregverdig is om te bevind dat dit onregverdig is dat die belastingbetaler die koste moet dra,” het Mlambo gesê.

“Die optrede van die president en die konteks van die litigasie vereis strenger berisping. Daar is geen twyfel dat, wanneer dit deeglik oorweeg word, die agtergrond van hierdie saak en die omstandighede van die litigasie toon dat die president op geen aanvaarbare regsgronde gesteun het nie en dat daar inteendeel geen gronde was vir hom om vol te hou met hierdie regsgeding nie.”

Mlambo het gesê Zuma se gedrag “kom neer op ʼn poging om die nakoming van ʼn grondwetlike verpligting van die kantoor van die openbare beskermer te stuit”.

Mlambo het gesê Zuma het sake vererger deur vol te hou met die hofaansoek nadat hy aanvanklik toegegee het dat Madonsela se verslag bekendgemaak moet word. Hy het gesê die president se volharding om voort te gaan met die hofaansoek kom neer op misbruik van die regsproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Antjie ·

Die berig sê hy het die voorsitter aangestel, wat die hof beveel het die hoofregter moes doen! Moet die media nie sy fout vir hom uitwys nie? Dom diktator?

Anti-Zumpi. ·

Watter regs proses? DUH. Vir die wat nie weet nie, ons prez is verhewe bo die wet. Jammer vir ons land.

snoefie ·

mooi so. sy doel is uitgedien. hy kan nou maar op n besigheidsbesoek in die buiteland gaan en via Dubai nie terugkom nie. sal interessant wees om te weet wat dié regsgeding hom gaan kos

Henk ·

Mens sal sweer hierdie krimineel dink hy doen iemand ‘n guns om die kommissie aan te stel. En hy dink die publiek is dom genoeg om te glo hy stel die kommissie aan, en dit terwyl die hof hom gedwing het om dit te doen. Sy arrogansie ken geen perke nie! Ek kan nie anders as om te wonder of hierdie kommissie nie dalk net so klug en geld mors soos die kommissie na die wapenskandaal was nie?

Koos B ·

Henk ek dink jy is reg dit is ‘n klug en die ondersoek is maar net vir tyd speel hier gaan niks van kom nie.Teen die tyd dat die ondersoek verby is is ek al in die graf van ouderdom en ek is so twintig jaar jonger as Zupta.

Joe Hall ·

Interessant.
Raymond Zondo is van Zulu herkoms en het sy studies in Natal voltooi.
Hy is deur Zuma as adjunkhoofregter in afgetrede regter Mosineke se posisie aangestel.
Wonder hoe objektief en deurtastend hierdie ondersoek na al die ander gekaaptes sal verloop.

Jordaan ·

Dink ons kan dieselfde klinkende resultate as die wapenkommissie verwag.

TYDMORS ·

KOMAAN mense daar gaan absoluut NIKS van kom nie, soos daar niks van enige van die vorige ondersoeke teen Zuma en al die aanklagtes en die pogings om hom uit sy sitplek te lig gekom het nie. Soos daar niks van Nkandla gekom het en van die 700 ander klagte teen hom en die 60* teen Julius Malema nie. HOU OP Julle geld mors op twak .. bou huise en gee elektrisiteit vir diegene wat die paaie versper en poskantore afbrand en klipgooi .. dalk wen ons darem EEN gemeenskap so stap vir stap. Soos die Sasol ondersoek soos die Eskom ondersoek, soos die SAUK ondersoek . daar kom niks van nie .. die ou wat uiteindelik waai, loop met ‘n DERTIG MILJOEN RAND se smile daaruit!

Ek stem ·

Nes jy daar se TYDMORS. Kom ons vra mooi asb. vir Maroela media om vir ons uit te vind wat die werklike syfers, en kleur getalle, in ons tronke is. En ook om vir ons uit te vind, hoeveel plekke van aanhouding daar in Suid Afrika is. En hoe vol hulle is en ook wat die gemiddelde tyd van vonnis uitdiening is. SAL JULLE SO GAAF WEES MAROELA?

kokosneut ·

Kyk, ek is mos nou vir jou ‘n redelike mens, probeer leef sonder oordeel… maar is dit net ek of is daar deesdae ‘n kommissie vir als? Whoo-hee… dis soos ‘n nasionale sport! Ek gaan my eie besigheid begin:
Kies ‘n kommissie – vir gemoedsrus! Onderskryf deur Zuma en ondersteun deur die Nasionale Regering..

Eddie ·

Die aangestelde Kommissie is beslis iets wat die twyfel wek ,gemeet aan die uitsprake wat die betrokke regter in die onlangse velede gemaak het .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.