Staatskaping: ‘Zuma wou hê net Gama moet Transnet lei’

Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings en ANC-veteraan, maak gereed om haar getuienis voor die kommissie van ondersoek na staatskaping te lewer (12 November 2018). Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA

Oudpres. Jacob Zuma wou niks weet van die ernstige aanklagte van wangedrag teen Transnet se gewese uitvoerende hoof Siyabonga Gama nie en het daarop aangedring dat hy in dié pos aangestel word, het Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, Maandag voor die Zondo-kommissie getuig.

Hogan het ʼn uittreksel voorgelees uit ʼn dokument waarin aanbevelings gedoen is aan ʼn minister oor die aanstelling van ʼn uitvoerende hoof vir Transnet. Pravin Gordhan, deesdae minister van openbare ondernemings, is eens as Transnet-hoof oorweeg, maar het sy kandidatuur later onttrek en kort daarna minister van finansies geword, het Hogan aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.

“Hoewel (en dis belangrik omdat dit al dikwels verdraai is) die voorkeur was om ʼn geskikte, gekwalifiseerde interne kandidaat aan te stel, het die benoemingskomitee, nadat hulle die wêreldwye ekonomiese afswaai, sy huidige en toekomstige uitwerking op Transnet en oorweging van dié individue in ag geneem het, Pravin Gordhan met die raad se volle ondersteuning aanbeveel op grond van die vermoëns wat hy getoon het en vergeleke met die ander kandidate,” het Hogan voorgelees uit die riglyn wat die raad vir haar voorganger, Brigitte Mabandla, voorberei het.

Gama, wat destyds hoof van Transnet se spoorvervoerafdeling was, is toe as nuwe uitvoerende hoof voorgestel. Maar in ʼn interne ondersoek is bewyse van wangedrag teen Gama opgediep. Dit het die raad, waarvan Fred Phaswana toe voorsitter was, bekommer.

“Die raad moes toe ʼn ander uitvoerende hoof kry,” het Hogan getuig, “aangesien [Maria] Ramos sou vertrek. Die raad het min. Mabandla gevra om wyer te soek omdat die kandidate met wie onderhoude gevoer is, nie aan die vereistes van ʼn uitvoerende hoof voldoen het nie.

“Die raad het die minister toe versoek om hulle tyd te gun om na ʼn uitvoerende hoof te soek. Hulle het nooit ʼn antwoord gekry nie. Die minister het CV’s van ander interne kandidate aangevra.”

Hogan sê toe sy in Mei 2009 as minister aangestel is, was die proses steeds nie afgehandel nie.

Mbandla het Chris Wells daarna as waarnemende uitvoerende hoof aangestel. Wells, wat Transnet se hoof- finansiële beampte was, het die nou gevalle Anoj Singh, wat destyds by die nasionale tesourie was, as waarnemende hoof- finansiële beampte by Transnet aanbeveel.

Die raad se soeke het die naam van Telkom se huidige uitvoerende hoof, Sipho Maseko, opgelewer. Een van sy voormalige betrekkings was hoof van die petroleumreus BP SA.

Hogan het getuig sy het Zuma tydens ʼn vergadering met die destydse president op die hoogte van die aanstelling van die uitvoerende hoof gebring, maar hy was ontevrede daarmee en het aangedring op die aanstelling van Gama, “en niemand anders nie”.

“Dit het my diep geskok … Die president wou van geen ander kandidaat buiten Siyabonga Gama weet nie. Ek het hom ingelig hoe professioneel die keuringsproses is, asook dat ernstige aanklagte van wangedrag Gama in die gesig staar en die raad kragtens [die Wet op Openbare Finansiële Bestuur] verplig was om die aanklagte te ondersoek. In dié omstandighede sou dit nie in Transnet se beste belang wees om ʼn uitvoerende hoof aan te stel wie se tyd daardeur in beslag geneem sou word om hom teen aanklagte te verdedig nie.

“Ek het mnr. Maseko aanbeveel op grond van die aanbevelings deur die raad, die professionele evalueringskomitee en so meer … in wie se aanbevelings met lof van mnr. Maseko gepraat is.”

Sy het getuig sy het by Zuma aangedring dat Gama nie aangestel kon word tot sy tugverhoor afgehandel is nie, maar Zuma het volgehou Gama moet aangestel word. Hy het gesê: ‘Jy sal niemand anders aanstel nie.’ Ek het nee gesê.”

Gama is later as Transnet se waarnemende uitvoerende hoof aangestel en in 2016 permanent, tot hy verlede maand ontslaan is as deel van Gordhan se plan om die land se uiters gekompromitteerde staatsmaatskappye “skoon te vee”.

Die DA sê Hogan se getuienis bewys die ANC is nie daartoe in staat om die skeidslyn tussen staat en party te verstaan nie.

Die party se woordvoerder oor openbare ondernemings, Natasha Mazzone, sê dit bewys “die ANC het nie net staatskaping ondersteun nie, maar die regerende party het ook doelbewus die verrottende korrupsie in ons land se staatsmaatskappye moontlik gemaak”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frans C ·

Die ANC maak geen onderskeid tussen ‘n politieke party en die staat nie.Dit is by hulle dieselfde en het Zuma opgetree asof Suid Afrika nou aan die ANC behoort en dat hy as
President van die ANC netso kon optree as President van Suid Afrika.

Hy het hom eenvoudig afgevee aan alle wetgewing wat betrekking het op die werking
alle staatsinstellings en organisasies onder staatsbeheer.Nou moet ‘n mens nie net hierdie man veroordeel nie maar die hele ANC wat toegelaat het dat hy sou optree en waar hy openlik in die parlement beskerm is.

Selfs die huidige Staatspresident was deel van dit en beloftes dat korrupsie nou uitgeroei klikn mi effens skeinheilig want dit is die party waarvan hul lede is,wat toegelaat het dat Suid Afrika tot op die randjie van rommelstatus regeer word en so die lewe van miljoene mense nadelig beïnvloed het.

Dit is moeilik om te glo maar in 1975 was die Rand-Britse pond wisselkoer R1.75.
In 1981 was die Rand ‘n sterker geldeenheid as die dollar en het R0.79 teen die dollar verhandel.In 1994 was dit R3.42 vir 1USD en R5.04 vir die Britse pond.

Die verswakking in die wisselkoers is mi aanduidend dat Suid Afrika se handelsvennote
maar min vetroue het in die regering wat hul so gretig gehelp het om tot stand te bring
of wou hul maar net Suid Afrika se hulpbronne spotgoed bekom?

Arak ·

Moet ook asseblief nie vergeet hoe Pravin ons landskuld amper verdubbel het toe hy die minister van finansies was nie. Almal praat altyd met soveel onsag en deernis van Pravin, maar as mens na sy rekord kyk is dit glad nie iets om op trots te wees nie.

Genieve ·

Hy is untouchable want CR het klappe op sy oe zuma maak netsoos hy wil

Hoe nou....... ·

Die ANC slang is besig om te vrot van die kop af en dis hoogtyd. Die mense op die grond is moeg vir lee beloftes en die tyd het aangebreek dat die land re-geruk moet word – dit kannie meer so aangaan nie – genoeg is genoeg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.