‘Staatskapingbewerings uiters kommerwekkend’

jacob zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag beslis dat wydverspreide bewerings van staatskaping, in besonder deur die welgestelde Gupta-familie wat sterk politieke bande het, baie kommerwekkend is en deeglik deur ʼn onafhanklike paneel ondersoek moet word.

“Of die regstellende stappe [soos deur voormalige openbare beskermer Thuli Madosela voorgeskryf] gepas is, daaroor is die hof van mening dat daar prima facie-bewyse is dat die verhouding tussen pres. Jacob Zuma en die Gupta-familie ontaard het in staatskaping en dat hierdie ʼn kwessie van uiterste openbare belang is,” het regte Dunstan Mlambo in ʼn volgepakte hof gesê.

“Die bevindinge van hierdie ondersoek deur die openbare beskermer (OB) is uiters kommerwekkend en weens die feit dat die OB nie toegang het tot die nodige hulpbronne nie, was die OB van mening dat dit gepas sou wees dat ʼn kommissie van ondersoek op die been gebring word om die waarheid aan die lig te bring en vertroue te herstel.”

Mlambo het gesê die hooggeregshof is van mening dat kommissies van ondersoek uit hul aard openlik en deursigtig vir die publiek is en ʼn hele aantal “belangrike voordele” inhou. “As die begrotingsbeperkings en die omvang van die ondersoek wat gedoen moet word in ag geneem word, bevind hierdie hof dat ʼn geregtelike kommissie van ondersoek gepas sal wees om die ondersoek te doen,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Mlambo het ʼn uitspraak gelewer wat eenparig deur ʼn volbank regters bekragtig is waarin Zuma se aansoek dat Madonsela se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp is. Die hof het ook vroeër die dag beslis Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te bekom wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag uit te reik.

Madonsela het verlede jaar aanbeveel dat Zuma ʼn kommissie van ondersoek op die been bring om bewerings van staatskaping te ondersoek, maar dat die voorsittende regter deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangestel moet word. Zuma het volgehou Madonsela oortree haar magte en dat sy geen reg het om hom voor te skryf wie die voorsittende regter van die kommissie van ondersoek moet aanstel nie.

Die hof het egter Woensdag teen Zuma beslis en gesê Mogoeng moet wel die voorsittende regter van die ondersoek aanstel soos deur Madonsela aanbeveel. Die hof het Zuma 30 dae kans gegee om die kommissie van ondersoek op die been te bring.

“Die president sal die nodige stappe doen om gehoor te gee aan die regstellende stappe [in die staatskapingverslag] om te verseker dat die regter wat aan die hoof van die kommissie van ondersoek staan die mag gegee word om sy of haar eie personeel aan te stel om die kwessies te ondersoek deur die rekord van die OB se ondersoek en die staatskapingverslag te gebruik.”

Die hof het ook beslis dat die kommissie van ondersoek magte gegee word gelykstaande aan dié van die OB om bewyse in te samel. Die ondersoek moet binne 180 dae afgehandel word.

“Die president sal ʼn dokument as aanduiding van sy voorneme om die regstellende stappe [van die kommissie van ondersoek] te implementeer by die parlement indien binne 14 dae nadat die verslag vrygestel is,” het Mlambo gesê. Die hof het beslis die nasionale tesourie moet die kommissie van ondersoek “voldoende befonds”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dr Weyers ·

Dit wil vir ons voorkom of die skroewe van alle kante teen die president en Sy kaders al stywer aan gedraai word , dalk word ons die naweek verras met die feit dat die nuwe ANC leier die Zuma faksie tot n val bring .
Laat ons dus hoopvol die naweek tegemoet gaan alhoewel hy soos Thabo Mbeki herroep Sal word kan dit Goeie gevolge vir die land inhou aangesien die menings peiling gewys het dat President Zuma slegs 30%steun uit die geledere ontvang. Dit is nooit Te laat nie

Eish ·

Uiters verblydende uitspraak.
Lyk tog dat die geldkraan nou n Wes Kaap droogte ervaar.
When days are dark, friends are few.

Johann Marx ·

Dit gaan sleg met ‘n land waar die hooggeregshof vir die President moet motiveer om jy “job” te doen…….

Leeutjie ·

Sug…sou hom so graag letterlik wou sien as hy die bye oopkrap!!! Maar nou ja! Sy eie mense gaan die bye wees… Sien binnekort hoe hulle hul koppe gaan draai weg van hom af!!

Boet Fasie ·

Kan ons nie begin om Nkandla te beset nie , die verbeterings was mos onregmatig gedoen met belastingbetaler geld.

LHS ·

Waarom word hy nie gearresteer en dan word die sake krimineel ondersoek nie, wat maak hom anders as enige ander saboteur ?

Johanna Botha ·

Hoe die mense SO n man kon kies as hulle leier ….nou sukkel die wat so anc hier net nog meer en trek almal en die hele land saam met hulle af …ons verdien die junk status !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.