Staatskapingondersoek: ‘Guptas het besoek aan China gelei’

Vytjie Mentor getuig voor die kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Gertrude Makhafola/ANA

Voormalige ANC-LP Vytjie Mentor het Maandag aan die kommissie van ondersoek na staatskaping gesê sy het Duduzane Zuma vir die eerste keer in 2010 ontmoet op ʼn eersteklas- Emirates-vlug van China na Dubai vir ʼn amptelike besoek wat deur Transnet betaal is.

Mentor was destyds die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir openbare ondernemings. Sy het gesê sy het Duduzane uit mediaberigte oor hom herken. Hy het aan haar gesê hy wil haar aan ʼn man voorstel.

“Hy het op die vliegtuig aan my hokkie kom klop en homself voorgestel as Duduzane Zuma. Hy het toe nog ʼn persoon, Fana Hlongwane, aan my voorgestel. Hy het gesê: ‘Kan ek jou aan my voorsitter voorstel,’” het Mentor gesê.

Sy het bygevoeg Rajesh Gupta was op dieselfde vlug. Mentor het erken sy het gesukkel om ʼn onderskeid tussen die Gupta-broers, Ajay en Atul, te tref. Sy sê sy het hulle van mekaar onderskei deur na hul liggaamsbou te kyk.

Sy het ook in haar boek vir Brian Hlongwa en die sakeman Fana Hlongwane met mekaar verwar. Hlongwa is die ANC se hoofsweep in die Gautengse wetgewer. “In my boek [No Holy Cows – Moments in My Political Life] het ek dit verkeerdelik gestel dat Duduzane Zuma my aan Brian Hlongwa voorgestel het, maar dit was Fana Hlongwane. Ek het nog altyd die twee met mekaar verwar,” het sy aan die kommissie in Johannesburg gesê.

Mentor sê by hul aankoms in China het sy besef die drie Gupta-broers was in beheer by die vergaderingsaal. Almal het een of twee akkreditasie-tekens om hul nekke gedra, maar die Gupta-broers het elkeen drie gehad, het sy gesê.

“Hulle was oral en het drie merkers gedra wat hulle ʼn baie amptelike, belangrike rol gegee het. Hulle sou van tyd tot tyd met [Rob] Davies [minister van handel en nywerheid] praat en hy sou aan hulle terugvoer gee.” Een van die Gupta-broers het later aan haar gesê dat hulle die SA afvaardiging aan China lei.

Sy het gesê sy was seergemaak nadat sy in die saal tydens ʼn konsultasievergadering eenkant toe geskuif is.

“Ek het baie nou saamgewerk met Davies en Maite Nkoana-Mashabane [tans minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming], en het saam met haar na Tunisië gereis. Maar die ontvangs wat ek by die saal gekry het, was uiters koud en ontstellend. Mense mag hul hande opgesteek en vrae gevra het. Ek het heeltyd daar gesit met my hand in die lug sonder dat ek ooit erken is,” het sy gesê.

Sy sê sy is ná die vergadering na haar hotelkamer waar sy ʼn oproep op die kamer se telefoon van een van die Gupta-broers ontvang het. Die man het vir haar gesê Zuma het hom opdrag gegee om haar te gaan haal vir ʼn vergadering met die voormalige president by China se staatshuis.

“Ek het hom gevra hoe hy weet in watter hotel ek bly en of hy ʼn Suid-Afrikaner is. Hy het aangehou om vir my te sê dat hy die gevorderde span van Suid-Afrika in China lei, en het later geïrriteerd geraak en gesê hy gaan die president inlig dat ek weier om te kom. En hy het dit ook gedoen.”

Sy sê sy het terug in Suid-Afrika probeer om met Zuma te vergader, maar “Zuma het vreemd opgetree”.

“Ek wou as ʼn vrou nie in die buiteland met hom vergader waar ek deur buitelanders rondgery is nie. Ek het vir my veiligheid gevrees en het besluit om huis toe te keer.”

Mentor het gesê voor die China-besoek was haar komitee bekommerd oor die voortdurende kragonderbrekings en het hulle drie agtereenvolgende vergadering met Eskom-beamptes gehad. Sy het gesê dat een Chinese staatsinstansie ook deel van die vergaderings was.

“Die Chinese staatsinstansie was ook deel van die vergadering en dieselfde instansie het my gekontak om my in kennis te stel van die staatsbesoek aan China,” het sy aan die kommissie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries du Toit ·

Aartskommunis Davis. Klink eerder vir my na AARTS KAPITALIS Davis.Maar dis mos wat die groot menere in die ou USSR was. Aarts kapitaliste.

Afrikaanse Knaap ·

Ek is seker hulle het vir Sjina Afrikaner plase ook below.

Rynhardt ·

Die volledige geheime ooreenkomste met China agter die skerms moet geopenbaar word!Wat het Anc en veral Gutptas uit Chinese ooreenkomste en onwettige transaksies gekry, asook wat het China uit alles gekry??Met grondonteiening het China ook n fortuin skielik kom bele in SA! Wat is weereens aan China belowe vir sy fortuin wat hier bele is? Trek die Guptas ook voordeel uit grondonteiening sonder vergoeding??Laat die nare wurms begin uitpeul!!!?????

Deon Meyer ·

Ongeag haar getuienis,Suid Afrika kan bly wees sy het nie ‘n pos as Minister gekry nie.So wat van ‘n TURKSVY het ek lanklaas gehoor getuig.

aj ·

As die polisie kriminele klagte teen die staatskapers (Guptas) en die LANDSVERRAAIERS (Zumas) begin ondersoek en arrestasies uitvoer, dan sal ek hoop kry vir die toekoms in SA.

Hierdie Kommissies is die ANC se strategie om die fluitjieblasers te ontmasker en hulle te straf!

Die Kommissie is ‘n tandelose ‘whitewash’ van die misdaad en die skuldiges.

Daar sal dadels van kom!

…. miljoene rande belastbetalersgeld later!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.