Staatskapingsondersoek: Voorbereidings kom op dreef

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Voorbereidings om die geregtelike kommissie wat staatskaping ondersoek op die been te bring en personeel daarvoor aan stel, is goed op dreef.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het Dinsdag gesê hy het nou die groen lig gekry om met die nodige prosesse te begin nadat pres. Jacob Zuma Vrydag die regulasies vir die ondersoek in die Staatskoerant vrygestel het.

Zondo het verduidelik dié regulasies verskaf die wetlike raamwerk vir die opstel van kommissies van ondersoeke.

“Die regulasies stel die voorsitter in staat om bewyse te versamel en getuies te dagvaar om voor die kommissie te kom getuig en enige dokumentasie in belang van die ondersoek voor te lê,” het Zondo gesê.

“Voor die regulasies gepubliseer is, het ek reeds in gesprekke getree met potensiale kandidate om in sleutelposisies aan te stel. Ek sal nou die gesprekke finaliseer en binnekort ʼn aankondiging oor die aanstellings maak.”

Zondo het gesê die soektog na ʼn gepaste perseel vir die kommissie se kantore en verhore is ook onderweg. “Ek sal ook binnekort aankondig waar die perseel gaan wees,” het hy bygevoeg.

Zuma het Zondo op 9 Januarie, op aanbeveling van hoofregter Mogoeng Mogoeng, as voorsitter van die kommissie aangewys.

Zuma het op 13 Desember ʼn tweede bloedneus in die hooggeregshof in Pretoria gekry toe ʼn volbank regters eenparig Zuma se aansoek dat Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se staatskapingverslag hersien moet word, met koste verwerp het. Die hof het toe ook beslis Zuma moet binne 30 dae ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aanstel om kwessies wat in die staatskapingverslag genoem word te ondersoek.

Dit kom nadat die hof vroeër beslis het Zuma moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die koste van die hofaansoek wat hy in 2016 ingedien het om ʼn interdik te verkry wat Madonsela sou verhoed om haar staatskapingverslag vry te stel. Dié uitspraak is eenparig deur ʼn volbank regters beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques Venter ·

Kan iemand n berekening maak van hoeveel Zuma die land gekos het?

Alida ·

Ons wil eerder nie weet nie!!!! Dit is nie net Zuma wat die land gekos het nie maar al sy aanhangers wat hy so links en regs aangestel het in hoë poste om hom en hulself te verryk. Iemand het anderdag uitgewerk daar kon 780 000 gedienste huise vir armes gebou gewees het. Dit is skrikwekkend. Nou moet daardie geld van iewers verhaal word. Nugter weet waar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.