Staatskapingsverslag: Opposisiepartye se aansoek suksesvol

Pres. Jacob Zuma en adv. Thuli Madonsela

Pres. Jacob Zuma en adv. Thuli Madonsela

Die Pretoriase hooggeregshof het Dinsdag beslis dat vier opposisiepartye en Vytjie Mentor mag ingryp in pres. Jacob Zuma se aansoek om ʼn interdik te bekom teen die openbare beskermer se vrystelling van die sogenaamde staatskapingsverslag.

Hooggeregshofregters Dawie Fourie, Dunstan Mlambo en Phineas Mojapelo het vandag opposisiepartye se vertoë aangehoor. Die aansoek is met koste toegestaan.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, vir die Ekonomiese Vryheidsvegters, het vroeër gesê daar is geen dringendheid in Zuma se aansoek nie, wat nou intussen ook deur Des van Rooyen, minister van samewerkende regering, en Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, ondersteun word. Volgens hom kan die hof ʼn aansoek van die hand wys indien die dringendheid daarvan self geskep is.

“Mnr. Van Rooyen het al op 12 Oktober geweet, want die openbare beskermer het vrae aan hom gestuur oor sy gereelde besoeke aan die Gupta-familie. Hy het op hierdie vrae reageer,” het Ngcukaitobi gesê. Hy het reageer op Van Rooyen se beswaar, dat hy nie voldoende tyd gegun is om op die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela se vrae te reageer nie. “Die vraag oor Van Rooyen se gereelde besoeke was al van 12 Oktober deel van die openbare beskermer se besware. Die idee van dringendheid was die werklike rede waarom mnr. Van Rooyen hierdie hof op 14 Oktober genader het. Hy het geglo iets negatief gaan oor hom gesê word. Wat het intussen verander? Dit is dieselfde storie.”

Adv. Dali Mpofu, vir die United Democratic Movement en Congress of the People, het gesê Zuma, Van Rooyen en Zwane se aansoek om ʼn dringende interdik is ongegrond. “Die gronde van dringendheid is vals en dit bestaan nie. Dit is bloot ʼn poging om ʼn uitstel te bekom wat deur die agterdeur gesoek word. Daar is geen dringendheid nie. Daar is geen gronde nie,” het hy gesê.

Adv. Anthea Platt, vir Zuma, het aan die hof gesê nie die opposisiepartye of enige ander individu het ʼn wetlike standpunt om in te gryp in die hofsaak nie. Platt het gesê die bevindings in die verslag het nie ʼn invloed op die partye wat probeer ingryp nie.

Zuma en die ministers poog om die bekendmaking van die verslag te verhoed.

Die Demokratiese Alliansie, EFF, UDM, Cope en voormalige ANC-LP Vytjie Mentor, het die aansoek teengestaan.

Die verslag het bewerings ondersoek dat die welgestelde Gupta-familie onbehoorlike invloed gehad het in die aanstelling van ministers.

Lees alle vorige berigte oor die staatskaping op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Basjan ·

Nou ja toe, nou’s dit Appelhof en dan Konstitusionelehof toe – alles op ons koste.
Om te dink ons betaal vir iets wat tot ons nadeel is. Eish!

Johan ·

Jy het die kat aan die stert beet. Hierdie aansoek is ‘n dringende aansoek. Twee woorde, dringend en aansoek.
Dringend – dit beteken dat die saak spoedeisend afgehandel behoort te word omdat die Applikante se regte op geen ander manier beskerm kan word nie. DIT IS NIE ‘n tussentydse bevel nie. Dus, die tekens is daar dat die dringendheid nie gaan slaag nie, dus afgewys gaan word.
Word die aansoek op grond van dringendheid afgewys, onthou, die saak word nog steeds beredeneer, mag die Applikante slaag op grond van die meriete van die saak – wat onwaarskynlik is om redes wat nie nou ter sprake is nie.
Slaag of verloor, die aansoek is dan res iudicata – finish en klaar. Die enigste wat dan oorbly is om toestemming by die hof te vra om te appelleer. Dit gaan nie maklik toegestaan word indien die 3 regters ‘n eenparige beslissing gee nie.
Normaalweg word sulke sake deur slegs 1 regter aangehoor. Dink maar aan die E-tol debakel. Drie regters beteken dat die appèl deur ‘n volbank van die Pretoria HH of deur die Appèlhof aangehoor gaan word. Die kanse dat ‘n eenparige besluit van 3 regters of indien nie eenparig nie, maar met dieselfde resultaat, tersyde gestel gaan word is nie goed nie.
Konstitusionele Hof toe kan die saak nie gaan nie want daar is geen konstitusionele vraagstuk nie.
Dit is natuurlik moontlik dat die Applikante allerlei truukse kan probeer. Persoonlik meen ek dat hierdie die laaste stuiptrekkings van numba 1 is.

marlene ·

Ag komaan mense! Almal het genoegsame tyd gehad om te reageer. Adv Thuli Madonsela het nog altyd opgetree vir die publiek. Suid Afrikaanse burgers het die reg om die verslag te sien. Sy het nog nooit onregverdig opgetree nie, maar bloot die waarheid ontbloot.

dirk ·

die Guptas se invloed is ou nuus, en alombekend. daar is baie erger dinge wat zuma en sy kaders aangevang het – – dis die goed wat moet uitkom

Justice ·

SARS kan met plesier al my belasting geld aanwend vir die massiewe kostes wanneer die Appelhof en Konstitusionele hof Zuma en sy trawante se doppie finaal gaan klink. Hulle mag tot hierdie keer iemand omkoop om die saak vinniger afgehandel te kry – ek sal tjoepstil bly.

Callie van der Merwe ·

Zumpie sal hierdie ding speel tot aan die einde. Geregtigheid en waarheid is n onbekende konsep in SA. Voel verskriklik om te dink ons het n President wat niks voel vir sy land of mense nie!

popeye ·

Ek sal nie verbaas wees as; buiten al Zuma en die Guptas se goggas wat hopelik gaan uitkom, daar ook inteendeel bewyse gaan wees van erge ekonomiese markte manipulasie ook. Die beginsel is eenvoudig…koop ‘n aandeel terwyl pryse laag is (Nenegate) en verkoop weer dadelik sodra die mark begin herstel(Gordhan aanstelling), maklike wins. Op die gelmark weer kan tipies groot wins behaal word met ‘n swak rand met uitvoere (iets wat die Guptas sekerlik uit munt geslaan het met hul mynbedrywighede en wie weet watter smousery andersins). Ons het nou al gesien daar is politieke en ekonomiese beginsels en dan is daar Zupta beginsels vir beide

Leendert ·

Nou wonder ek wat dink die nuwe OB hiervan, sy wat nou onlangs beduie het sy sien uit daarna om ‘n opbouende verhouding met die regering te hê? Hierdie is mos hoe konstruktief die regering is. Dink sy nog steed sy gaan hierdie katjie vertroetel dat hy purrr en dit sonder handskoene aanpak?

Rynhardt ·

Met die “All crook game” wat agter die skerms plaasvind (almal het n houvas op mekaar m.b.t.inligting), word daar nog steeds woes gestoei(rowwer as die WWE) om staatskapingsverslag vry te stel! Die vraag wat ek het is, hoe veilig is daai staatskapungsverslag bewaar en gaan die publiek alles hoir oor Zuma en die ongure karakters?? Is die verslag nie reeds gedokter nie, daarom die vertraging om dit vrygestel te kry?? Dit is so n groot sirkus en om te dink die Anc wil misdaad uitroei, maar hy kan nie eens die verslag van sy mees omstrede president en die ongure karakter-vriende vrystel nie!Die politiek is n groot grap met almal wat hof toe hardloop, maar die publiek en land kom beslis nie eerste by al die politieke hansworse nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.