Staatskapingverslag: Zuma se hofaansoek aangehoor

Pres. Jacob Zuma tydens vanjaar se Jeugdagvieringe in Ventersdorp (2017) Foto: @PresidencyZA, Twitter

Pres. Jacob Zuma se teenaansoek teen die DA se hofaansoek om hom te dwing om ʼn geregtelike kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping op die been te bring, sal Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, het aanbeveel dat Zuma ʼn kommissie van ondersoek aanstel wat onder die hoof van ʼn regter sal staan. Die DA het die hof genader om te beslis dat Zuma versuim het om aan Madonsela se aanbevelings gehoor te gee.

Zuma het intussen Madonsela se staatskapingverslag, wat veral lig werp op Eskom se saketransaksies met die omstrede Gupta-familie, op hersiening geneem omdat hy nie met haar aanbeveling om die kommissie van ondersoek aan te stel saamstem nie. Madonsela het aanbeveel dat ʼn regter deur hoofregter Mogoeng Mogoeng aangestel moet word om die kommissie te lei wat verder ondersoek moet instel na die kanalisering van staatshulpbronne na sakemanne met noue politieke bande.

Madonsela het Zuma 30 dae gegee om die kommissie van ondersoek aan te stel en die DA het hof toe gegaan om hom te dwing om hierdie aanbeveling te implementeer. Die president voer egter aan dat die Grondwet alleenlik vir hom die mag gee om die hoof van ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aan te stel.

Zuma het in Junie ʼn teenaansoek ingedien teen die DA se hofaansoek oor die saak. In die hofdokumente voer hy aan hy is nie verplig om aan die aanbevelings in die verslag gehoor te gee as hy twyfel oor die korrektheid daarvan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mielie ·

Al wen die DA die rondte Zuma sal nogsteeds nie daaraan gehoor gee nie. Dit sal weer geappelleer en vertraag word. Hierdie man kom met so baie weg. Hy is nes JM untouchable…..

De Villiers ·

Van die os op die jas oor staatskaping, kan Shabir Shaik nie ook by die ondersoek na staatskaping ingesluit word nie? Wat hy gedoen het, is presies dieselfde as die Guptas, en ook met Zuma. Tans is hy op mediese parool, want hy is so siek dat hy gholf moet speel om gesond te bly, nou al vir ‘n paar jaar. Hy is g’n terminaal siek nie, en niks word verder aan sy saak gedoen nie.

Anoniem ·

Interessant hoe Zuma hare kloof oor die korrektheid van Thuli se verslag.

Het ons maar ‘n prez gehad wat met dieselfde vergrootglas gekyk na die korrektheid van sy eie optrede! Dan was Suid-Afrika ‘n rasende sukses vir al sy burgers.

Zansie ·

Ai die Jakals het mooi by die groot induna in Zim. geleer. Net hy is reg. Hy sal weer sy sin kry en daar sal dadels van kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.