Staatspensioen-­‘reddings­boei’ vir Eskom veroordeel

Argieffoto: GCIS

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se besluit om ʼn oorbruggingsgerief van R5 miljard aan Eskom toe te staan, is wyd veroordeel.

“Die OBK is deur Eskom genader en die kragreus het aangedui dat hy enorme likiditeitsbeperkings ervaar. Die OBK het sy eie noulettendheidstudie gedoen en goedkeuring gekry in ooreenstemming met sy mandaat en korporatiewe bestuursvereistes,” het die OBK in ʼn gesamentlike verklaring met Eskom gesê.

“Die staatspensioenfonds en die OBK-raad is gerus, want die gerief word ten volle deur ʼn staatswaarborg gesteun en die prys van die lening is gunstig vir die staatspensioenfonds.” Die OBK bestuur die staatspensioenfonds se bates.

Dan Matjila, uitvoerende hoof van die OBK, het gesê hy is bemoedig deur die nuwe Eskom-direksie en -bestuurspan. “Die staatspensioenfonds en die OBK is bemoedig deur die spoedige optrede van die nuwe raad en bestuur om goeie korporatiewe beheer by Eskom te herstel.”

Die Vereniging van Staatsamptenare (PSA) het die OBK gekap oor die besluit. “Die PSA is geskok deur die besluit van die OBK-raad en voel verraai aangesien al die partye in beginsel ooreengekom het dat geen staatsinstellings ʼn reddingsboei sal kry totdat ons tevrede is dat korporatiewe beheer by die instellings verbeter het nie. Ons staan die reddingsboei teen ongeag hoe dit bewoord word.”

Die PSA het intussen ook met regstappe gedreig en gesê die OBK-raad kan nie vertrou word nie. “Dit is nou duidelik dat ons nie die direksies van die staatspensioenfonds en die OBK kan vertrou om na ons lede se pensioene om te sien nie.” Volgens die PSA het hy met sy regspan vergader oor die moontlikheid om die OBK-raad se samestelling onwettig te verklaar.

Die vakbondfederasie Saftu het ook die OBK se besluit veroordeel. Patrick Craven, waarnemende woordvoerder van Eskom, het gesê die kragreus is ʼn uiters onsekere belegging gegewe berigte dat die kragvoorsiener op die randjie van bankrotskap is en tans ondersoek word deur ʼn parlementêre komitee rakende korrupte en bedrieglike onderhandelinge met maatskappye wat deur die Gupta-familie besit word.

Cosatu het egter ʼn ommekeer gemaak en gesê hy ondersteun die reddingsboei “teësinnig”. Dit kom nadat Cosatu ʼn paar maande gelede vir Malusi Gigaba, minister van finansies, gewaarsku het om nie die staatspensioenfonds te gebruik om sukkelende staatsinstellings te finansier nie.

“Ons verstaan die rol wat Eskom in ons ekonomie speel en ons dink ook aan die uitwerking wat ʼn inploffing by die kragvoorsiener op die ekonomie en werk in die algemeen sal hê. Ons bly ook vasbeslote dat die kragvoorsiener in die hande van die regering moet bly,” het Cosatu in ʼn verklaring gesê.

Eskom het gesê hy het ook ander leners genader vir finansiering. Eskom het verlede week bekend gemaak dat sy skuld tot R367 miljard gestyg het. Die kragvoorsiener se inkomste vir die ses maande tot einde September het tot R95,5 miljard gedaal.

Eskom se wins ná rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (Ebitda) het tot R30 miljard gedaal. Teen einde September 2016 was dit R32 miljard.

Eskom se netto wins ná belasting beloop R6 miljard. Teen einde September 2016 was dit R10 miljard. Die kragreus se likiede bates het van R30 miljard tot R6 miljard gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

honourable member ·

ALtyd besig met ander mense se pensioenfondse. Hulle moet leef van daai geld eendag. Besnoei bietjie aan die vet bonusse van Eskom mense en los ander mense se pensioene uit !!

Ferdie ·

Dankie Vader my pensioen is nie by hulle nie. Eers vermors hulle dit op tolpaaie wat nie werk nie en nou op ESKOM wat dit HOE gaan terugbetaal? As hulle nou nie die geld het nie gaan hulle verseker dit ook nie aan die einde van die maand he nie .. Dalk is ek maar net pessimisties. Julle wil kamstig die ESKOM werknemers se poste beskerm maar WAT van die pensioene van duisende staatsamptenare? Sies man dit is skandelik~!

Attie No1 ·

Doen die wiskunde. Netto wins vir 6 maande 6Miljard, so kom ons se 12Miljard vir 12maande. Met skuld van R367Miljard en sonder om die volgende eens te probeer in ag neem: duurder rente, onvoorsiene instandhouding of vervanging van verouderde kragsentrales, sal dit hulle amper 31 jaar vat om die skuld terug te betaal! Sal jy wil bele?

Theresa ·

Dankie vir die wiskunde, Attie No 1. Mense besef nie altyd hoe striemend foutiewe besluite is en watter vernietigende effek dit op lewens kan hê nie. Ek as leek wonder telkens wat IS die probleem (by WIE lê die probleem) dat die begrootte bedrae jaarliks nie ordentlik bestuur en benut word nie. Waarom altyd vingers inlê in bv. die pensioenfonds?

louwtjie ·

ek het in 23 jaar wat ek aan die gepf se pensioenfonds behoort nog nooit ‘n bonus ontvang nie, maar gepf leen geld aan Eskom sodat hul belaglike bonusse kan uitbetaal? maak glad nie sin nie?

louwtjie ·

ek het in 23 jaar wat ek aan die gepf se pensioenfonds behoort nog nooit ‘n bonus ontvang nie, maar gepf leen geld aan Eskom sodat hul belaglike bonusse kan uitbetaal? maak glad nie sin nie?

Grassie ·

Die staatsdienspensioenfonds het al reeds slae gekry met die finansiering van die omstrede tolpad, wat ‘n fiasko was, en ‘n nog groter terugslag met die Steinhoff bedrogspul. Nou wil hulle nog miljarde rande in ‘n bankrot, vrotsige instelling soos Eskom “belê”- dit laat ‘n mens dink watter ander riskante beleggings het hulle dalk ook gemaak. Hulle het blykbaar die Waterfront in Kaapstad ook befonds, ek weet nie of dit ‘n goeie of slegte belegging is nie maar ek is bekommerd omdat die plek al ‘n paar maal van eienaars verwissel het.
Ek wens die ANC-kaders wat in beheer van die staatsfinansies gekom het wil hul hande van ander mense se pensioene afhou. Maar waar daar te aas is sal hulle aas, veral as daar ‘n paar rand onder die tafel deur kom.

Koos1 ·

Ek is ‘n staatsdiens pensioen betaler en ek wil net ‘n paar vrae vra:
1. Wat gaan R5 mij help met die totale skuld van amper R400 Mij. Dis soos om ‘n vienna in ‘n gang af te gooi, behalwe as ESKOM daai geld ook gaan laat verdwyn in iemand se sakke en dan sê oeps.
2. As OBK die geld gaan leen, maak dit hulle dan nou ‘n vernoot? Gaan ek nou as bydraer toe daai geld, nie meer elektrisiteit hoef te betaal nie?
3. Die maatskapy wat die OBK in wil belê se wins val vinniger as die waarde van die Bitcoin. Kan enige iemand so stupid wees om in so ‘n maatskappy te belê? Koop eerder Steinhoff aandele. Baie minder om te verloor!!!

Fioletta ·

Ek is ‘n Semi-staatdiens pensioen betaler. My pensioenfonds het op navraag HEFTIG ontken dat die semi-staatdiens vir wie ek werk deel is van die staat. Dit is baie kommerwekkend. Ek is nie in ‘n situasie om oorhaastig te kan bedank nie. Die R5bn lening sal nooit terugbetaal word nie. Soos Grassie dit tereg stel, “waar daar te aas is sal hulle aas”

TLC ·

Fioletta ek tree af oor 3 jaar die jaar is ek 1st November 30 jaar by semistaat ek raak bang baie bang my man al 10+ jare oorlede so dit is net my inkomste wat ek het. Ek het geen idee wat toekoms inhou nie maar dit lyk nie goed nie. Want soos vorige gevalle gaan die geld in iemand se sak of aan bonusse betaal word en geen haan gaan daarna kraai nie

Tammy ·

Hoe kan hierdie mense hulle hande op die staatspensioenfonds le. Dis blatante diefstal. Hoeveel ongerymdhede gaan plaasvind???? Solariteit asseblief help.

Lynette ·

Ek stem saam met Koos1 — my vraag was ook hoe gaan hulle dit terug betaal. Dan wat gebeur in Maart ens…….. gaan daar nou elke maand vir hulle gelde oorbetaal word. As die geld deel van bonusse is — wil ek weet wat se bonus … die plek word swak bestuur en daar word bonusse uitbetaal? Maak glad nie sin nie.

jean ·

Alles wat korrup en boos is in hierdie ou landjie maak vir hulle sin…..Gigaba wil weet waar die pensioene belê word?….Net om meer met die maatjies en trawante wat nie wil gaan nie bymekaar te maak………….

Antjie ·

Ek glo elke pensioenskema het die verantwoordelikheid om fondse te bestuur na die beste belang van die LEDE. Geen werkgewer besit ʼn pensioenskema vir sy eie gerief nie. Dit geld ook vir GEPF. As fonds vir die staatsamptenare is dit als 100x erger. Ek glo soveel meer dat dit dalk strafregtelike klagtes nou al regverdig teen diegene wat die besluit geneem het. Dis nodig dat die media hierdie moontlikhede ernstig oorweeg en bespreek. Hoe gouer, hoe meer kan gered word.

Vra net ·

Gaan daar pensioen geld wees vir die mense wat op een of ander stadium beplan om op pensioen te gaan? Wat as daar nie meer geld in die pensioen fonds is nie? Hoe gemaak dan? Hoe gaan hierdie geld terug betaal word en wanneer?
Dankie tog my man werk nie vir die staat nie.

bgj van der westhuizen ·

onthou die wat dit so uit deel het nooit gewerk vir daar die geld nie dis hulle is nie gepla of daar geld gaan wees nie

Blondie ·

Ons boer elke dag net meer en meer agteruit as gevolg van korrupsie & onbevoegde bestuur. Verlede maand was dit dieselfde storie met die bankrot SAL. Jaar in en jaar uit moet reddingsboeie na bankrot instellings gegooi word. Die son is besig om met ‘n vinnige spoed te sak oor Suid~Afrika!

Jean ·

Jip…
Nie Eskom eerder Eksdom!
Die sinkende skip Suid Afrika!

Willie ·

Dit skep ‘n reddingsboei vir meer as een staatsinstelling, sonder toestemming van die bydraers. Dit is die grootste risiko.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.