Staatspensioenfonds: ‘Die spaarvarkie is amper leeg’

(Argieffoto: pixabay)

Die einste pensioenfonds waarop die regering hom beroep om Eskom uit sy finansiële verknorsing te red, is self op ʼn skerp afwaartse groeipad en hoewel afgetrede staatsamptenare nog steeds hul pensioen kry, moet hulle liefs nie staatmaak op jaarlikse aanpassings wat inflasie 100% dek nie.

Die solvensie van die Staatsdiens Pensioenfonds (GEPF) word ernstig bedreig deur groeiende bedryfskoste wat saam met onderpresterende beleggings bygedra het om die fonds se beskikbare reserwes uit te put. Die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Regeringspensioene (AmaGP) sê sodra die fonds se bates (R1,8 triljoen in 2019) nie meer die pensioenlaste kan dek nie, is die fonds se solvensie in gedrang. “Ons projeksies dui aan dat die fonds reeds hierdie stand bereik het.”

Die vereniging se woordvoerder, oudlanddros, Adamus Stemmet, het aan Maroela Media gesê die effek sal veral gevoel word deur pensioentrekkers wat minder as R10 000 per maand ontvang. Meer as die helfte (59%) van die GEPF se lede val in hierdie kategorie. Dit sluit 91% weduwees in wat tussen R5000 en R 10 000 per maand kry.

“Die pensioenfonds kan nie meer uitspattighede soos Steinhoff, Ayo Technology, of VBS Bank bekostig nie, die spaarvarkie is leeg en daar is niks oor vir die regering en Cosatu se beplande avonture met ons pensioengeld nie,” sê Stemmet.

“Die situasie waarin die GEPF hom bevind word aangehelp deur die buitensporige koste wat aan beleggingsuitgawes bestee word en nie versoenbaar is met die groei in die beleggingsbalans en produktiwiteit van hul bates nie,” sê Christo van Dyk, ʼn afgetrede ouditeur wat die GEPF se jaarverslae sedert 2007 vir AmaGP ontleed het.

Van Dyk se analises en projeksies is gebaseer op uitkomste wat sigbaar is by die fonds en weerspreek die kontrole en oorsig wat die GEPF beweer hy toepas. “Dis ʼn illusie dat daar effektiewe kontrole is,” sê Van Dyk.

Luidens finansiële state het die GEPF byvoorbeeld tussen 2014 en 2019 R137,8 miljard, of meer as 35% van die R386,1 miljard wat die fonds aan pensioenbydraes ontvang het, nie belê nie. Die fonds het dit aan voordele uitbetaal en aan bedryfskostes bestee wat in gewone taal beteken dat R1 uit elke R3 só aangewend is.

“Dis verbasend dat vakbonde en personeelverenigings hierdie wanaanwending van pensioenbydraes blykbaar gelate aanvaar,” sê Van Dyk. “Die beleggingsuitgawes het sedert 2007 met 900% toegeneem, terwyl die beleggings met slegs 270% gegroei het. Terwyl beleggingsuitgawes dus eksponensieel toegeneem het, is dieselfde “groei” nie naastenby in die beleggings gesien nie.”

(Foto: Maroela Media)

Die somber prentjie wys ook ʼn groeiende lys van beleggingsbestuurders, adviseurs, administrateurs en amptenare wat salarisse, fooie en bonusse verdien wat die inflasiekoers en die fonds se geproduseerde resultate, by verreweg oorskry.

Hoewel die fonds se adviseurs deur die Openbare Beleggings Korporasie (OBK) aangestel en betaal word, maak hul vergoeding deel uit van die beleggingsuitgawes van die GEPF wat die eienaar van die belegging is. Van Dyk sê dié uitgawes, wat in die fonds se geouditeerde finansiële state weerspieël word, het sedert 2014 tot ʼn onaanvaarbare vlak toegeneem. “Vanaf 2014 is die werklike beleggingsuitgawes ver bokant die historiese gemiddeldes en redelikheidsdrempel.”

Dion George, die DA se adjunk-skaduminister van finansies, het nie doekies hieroor omgedraai nie: “Die finansiële verslae weerspieël buitensporige uitgawes wat ongetwyfeld aan politiek verbonde trawante betaal word. Dit is eintlik diefstal van die pensioenarisse se geld.”

George sê lede van die fonds ervaar ook ʼn beduidende agteruitgang in die gehalte van die diens wat hulle van die fonds ontvang, wat ook ʼn verdere simptoom is van ʼn groeiende krisis binne die GEPF. “Dit sal waarskynlik nog verder vererger as gevolg van Covid-19.”

AmaGP meen die solvensie (al dan nie) van die fonds is ʼn wesenlike feit wat dringend en sonder versuim volledig bekend gemaak moet word, veral aan lede wat vroeë aftrede oorweeg. “Dit is die plig en verantwoordelikheid van die GEPF-trustees om te alle tye ten volle en deursigtig met die fonds se kliënte te kommunikeer en dit word nie gedoen nie.”

In reaksie hierop het die GEPF gesê hulle is bekommerd oor die AmaGP se uitlatings en verwerp dit.

“Die GEPF glo dat sulke uitsprake onverantwoordelik is, omdat dit onnodige angs by ons lede en pensioenarisse veroorsaak wat daartoe lei dat lede bedank en dikwels onvoldoende fondse het en swaarkry na aftrede.”

Die fonds se woordvoerder, Matau Molapo, het aan Maroela Media gesê dis belangrik om daarop te let dat die GEPF ʼn vasgestelde pensioenvoordeelfonds is wat waarborg dat lede hul voordele sal ontvang – soos deur die wet bepaal – wanneer hulle hul aan die fonds onttrek, ongeag die bydraes en beleggingsprestasie van die fonds.

“Sedert 1996 het die fonds gegroei van R127 miljard tot ongeveer R 1,8 triljoen op 31 Maart 2019. Die fonds het voldoende fondse om sy verpligtinge te dek en opgehoopte fondse en reserwes het tussen 2009 en 2019 teen ʼn gemiddelde koers van 11,2% gegroei.”

Molapo sê volgens wet moet die GEPF elke drie jaar deur ʼn aktuaris gewaardeer word en die 2018-waardasie het getoon dat die GEPF 108,3% befonds is. “Dit beteken daar is voldoende bates om die aktuariële verpligtinge ten volle te dek.”

Molapo wys daarop dat ʼn pensioenfonds bestaan ​​om voordele te betaal en namate ouer lede met lang diens meer word as die bydraende lede, sal die uitbetaling van voordele ook meer wees as die bydraes wat ontvang word.

Sy sê die fonds se direksie en bestuur neem hul fidusiêre pligte ernstig op en tree te alle tye in die beste belang van sy lede, pensioenarisse en begunstigdes op.

Na aanleiding van die fonds se antwoorde sê Van Dyk die GEPF praat in die algemeen sonder dat hulle enige verifieerbare data verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elmarie

Hoekom lig GEPF nie sy lede in oor wat hulle met die geld maak nie. Nou wat maak mens nou. Bedank jy terwyl daar nog geld oor is of bly jy aan en hoop maar dat daar wel geld sal wees die dag met aftrede. Dis skokkend

Ertjie

So sal alles – en ek bedoel ALLES – geplunder word!

Pieter

Na aanleiding van die fonds se antwoorde sê Van Dyk die GEPF praat in die algemeen sonder dat hulle enige verifieerbare data verskaf.”

Algehele probleem in die land, verbale diaree, praat sonder die verifieerbare data. Die president van Suid Afrika is ook ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Maar die probleem by dié pensioenfonds bestaan ook by ander pensioenfondse en privaatbeleggings. Hoë fooie vir beleggings -en finansiële advies met ‘n lae opbrengs terwyl jy beter opbrengs sonder onkostes op die geldmark kan kry. Dit maak nie sin nie.

JohanR

Sien julle al hoe staan die ANC, en al die wet ministers om die spaar varkie, en skud hom, draai hom om en om, kyk binne, skud hom weer en se aan mekaar “daar moet net meer wees!” “Skud hom weer Tito.”

Johan

Ek sal graag wil weet wie is die aktuaris wat die fonds geoudit het. Hulle het die vermoe om aan iets te raak of om oor dit te loop dan vrek , vrot of verdwyn dit . Al die goed maak ons siek en naar en ons is nie eens swanger nie.