Staatspensioenfonds: ‘Die spaarvarkie is amper leeg’

(Argieffoto: pixabay)

Die einste pensioenfonds waarop die regering hom beroep om Eskom uit sy finansiële verknorsing te red, is self op ʼn skerp afwaartse groeipad en hoewel afgetrede staatsamptenare nog steeds hul pensioen kry, moet hulle liefs nie staatmaak op jaarlikse aanpassings wat inflasie 100% dek nie.

Die solvensie van die Staatsdiens Pensioenfonds (GEPF) word ernstig bedreig deur groeiende bedryfskoste wat saam met onderpresterende beleggings bygedra het om die fonds se beskikbare reserwes uit te put. Die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Regeringspensioene (AmaGP) sê sodra die fonds se bates (R1,8 triljoen in 2019) nie meer die pensioenlaste kan dek nie, is die fonds se solvensie in gedrang. “Ons projeksies dui aan dat die fonds reeds hierdie stand bereik het.”

Die vereniging se woordvoerder, oudlanddros, Adamus Stemmet, het aan Maroela Media gesê die effek sal veral gevoel word deur pensioentrekkers wat minder as R10 000 per maand ontvang. Meer as die helfte (59%) van die GEPF se lede val in hierdie kategorie. Dit sluit 91% weduwees in wat tussen R5000 en R 10 000 per maand kry.

“Die pensioenfonds kan nie meer uitspattighede soos Steinhoff, Ayo Technology, of VBS Bank bekostig nie, die spaarvarkie is leeg en daar is niks oor vir die regering en Cosatu se beplande avonture met ons pensioengeld nie,” sê Stemmet.

“Die situasie waarin die GEPF hom bevind word aangehelp deur die buitensporige koste wat aan beleggingsuitgawes bestee word en nie versoenbaar is met die groei in die beleggingsbalans en produktiwiteit van hul bates nie,” sê Christo van Dyk, ʼn afgetrede ouditeur wat die GEPF se jaarverslae sedert 2007 vir AmaGP ontleed het.

Van Dyk se analises en projeksies is gebaseer op uitkomste wat sigbaar is by die fonds en weerspreek die kontrole en oorsig wat die GEPF beweer hy toepas. “Dis ʼn illusie dat daar effektiewe kontrole is,” sê Van Dyk.

Luidens finansiële state het die GEPF byvoorbeeld tussen 2014 en 2019 R137,8 miljard, of meer as 35% van die R386,1 miljard wat die fonds aan pensioenbydraes ontvang het, nie belê nie. Die fonds het dit aan voordele uitbetaal en aan bedryfskostes bestee wat in gewone taal beteken dat R1 uit elke R3 só aangewend is.

“Dis verbasend dat vakbonde en personeelverenigings hierdie wanaanwending van pensioenbydraes blykbaar gelate aanvaar,” sê Van Dyk. “Die beleggingsuitgawes het sedert 2007 met 900% toegeneem, terwyl die beleggings met slegs 270% gegroei het. Terwyl beleggingsuitgawes dus eksponensieel toegeneem het, is dieselfde “groei” nie naastenby in die beleggings gesien nie.”

(Foto: Maroela Media)

Die somber prentjie wys ook ʼn groeiende lys van beleggingsbestuurders, adviseurs, administrateurs en amptenare wat salarisse, fooie en bonusse verdien wat die inflasiekoers en die fonds se geproduseerde resultate, by verreweg oorskry.

Hoewel die fonds se adviseurs deur die Openbare Beleggings Korporasie (OBK) aangestel en betaal word, maak hul vergoeding deel uit van die beleggingsuitgawes van die GEPF wat die eienaar van die belegging is. Van Dyk sê dié uitgawes, wat in die fonds se geouditeerde finansiële state weerspieël word, het sedert 2014 tot ʼn onaanvaarbare vlak toegeneem. “Vanaf 2014 is die werklike beleggingsuitgawes ver bokant die historiese gemiddeldes en redelikheidsdrempel.”

Dion George, die DA se adjunk-skaduminister van finansies, het nie doekies hieroor omgedraai nie: “Die finansiële verslae weerspieël buitensporige uitgawes wat ongetwyfeld aan politiek verbonde trawante betaal word. Dit is eintlik diefstal van die pensioenarisse se geld.”

George sê lede van die fonds ervaar ook ʼn beduidende agteruitgang in die gehalte van die diens wat hulle van die fonds ontvang, wat ook ʼn verdere simptoom is van ʼn groeiende krisis binne die GEPF. “Dit sal waarskynlik nog verder vererger as gevolg van Covid-19.”

AmaGP meen die solvensie (al dan nie) van die fonds is ʼn wesenlike feit wat dringend en sonder versuim volledig bekend gemaak moet word, veral aan lede wat vroeë aftrede oorweeg. “Dit is die plig en verantwoordelikheid van die GEPF-trustees om te alle tye ten volle en deursigtig met die fonds se kliënte te kommunikeer en dit word nie gedoen nie.”

In reaksie hierop het die GEPF gesê hulle is bekommerd oor die AmaGP se uitlatings en verwerp dit.

“Die GEPF glo dat sulke uitsprake onverantwoordelik is, omdat dit onnodige angs by ons lede en pensioenarisse veroorsaak wat daartoe lei dat lede bedank en dikwels onvoldoende fondse het en swaarkry na aftrede.”

Die fonds se woordvoerder, Matau Molapo, het aan Maroela Media gesê dis belangrik om daarop te let dat die GEPF ʼn vasgestelde pensioenvoordeelfonds is wat waarborg dat lede hul voordele sal ontvang – soos deur die wet bepaal – wanneer hulle hul aan die fonds onttrek, ongeag die bydraes en beleggingsprestasie van die fonds.

“Sedert 1996 het die fonds gegroei van R127 miljard tot ongeveer R 1,8 triljoen op 31 Maart 2019. Die fonds het voldoende fondse om sy verpligtinge te dek en opgehoopte fondse en reserwes het tussen 2009 en 2019 teen ʼn gemiddelde koers van 11,2% gegroei.”

Molapo sê volgens wet moet die GEPF elke drie jaar deur ʼn aktuaris gewaardeer word en die 2018-waardasie het getoon dat die GEPF 108,3% befonds is. “Dit beteken daar is voldoende bates om die aktuariële verpligtinge ten volle te dek.”

Molapo wys daarop dat ʼn pensioenfonds bestaan ​​om voordele te betaal en namate ouer lede met lang diens meer word as die bydraende lede, sal die uitbetaling van voordele ook meer wees as die bydraes wat ontvang word.

Sy sê die fonds se direksie en bestuur neem hul fidusiêre pligte ernstig op en tree te alle tye in die beste belang van sy lede, pensioenarisse en begunstigdes op.

Na aanleiding van die fonds se antwoorde sê Van Dyk die GEPF praat in die algemeen sonder dat hulle enige verifieerbare data verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Elmarie ·

Hoekom lig GEPF nie sy lede in oor wat hulle met die geld maak nie. Nou wat maak mens nou. Bedank jy terwyl daar nog geld oor is of bly jy aan en hoop maar dat daar wel geld sal wees die dag met aftrede. Dis skokkend

Johan ·

Elmarie ons is op dieselfde pad as Zim , daar is geen pensioengeld oor nie as ek jy is vat ek nou wat ek kan kry want hulle waarsku jou alreeds daar gaan niks oor wees nie. Net die vet katte bo gaan pesioen kry die res gaan hoop op Sassa. Hulle is soos rysmiere eet die sagte hout en los die onsmaaklike vir iemand anders.

Lorna ·

Dit maak my baie bang
32 jaar nou by staat moet ek wag vir nog 9 maande of moet ek bedank
En by wie belê ek Dan my geld want onder my bed kan ek dit nie bere nie

daniel ·

En hulle het geld geruik in die private pensioenfondse, nie lank voordat dit ook beslag op gele word nie.

Pieter ·

Na aanleiding van die fonds se antwoorde sê Van Dyk die GEPF praat in die algemeen sonder dat hulle enige verifieerbare data verskaf.”

Algehele probleem in die land, verbale diaree, praat sonder die verifieerbare data. Die president van Suid Afrika is ook ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Maar die probleem by dié pensioenfonds bestaan ook by ander pensioenfondse en privaatbeleggings. Hoë fooie vir beleggings -en finansiële advies met ‘n lae opbrengs terwyl jy beter opbrengs sonder onkostes op die geldmark kan kry. Dit maak nie sin nie.

David ·

Christo van Dyk se analise het aangedui dat die fonds nie teen 108,3% befonds is nie

JohanR ·

Sien julle al hoe staan die ANC, en al die wet ministers om die spaar varkie, en skud hom, draai hom om en om, kyk binne, skud hom weer en se aan mekaar “daar moet net meer wees!” “Skud hom weer Tito.”

Johan ·

Ek sal graag wil weet wie is die aktuaris wat die fonds geoudit het. Hulle het die vermoe om aan iets te raak of om oor dit te loop dan vrek , vrot of verdwyn dit . Al die goed maak ons siek en naar en ons is nie eens swanger nie.

Vrijburger ·

Ek noem dit die “ANC Midas touch”. Alles waaraan hulle raak verander in ???. (Dit rym met twak.)

Adeline ·

Nice – wonderlik en wie DOEN iets omtrent die saak? Hoeveel mense dagvaar die staat hieroor? Is daar enige organisasie wat hierteenoor kan opstaan en dit keer? Vanaf 1993 word die land en regerings gelde geplunder nou wonner ek hoeveel goudstawe daar nog in die Reserwe Bank is en hoeveel is al weggedra waar “Black Matter” in beheer is? Wonner ernstig en kry ook nie antwoorde op my vrae nie.

Woeter ·

Die ANC het ‘n probleem, want die totale besparing van Suid-Afrika regering is 15% van BBP en ons fiskale tekort is ook 15% van BBP. Dit is die rede waarom ons ekonomie stagneer. Die oplossing is om die inkomstestrome van die regering te verhoog. Makliker gese as gedaan want die ANC-regering belas die belastingbetaler in so ‘n mate dat hulle eintlik nie meer belasting kan hef nie, en wanbestuur by SOE in so dat die beide bronne van inkomste uitgeput is.

Daar is 2 oplossings oor. Die een is dat die regering moet staatsbesteding drasties verminder. Die Ministerie van Ekonomie, Tito, het besef dat die IMF-lening strategies gebruik kan word om Suid-Afrika op ‘n reguit pad te hou, volgens die. IMF-leningsvereistes wat goeie bestuur vereis. Dit is slegs ‘n tydelike oplossing omdat dit die drieparty-alliansie ontstel is hieroor.

Die regering het nog 1 oplossing oor en hulle beplan reeds daarvoor soos vermeld in die berig. Dit is om in ons Oumas en Oupas se pension besparings wat so 15%

Woeter ·

van BPP uit maak in te vaar om SOE te herfinansier sodat SOE inkomste kan skep vir die regering. Maar hierdie besparings sal ook uitgeput wees.

Dit beteken dieregering staar ‘n skuldkrisis in die gesig, dit is ‘n situasie waarin ‘n regering die vermoë verloor om sy staatskuld terug te betaal. Maar daar is ‘n oplossing vir die skuldprobleem en dit is die druk van meer geld om skuld te betaal. Die addisionele probleem is dat die regering nie toegang tot die gelddrukmasjinerie kan verkry nie, aangesien die Suid-Afrikaanse Reserwebank volgens die SA Grondwet onafhanklik is. Die oplossing is die nasionalisering van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, wat beteken dat die oordrag van ‘n belangrike tak of nywerheid van privaat na staatseiendom of -beheer, sodat die regering toegang tot die SARB. Alhoewel die maklikste manier om skuld te betaal deur geld te druk, veroorsaak dit ook ‘n geldeenheid devalueer, en die ding met inflasie is dat dit iets is wat van homself voed, want as pryse styg, n

Woeter ·

neem inflasie toe en mense aanvaar dat inflasie gaan styg wat beteken dat hulle meer geld gaan bestee, wat meer vraag beteken, wat beteken dat meer prysstygings beteken, meer inflasie beteken. Dit kan lei tot hiperinflasie, en dus het die waarde van geld basies geen waarde nie.

Nou vra mens self as geld geen waarde het nie wat het wel waarde en dit is goud en grond. Dit is hoekom Onteiening van grond sonder vergoeding al ten sprake is want hulle die ANC beplan hier voor om Suid-Afrika in die afgrond in te stuur.

Woeter ·

Miskien net kortliks se:

1 Die ekonomie stagneer en die ANC kort n inkomste
2 Probleem is beide die Belasting betaler en SOE as bronne van Inkomste is uitgeput.
3 Oplossing is om spaar geld soos pensioenfonds te gebruik om SOE te herfinansier.
4 Dit gaan ly tot n staat skuld krisis
5 Oplossing is om SARB wat tans onafhanklik is te nationaliseer om geld te kan print.
6 Geskiedenis se dit gaan nie werk nie, ons gaan dan van stagflation na inflasie na hiperinflasie
7 As geld geen waarde het nie wat het wel waarde. Dit is goud en grond en die rede hoekom Grondonteiening sonder vergoeding ook op die kaarte is
8. So wat bly oor vir ons as Suid-Afrikaners en dit is goud.

Hoekom ·

Meng jouself met die semels en die varke eet jou op.

Ons regering is mooi beskryf in die boek Animal Farm. Dalk kan ons ‘n idee of twee uit daardie boek uithaal om ons en die land te red…

daniel ·

Dit is nie snaaks as enigiets wat met geld en die regering te doen het bankrot raak nie.

Realis Thailand ·

Julle weet mos as n anc lid se lippe beweeg lieg hy. Dis ingebore as hulle aansluit by die anc

Nie Verbaas ·

Ons weet mos nou al dat 1 + 1 = 11 volgens ANC kalkulasies.

Adam Adriaan ·

Ja die hiëhenas wat net lewe van geld rooftogte is al lankal besig om alles wat met geld te doen het op te vreet in SA

Anoniem ·

Arme staatsamptenare…………………….As daar nie meer geld is nie waar gaan Regering dan probeer leen????

Jan ·

Die GEPF probeer altyd troos deur te se: ” Die pensioen word gewaarborg deur die staat.”
Die vraag is egter; wat is die bankrot staat se waarborg werd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.