Staatsprokureur vertraag glo crimen injuria-saak teen polisiehoë

Adv. Phyllis Vorster (voor), ‘n aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid en Riana Stander, die klaer in die saak, buite die landdroshof. Ronel Blignaut (links) en Tanya Kennedy (regs) het Stander by die hof ondersteun. (Foto: AfriForum)

Die saak teen ʼn polisieoffisier wat daarvan beskuldig word dat sy ʼn kollega voor ʼn groep rekrute verneder het, is Donderdag uitgestel nadat die beskuldigde se regsverteenwoordiger aangevoer het die staatsprokureur moet die saak hanteer, maar dat dié nog nie die firma wat haar moet verteenwoordig, goedgekeur het nie.

Die aanklag van crimen injuria teen genl.maj. Sandra Malebe-Thema spruit uit ʼn voorval in 2016 toe sy glo beveel het dat Riana Stander (53), die klaer in die saak, en ander beamptes op ʼn verhoog moes staan waarna Malebe-Thema glo beledigende stellings oor hul kleredrag, velkleur en gewig gemaak het.

Die rekrute het Malebe-Thema glo luid toegejuig.

Sy het onder meer haar eie vraag oor wat fout was met die mense op die verhoog, beantwoord deur te sê dat hulle te wit is.

Stander het reeds in November 2016, net ná die voorval, ’n saakdossier oopgemaak. Weens die trauma en spanning wat die voorval veroorsaak het, is sy intussen medies ongeskik verklaar en het Stander die polisiediens verlaat.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat ʼn waaksaamheidsopdrag het, sê die saak is Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof tot volgende maand uitgestel om vas te stel of die prokureursfirma se aansoek by die staatsprokureur goedgekeur is. ʼn Verhoordatum sal ook dan bepaal word.

Volgens AfriForum het die staat nie die aansoek om uitstel, of die versoek dat die beskuldigde nie dan in die hof hoef te wees nie, teengestaan nie. Malebe-Thema voer aan sy woon in Pretoria en wil nie so ver reis om die hofverrigtinge by te woon nie.

“Ons is teleurgesteld dat die beskuldigde weereens daarin kon slaag om die verhoor verder te vertraag, aangesien hierdie saak reeds sedert 2016 sloer. Landdros Graehymme Williams was egter vandag baie streng en het aangedui dat die staat en verdediging die hof van sy diskresie om ’n beslissing te maak rakende die uitstel van die saak beroof het, deur vooraf ooreen te kom oor die uitstel,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ons is verder verheug dat die saak uiteindelik voor die hof is en sal voortgaan om vir Riana by te staan om toe te sien dat geregtigheid geskied.”

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om Malebe-Thema te vervolg. Eers na die privaatvervolgingseenheid in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-sertifikaat versoek het om privaat te vervolg, het die staat sy besluit om nie vervolg nie, hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Swerwer ·

So moet Kommunistiese Rassiste op hul neuse kyk vir hul onopgevoede wangedrag. Riana Stander
hou moed, geregtigheid sal seëvier.

Wondermaarnet ·

Riana, moet nie opgee of enige saak terugtrek nie al neem dit 10 jaar.

Marius ·

Nee wat , laat die vrou van Pretoria af kom en gratis in een van haar hotelkamers kom bly.
Sy is dan nou n hoe in die hotelgroep , dit behoort nie probleem te wees om dit te reel nie.
Hou moed Riana die einde is in sig.

Keelvol ·

Die generaals in die polisie dink hulle is bo almal verhewe. Hulle is eintlik n klomp rassiste.

Samuel ·

Ek hoop Riana staan sterk en laat vaar nie die saak nie. Die NVG is ook hopeloos en reageer eers wanneer privaatvervolgers tussenbeide tree.

Cherokee ·

*
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om te vervolg. Eers later het die staat sy besluit om nie vervolg nie, hersien.
*
Die besluitnemers by die NVG behoort vervolg te word vir dwarsboming van die gereg.

Suzette ·

Tyd dat Suid Afrikaners ook hul sê begin sê en saamstaan, want kyk was die rolle nou anderds omgedraai was dit HOOFNUUS!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.