Staatsrede 2016: Zuma reageer op debat

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma het Donderdag tydens sy repliek op die debat oor sy staatsrede gesê een van die regering se topprioriteite is om te verhoed dat Suid-Afrika se kredietgradering verder verlaag.

Hy het aan die gesamentlike sitting in die parlement gesê ʼn verdere afgradering sal ʼn “nadelig” wees vir alle Suid-Afrikaners. Hy het gesê sakeleiers het tydens onlangse gesprekke gemaan dat die regering die Nasionale Ontwikkelingsplan moet instel, die prestasie van staatsbeheerde ondernemings moet verbeter en wette wat beleggings ontmoedig, moet verander word.

Zuma is die afgelope twee dae skerp veroordeel deur opposisiepartye tydens die twee dag lange debat oor sy staatsrede. Hy het ook die werkloosheidskrisis en toenemende kommer oor die opleidingstelsel aangeroer.

Die president het groter eenheid tussen politieke partye aangemoedig, maar ʼn voorstel deur Bantu Holomisa, leier van die United Democratic Movement, oor ʼn ekonomiese “Kodesa” verwerp. Zuma het gesê hy voorsien politieke partye sal hardkoppig aan hul onderskeie posisies vasklou en nie enige gemene grond vind nie.

Grondbesit deur uitlanders

Zuma het gesê wetgewing wat uitlanders sal verbied om landbougrond in Suid-Afrika te besit, sal vanjaar aan die parlement voorgehou word.

“Hulle sal slegs grond kan huur,” het hy gesê.

Tenders in die media

Zuma het bygevoeg die regering sal nie meer tenders vir staatskontrakte in koerante publiseer nie. “Dit sal ook geld gespaar,” het hy gesê. “Die besparing beloop honderde miljoene rand.”

Volgens die president sal alle staatstenders van 1 April aanlyn gepubliseer word om kontrakwerk vir die staat meer deursigtig te maak.

Stryd teen rassisme

Die president het gesê nasiebou is net so belangrik vir die land as om die ekonomie te laat herleef. “Ons moet die letsels van apartheid laat genees en ʼn verenigde nasie bou.”

Hy het ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om in Maart-maand, wat ook as menseregtemaand bekend staan, deel te neem aan programme wat nie-rassisme bevorder.

Respek in die politieke debat

Zuma het politieke partye versoek om hulself met eerbied in die parlement te gedra en op te hou om mekaar en voorsittende beamptes te beledig.

“Ek dink dis nie goed vir kiesers nie, die mense wat die besluit geneem het om ons hierheen te stuur. Wat sal hulle by ons leer?” het hy gesê.

Die president het gesê wanneer LP’s opstaan en praat sonder dat hulle toestemming het, beledig hulle die voorsittende beamptes.

“Wanneer ons sê ‘eerbare lede’, moet ons dit bedoel en mense moet verstaan dat die woord ernstig is, ons kan onsself nie ‘eerbaar’ noem en dan onbetaamlik optree nie,” het hy gesê. “Dit help nie die beeld van die land nie.”

Hy het dit benadruk dat hy nie net na die opposisie verwys nie. “Ek praat met elke lid van die parlement, en verwys na almal. Dis ʼn ernstige punt.”

Reaksie ná die toespraak

Nqabayomzi Kwanka, LP van die United Democratic Movement, het ná Zuma se toespraak gesê kommentaar van jongmense op sosiale media oor die staatsrede dui daarop dat hulle slegs die beledigings en nie die inhoud van die president se toespraak nie, onthou.

Hy het gesê LP’s skep ʼn kultuur van onverdraagsaamheid en dit kan tot politieke onstabiliteit lei. “Ons moet beter leierskap toepas,” het Kwanka gesê. “Ons moet probeer om ons gedrag in die parlement te verander, want ons het duidelik ʼn verkeerde pad ingeslaan. My woorde is nie ʼn oordeel nie, maar slegs ʼn waarskuwing. Ons moet van koers verander voor dit te laat is, want ons het almal ʼn verantwoordelikheid om ʼn Suid-Afrika te bou waarna ons almal uitsien, ʼn sonsopkoms vir môre.”

Baleka Mbete, speaker van die parlement, het Kwanka bedank vir sy uitlatings. “Ek waardeer veral die feit dat jy self jonk is, en ʼn jong persoon is wat verantwoordelikheid neem en bereid is om sy nek uit te steek vir Suid-Afrika.”

Lees pres. Zuma se volledige toespraak
Lees alle vorige berigte oor Staatsrede 2016 op Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

J.Z ·

Ek stem saam oor sy siening oor rassisme,maar ek dink hy moet eers by hom self begin en erken dat dit nie net wit mense is wat rassisties is nie en die fout nie net voor die wittes gele kan word nie,Hier verwys ek ook na hom persoonlik met bekende uitspraake deur hom gemaak.

FM ·

Zuma het gesê wit mense het die grond gesteel. Die uitlating veroorsaak net rassepolarisasie. Die uitlating sal beslis nie versoening bring nie. Jammer Zuma het dit gesê. Verkiesingspraatjies glo ek. Kyk maar net na uncle bob se Zimbabwe!!!!!!Fataal sê ek jou. Suid- Afrika loop die pad om muishond van die wêreld te word.

Berhalet Beukes ·

Jammer, nie ‘n enkele woord van Zuma se staatsrede maak ‘n indruk nie. Daar is algehele chaos en wanorde by die universiteite, misdaad is buite beheer, en ekonomies is ons besig om geheel en al ten gronde te gaan. Wie het ons in hierdie verknorsing in “gelei”?” Talk is cheap!”

Josua Keys ·

Jacob Zuma se staats rede was n Sirkus en n klap in die gesig vir ekonomiese groei in SA,
Hy het begin om eers alles negatief wat die witman in die verlede kamtig gedoen het uit te lig en met datums te staaf en net daar na wat die ANC in die afgelope 20 jaar vermag het asook die geskiedenis van die ANC uitgelig….. Catch a wake up Mr Zuma!!!! As die wereld die geskiedenis wou weet sou hulle daarvoor gevra het en hulle het nie. Die wereld en Suid Afrikaanse werknemers wou weer waarom jy en jou party aangejaag het en wat julle gaan doen om dit reg te stel en duidelik het jy nie antwoorde gehad nie, geen wonder 70% van die partye het die parlement verlaat met die debat wat daarop gevolg het nie. Alles wat die ANC in die afgelope 21 jaar vermag het sou ‘n goeie regering in minder as twee jaar vermag het.

Karma ·

Sjoe, wat ‘n slim President het ons nie! Sowaar? Verdere afgradering van SA se kredietgradering sal sleg wees vir Suid-Afrikaners? Nou wie sou DIT nou kon raai??? En jinne, tenders gaan nie meer in koerante geadverteer word nie -sjoe, wat ‘n besparing (en wat ‘n geleentheid vir die Guptas om hul hande nóg verder in die staatskas te stoot!). EN politieke partye moet hulle in Parlement (die Nasionale Sirkus) gedra …. my liewe aarde nou, nè?

Die rooi miere moet dus nie “Pay Back the Money” en “Zuma Must Fall” gil en dan uitstap nie. En die “Withemde” moet ook nie party-verteenwoordigers by die Parlement (‘skuus, die Nasionale Sirkus) uitboender nie? En dit is sleg vir die kiesers want ons moet mos by die Parlementêre (Sirkusgangers) lede iets leer – jou waarlik nou!

En hy vra “wat sal hulle by ons leer?” Kom ek sê jou, ‘eerbare’ President Zuma van SA – ons kan “boggherôl” by jou leer; dis nou as ons nie wil leer hoe om ‘n skelm dief te wees nie. En oor politieke leiers/LP’s wat ‘eerbaar’ moet optree: my magtag, President Zuma weet jy ooit wat daai word beteken? Hê-hê-hê-hêêê!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.