Staatsrede 2016: Zuma wil gordel styftrek; slegs een hoofstad voorgestel

Die verbyvlug voor die staatsrede op 11 Februarie 2016 in Kaapstad Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die verbyvlug voor die staatsrede op 11 Februarie 2016 in Kaapstad Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma het Donderdag in die parlement in Kaapstad sy staatsrede gelewer ná ʼn aanvanklike ontwrigting deur EFF-LP’s.

Zuma het uiteindelik omstreeks 20:00 met sy toespraak begin, nadat speaker Baleke Mbete gesukkel het om die LP’s onder beheer te bring. Maroela Media het vroeër berig LP’s van Cope en EFF het uiteindelik die parlement verlaat.

Zuma het in die lig van onlangse gebeure aangekondig dat Menseregtedag op 21 Maart, vanjaar as ʼn nasionale dag teen rassisme gevier sal word.

Ekonomie

Die president het daarop gewys dat markte wêreldwyd onstabiel is en dat die Wêreldbank voorspel het dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met minder as 1% sal groei. “Daarom moet daar ʼn omdraaiplan wees, ons moet dinge ander begin doen,” het hy gesê. “Ons gaan moet optree waar ons vroeër dalk versuim het om vinnig op te tree.”

President Zuma, mev. Bongi Zuma, Speaker Baleka Mbete en Thandi Modise, nasionale voorsitter van die Raad van Provinsies (Staatsrede 11 Februarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

President Zuma, mev. Bongi Zuma, Speaker Baleka Mbete en Thandi Modise, nasionale voorsitter van die Raad van Provinsies (Staatsrede 11 Februarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Beleggingsbestemming

Zuma het daarop gewys dat die land nog steeds ʼn aantreklike beleggingsbestemming bly, en dat die positiewe eienskappe baie swaarder weeg as die uitdagings wat die land beleef. “Ons moet steeds die land as ʼn aantreklike beleggingsbestemming bly bemark,” het hy verduidelik.

Zuma het gesê daar is Dinsdag suksesvolle gesprekke gevoer met persone uit die besigheidsektor en uitvoerende hoofde van maatskappye. “Ons het voorstelle aangehoor van maniere hoe ons die situasie kan omdraai en ons ekonomie weer kan laat groei.”

Hy het bygevoeg dat die land ʼn “eenstopwinkel” wil wees vir beleggers, en dat die regering dit so maklik as moontlik wil maak vir die privaat sektor om in die land te belê. ʼn Interministeriële komitee word aangestel om struikelblokke vir beleggingsmoontlikhede te ondersoek en uit die weg te ruim.

Staatsbeheerde ondernemings

Zuma het daarop gewys dat verskeie staatsbeheerde ondernemings, soos Sanral, die Trans-Caledon Tonnelowerheid (TCTA), Transnet en Eskom (ondanks uitdagings), baie goed vaar.

Toerisme

Hy het ook gesê dat die land voordeel moet trek uit die wisselkoers en wysigings in visumregulasies om toerisme te bevorder. Die regering sal R100 miljoen per jaar belê om plaaslike toerisme te bevorder. Die regering wil Suid-Afrikaners aanmoedig om deur hul eie land te toer.

Migrasiebeleid

Die president het ook gesê hulle slaan ag op besware van ondernemings wat betref visums vir vaardige werkers van oorsee. “Die migrasiebeleid moet dit moontlik maak om skaars vaardighede in te voer en ʼn wysigingswetsontwerp op die migrasiebeleid sal gedurende 2016 voorgehou word,” het hy bygevoeg.

Vermorsing van staatsgeld

Zuma het gesê die regering moet belastinggeld op wyse maniere bestee en verkwistende uitgawes gaan nie meer geduld word nie. Van die maatreëls wat ingestel gaan word, sluit in:

* enige lid van die parlement wat oorsee wil reis, moet aansoek doen en sal baie sterk moet motiveer waarom dit tot voordeel vir die land sal wees
* die grootte van afvaardigings gaan ook baie beperk word en gestandaardiseer word
* daar word verdere beperkings geplaas op konferensies, spyseniering, vermaak en sosiale funksies
* staatsdepartement sal geen dinees meer in die parlement hou vir belanghebbendes wat begrotingsverkiesings bywoon nie

Hy het gesê die minister van finansies sal verdere maatreëls tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie bekend maak.

Hy doen ʼn beroep op die premiers van die nege provinsies, hul burgemeesters, die parlement en die regbank, om in die regering se voetspore te volg en soortgelyke maatreëls in te stel.

Prsident Jacob Zuma lewer sy staatsrede op 11 Februarie 2016 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Prsident Jacob Zuma lewer sy staatsrede op 11 Februarie 2016 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Een hoofstad

Pres. Zuma het verder genoem dat die parlement dringend die saak van twee hoofstede moet oorweeg, waar Pretoria tans die land se uitvoerende hoofstad en Kaapstad die wetgewende hoofstad is. “Die Uitvoerende Raad het hierdie saak ondersoek en besef dat die koste te hoog is om dit vol te hou. Dit beteken dat lede in die Uitvoerende Raad twee huise moet hê, een in Pretoria en een in Kaapstad, twee motors moet hê, een in Pretoria en een in Kaapstad, en ʼn aantal beamptes wat op en af moet reis, en omdat hulle nie infrastruktuur het nie, in hotelle moet tuisgaan.

“Hierdie saak moet dringend aandag geniet,” het hy gesê.

Negepuntplan

Zuma het weer verwys na die negepuntplan wat hy in sy staatsrede in 2015 aangekondig het, en genoem dat die regering reeds beduidende vordering gemaak het op verskeie gebiede. Die negepuntplan is soos volg:

1. ʼn Oplossing vir die energie-uitdaging
2. Herlewing van landbou en die landbouverwerkingswaardeketting
3. Bevordering van veredeling of die toevoeging van waarde tot ons minerale rykdom
4. Meer doeltreffende implementering van ʼn aksieplan met groter impak vir ʼn industriële beleid
5. Aanmoediging om in die private sektor te belê
6. Moderering van konflik in die werkplek
7. Die ontsluiting van die potensiaal van klein-, medium- en mikro-ondernemings, koöperasies, township- en landelike ondernemings
8. Staatshervorming en die bevordering van die rol van maatskappye in staatsbesit; infrastruktuur vir inligtingskommunikasie-tegnologie of die inwerkingstelling van breëband-, water-, sanitasie- en vervoerinfrastruktuur
9. Operation Phakisa, wat gemik is op die ontwikkeling van die oseaan-ekonomie asook ander sektore

Elektrisiteit

Zuma het onder andere gesê die regering het die elektrisiteitstoevoer gestabiliseer en daar was sedert Augustus 2015 nog nie weer enige beurtkrag nie – dit het verligting gebring vir huishoudings en nywerhede. Die regering het R83 miljard in Eskom belê. Bykomende eenhede sal in 2017 aangeskakel word en sinchronisasie sal reeds vanjaar begin.

Die land se energiemengsel sal bestaan uit steenkoolaanlegte, gas en kernkrag. “Ons plan is om binne die volgende 10 jaar ongeveer 9 600 MW kernkrag van Koeberg beskikbaar te maak. Ons sal slegs kernkrag aanskaf op die skaal en tempo wat ons land kan bekostig.”

Vroulike boer van die jaar, Julia Shungube Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Vroulike boer van die jaar, Julia Shungube Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Landbou

Zuma het gesê die land doen moeite om nuwe lewe in die landboubedryf te blaas, insluitend om deelname van kleinhoeweboere aan te moedig.

Hy het gesê vroulike boere en entrepreneurs word ook bevorder. Hy het Julia Shungube van Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga, uitgesonder nadat sy aangewys is as die land se beste jong boer. Sy was ʼn sekuriteitsbeampte wat deeltyds begin boer het.

Grondbesit

Zuma het gesê die regering sal deur middel van die Wetsontwerp op Grondbesit ʼn beperking van 12 000 hektaar plaas op grondbesit. Uitlanders sal nie grond mag besit nie, maar hulle sal in aanmerking kom om aansoek te doen vir langtermyn huur van grond.

Grondeise

Die president het gesê persone wat in 1998 die sperdatum gemis het, sal weer grondeise kan indien. “Nagenoeg 120 000 nuwe grondeise is teen Desember 2015 ingedien.”

Droogte

Zuma het daarop gewys dat vyf provinsies, naamlik Noordwes, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga, tans gebuk gaan onder droogte. Hy het daarop gewys dat die regering verligting bied aan betrokke gemeenskappe.

Hy het burgerlike inisiatiewe soos Operation Hydrate en ander veldtogte geloof.

Minimumloon

Die president het gesê die regering verwelkom die ooreenkomste wat by Nedlac aangegaan is wat minimumloon vir werknemers betref. Hy het benadruk dat minimumlone egter nie werkskepping moet ondermyn nie en dat daar steeds volhoubare groei moet wees vir klein ondernemings.

Hy het gesê daar is ook berigte vanaf Nedlac dat ‘n raamwerk om die arbeidsmark te stabiliseer, deur die duur van stakings en geweld tydens stakings te verminder, gefinaliseer word.

Lewensverwagting

Zuma het gesê die lewensverwagting vir Suid-Afrikaners, mans en vroue, is tans 62 jaar. Hy het gesê dit is ʼn toename van 8 en ʼn half jaar sedert 2005. Hy skryf dit toe aan suksesvolle MIV/Vigs-veldtogte. Volgens hom sal die minister van gesondheid binnekort ʼn groot veldtog aankondig wat voorkoming van MIV/Vigs onder die jeug betref.

Buitelandse betrekkinge en AGOA

Zuma het gesê Suid-Afrika wil sy vennootskappe met ander lande verstewig. China het reeds ʼn belegging van $10 miljard onderneem vir infrastruktuur-, nywerheids-, en vaardigheidsontwikkeling in Suid-Afrika. “Ons bou ook voort op ons verhouding met die Europese Unie, ons grootste handelsvennoot en buitelandse belegger. Ons wil ook bande verstewig met die VSA en Kanada.”

Die president het gesê alle uitstaande kwessies wat die Amerikaanse wet oor groei en geleenthede vir Afrika (Agoa) betref, word aangeroer.

Nasionale Ontwikkelingsplan

Zuma het gesê, gegewe die huidige ekonomiese klimaat, sal die regering nie die teiken wat hy vir homself gestel het deur die Nasionale Ontwikkelingsplan van ʼn groeitempo van 5% per jaar, teen 2019 haal nie.

“Ons kan nie wêreldwye ekonomiese toestande verander nie, maar ons kan baie doen om plaaslike toestande te verbeter, as ons saam werk om die situasie om te draai. Dit kan gedoen word.”

Lees alle berigte oor Staatsrede 2016 op Maroela Media.
Lees die president se volledige toespraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Johann Marx ·

Dit bly amazing hoe ‘n politikus eerstens ‘n probleem beskryf (waarvoor hy grotendeels verantwoordelik is) en die “oplossing” aankondig asof dit ‘n prestasie is? Moenie vir my vertel hoe onder druk die Rand is nie…..ek weet, want ek leef die gevolge daarvan….vertel eerder vir my wat jou motivering was om die minister van finansies uit sy pos te verwyder, die land R500 miljard kos, 8,3 miljoen mense hulle werk………..sodat ek vir jou kan vertel hoe kort jou toekoms is as gevolg van jou onvermoë om enige iets positiefs tot stand te bring. Hy staan daar en kondig planne en strategiëe aan….asof hy dit nog gaan beleef?? Sy tyd is om……plaas hy eerder onderhandel vir ‘n “beskaafde” aftrede MET al sy byvoordele en Nkandla in sy sak…..maar sy arrogansie gaan hom ‘n oneervolle ontslag op die hals haal….met niks oor van wat hy alles versamel het nie…EN ‘n kriminele rekord daarby. Watch this space…

Drikus ·

Sou die Nasional Regering besluit op Pretoria as die enigste hoofstad, is die deur wawyd oop vir die Wes- en Suid-Kaap om af te stig as ‘n onafhanklike staat. Dan verskuif die Provinsiale parlement sommer na die huidige Nasionale parlementsgeboue. Sodoende behou die Kaapprovinsies hulle aantreklikheid vir werkskepping en toerisme. Die res van die land sal die Kaap SA sy sukses en status langtand beny. Dink ‘n bietjie hieraan Me Zille en kie.

Sarie ·

Dit klink logies, maar ongelukkig strook dit nie met Zille en haar party se beleid nie. Sy het te hard vir hierdie Multi-kulturele sopmengsel soos Buthelezi dit noem sedert haar Blacksash dae geveg. Dit sal dan ook ‘n pad oopmaak vir Buthelezi en sy Zulus met Kwa-Zulu Natal.

Rynhardt ·

Zuma kan vergeet om gordel styf te trek, want korrupsie gedy vir jare onder Anc! In sy patetiese staatsrede het hy verskeie kere klem gele op n vrye, rassistiese samelewing.Hier leef hy die Vryheidsmanifes uit en wys hy vinger na blankes, sonder om dit in detail uit te spel! Hy word gedryf en geondersteun deur die SAKP! Beleggers gaan nie bele in n korrupte SA nie en Zuma weet nie eens dat markte al hoe meer wankelend voorkom nie! Die feit dat Zuma n swart, vroulike boer uitsonder, wys sy obsessie met ras uit, terwyl blanke boere wat vir jar goeie werk doen en gebuk gaan onder plaasmoorde, heeltemal geignoreer word! n Absolute skande terwyl blanke boere se veiligheid met mening geignoreer word!Zuma is n uiters gevaarlike president terwyl daar nog steeds opsetlik gesloer word om van hom ontslae te raak!Hy weet hoe om ras-kitaar te speel en die blankes vir alles te blameer behalwe homself en sy onbeholpe kabinet.SA is met Zuma op pad na groot moeilikheid!

Ndlla ·

Vermorsing van staatsgeld se jy, hoop jy begin sommer by jou en al jou sleepsels

François ·

Huh? Blah blah blah…. Wat het die ou nou eintlik gesê? Alles is bekend waarvan hy gepraat het. Wil nog sien hoe die Regering daardie besparings gaan regkry!

Akram ·

Wel ek sien dinge is aan die gebeur. Met sommige van die punte kan ek sien dat hy die beginsels van Pres Magufuli van Tanzania het met sy intrap slag reeds besnoei op reis uitgawes en seminare. Slegs hy en die adjunk mag eerste klas vlieg. die res moet maar ekonomie klas gebruik. Persone wat op vergadering moet gaan, moet eers sy kantoor se goed keuring kry. seminare is beperk en hy het gese dat met vandag se tegnologie, jy in jou kantoor kan sit en n vergadering “bywoon” dmv skype of ander netwerke. So ek dink as SA regering so iets beplan, met hulle eers hulle eie huis in orde kry. Maar dit lyk tog of die lig vir iemand aangegaan het. Met die huidige waarde van die Rand, en die droogte en die korrupsie en die masiewe huise wat gebou word wonder ek wat gaan gebeur? As SA een hoofstad kry, maak nie saa waar nie, wie gaan die eeerste opsie he om die ongebruikte wonings en voertuie te koop? Dalk die Guptas?

m ·

Whatever. Die chaos is hier om te bly, daar is vir te lank geslaap.

Berhalet Beukes ·

Ek sou skaam kry as ek ‘n staatsrede moes voorlees wat ek eerstens nie eens kan verstaan nie, nog geskryf het! “Shame”

Hannelie ·

Hahahaha hoe laat lag die grapjas my…..21 Maart verklaar nasionale dag tot rassisme. Ons vier dan ELKE liewe dag rassisme dag. Ons kry dit elke dag “in your face”. Zuma ek dink dit het tyd geword om te gaan…….

Mick ·

Ironies dat 21 Maart as vryheid van rasse-integrasie gevier moet word. Vry soos ‘n voeltjie. Is ‘n Sparrow miskien ‘n voeltjie? Penny for your Thoughts?

Jaco ·

Klomp goed in SA loop skeef. Eskom sukkel, daars ‘n droogte, daars rassisme, apartheid en wit mense word steeds vir alles geblameer ens ens. Los NOU al hierdie probleme as volg op:
Skuif die parlement Gauteng toe, verban die DA, onteien dadelik al die wit boere en deporteer/verskuif AL AS Suid-Afrika se wit mense Wes-Kaap toe. Vat ook hulle stemreg weg. Daars anyway reeds rassisme teen wit mense, so dit kan het sowel offisieel gemaak word. Dan weet ons wit mense ten minste watse behandeling om wel te verwag en wat nie. Gee daardie wit “tuisland” in die Wes-Kaap net 10 jaar en dit sal anyway BAIE beter vaar as die res van die land.

Theresa ·

Gisteraand het ons gesin ook voor die TV ingeskuif of na die president se staatsrede te kyk. Die militere optogte het so ‘n gevoel van trots voorgehou, die aankoms van die VIP’s ens. Toe die president en sy gevolg opdaag het ‘n groot weemoed oor my gekom. En gedurende die hele opening, die onderbrekings en die uitgejouery het my hart net al seerder geword. Ek het na my man en seun gekyk en snaaks, hulle het presies dieselfde emosies ervaar. Waar het respek heengegaan, al maak die president geen indruk – waar het respek heen verdwyn????
Is ons land dalk ‘n weemoedige demokrasie – die regering toon geen respek vir die kiesers nie en leiers ook geen respek vir mekaar nie. En in elk geval het geen mens meer respek vir ‘n ander nie!!
Wat jy saai sal jy maai! – Dis ‘n lewensbeginsel.

Uys ·

Mense hou dop, sy oplossing gaan wees om ń nuwe parlement te bou wat een van die DRICS land geld voor sal gee.

Johannes Meintjes ·

Is alles in die 2016 Staatsrede van toepassing op die hele Nuwe SA, of net op kulturele meerderhede, – ander is die pad weg van kulturele diskrimenasie en ekonomiese onvolhoubaarheid in plaas van konstruktiewe fokus nog lank voor ons uitgestrek?

Henry ·

Gaaaaap en soos my slim Ma sê: ‘As dinge nie nou verander nie, bly dit dieselfde.’

En dit is presies die gewaarwording wat haar seun beleef, wanneer hierdie ou wat as ‘n staatshoof van ‘n droewe ou landjie aan die suidpunt van ‘n donker en agtergeblewe vasteland rondstrompel, die snert wat sy partygenote opgestel het, aan sy onderdane kom voorlees.

Natuurlik is al die verorberaars van die staatstrog se laaste belastingoorblyfsels, sooo gelukkig met hulle se Naaambir Whaan, dat hulle en hul goedgelowige stemvee weereens al die ou deurbringers met hul kruisies tydens die volgende verkiesing sal ondersteun.

Terloops. Indien daar enige erns tussen al die beloftes was, sou die voorleser sekerlik (uit die vuis uit?), die aankoop van sy uitspattige en peperduur nuwe vliegtuig wat elewintie-twentie-en-plentie-biljons uit die paar belasting betalers se sakke sal jaag, gekanselleer het. Of hoe???

Helaas.
As dinge nie nou verander het nie, bly dit inderdaad dieselfde…

Meraai ·

Ditto! Ek kan maar net my hande saamslaan vir die agbare president.
Ons is inderdaad ‘n “eenstopwinkel” vir onder andere China. Hulle maak ons oseane leeg (en verskoon die knypie: hulle Phakisa inderdaad teen ‘n hengse spoed!) neem die een onderneming na die ander oor en die regering is te stiksienig om te sien wat hulle eintlik doen…

m ·

Dink nie hy beplan om sy gordel stywer te trek nie, ons sal weer gemelk word vir die geld.

Johan ·

Ek hoop die hele kabinet trek Pretoria toe, want die spul gaan net moeilikheid hier in die Kaap veroorsaak!

Sue ·

Nes ek gedink het dit sou gebeur. Praat sy keel seer en niks van belang nie. Die persoon wat sy praatjie vir hom geskryf het was ook seker moeg en het net geskryf om dit klaar te kry. Hulle sal nooit hulle parties van afsien nie. Ek hoop hy trek die gordel by homself want dis al waar daar nog getrek kan word. Hy moes lankal pad gevat het. Ons het hom nie nodig nie. SA het beter as dit nodig om te kan survive. Hoe gaan ons van al die onwelkome elemente ontslae raak want vir ons boere voel hulle vere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.