Staatsrede-debat: Alle oë op die opposisie

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die Nasionale Vergadering toe. Foto: GCIS

Alle oë is vandag op hoe die land se opposisiepartye die nuwe gesindheid in die land sedert die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa gaan hanteer.

Vandag is ʼn baie lang parlementsitting waartydens die ANC se groot kanonne en die land se opposisieleiers die geleentheid sal kry om te reageer op Ramaphosa se staatsrede.

Die staatsrede Vrydagaand was een van die beste politieke toesprake in die land se geskiedenis en het ʼn ongekende golf van positiwiteit, hoop en geloof in die toekoms gebaar.

Dit plaas opposisiepartye vir die eerste keer sedert die dae van pres. Nelson Mandela in die posisie dat die staatshoof ʼn bate eerder as ʼn las vir die ANC is. Vandag sal die eerste aanduiding wees van hul voetwerk om hierby aan te pas.

Aan die een kant sal opposisiepartye nie die gemoedstemming van die land verkeerd wil lees nie. Mense, en miskien veral opposisiekiesers, is ongelooflik bly en dankbaar dat die Zuma-nagmerrie verby is. Hulle is vir die eerste keer in ʼn lang tyd versigtig positief oor die ontsluiting van die land se belowende potensiaal en die toekoms van hul kinders. Hulle is nie nou lus vir ʼn klaende opposisie nie.

Aan die ander kant sal opposisiepartye, en veral die DA, weet dat hul ietwat lui en gemaklike benadering tot, aan die een kant, die ANC, en aan die ander kant hul eie partybeleid, nou verby is.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Die bewindstydperke van pres. Thabo Mbeki en Zuma (Kgalema Motlanthe tel nie regtig nie) was maklik vir die opposisie. Sowel Mbeki as Zuma was op ʼn persoonlike en beleidsvlak so onaanvaarbaar vir opposisiekiesers dat opposisiepartye basies net moes opdaag om ʼn stelling te maak.

Dis bitterlik, bitterlik vroeg in die wittebroodstyd van die Ramaphosa-era, maar alle aanduidings is dat dit nou anders kan raak, en vinnig anders kan raak. Daar is hoop, daar is beleidsoepelheid, daar is ʼn aangename, polities dapper, persoonlik nastrewenswaardige, versoenende en hoogs intelligente staatshoof. Vir die eerste keer sedert 1999 het die ANC ʼn bemarkbare produk as partyleier, en is daar ʼn positiewe wen-ingesteldheid eerder as ʼn tipe verdedigende beneuktheid by die ANC-koukus te bespeur.

Vir die DA is dit taai tye. Die party het te doen met erge binnestruwelinge wat verbasend swak bestuur word. Die jong, aangename en belowende partyleier, Mmusi Maimane, het in Ramaphosa ʼn opponent van enorme statuur; iemand van wie DA-kiesers baie hou. Dit is nie ou sukkelende, patetiese Zuma hierdie nie.

En waar is die DA se beleidsalternatiewe? As dit bestaan, het niemand dit nog gesien nie. As die Ramaphosa-magic die ANC-momentum kan hou (en dis ʼn groot as, want die ANC het maar sy eie probleme) gaan die DA geweeg en te lig bevind word sonder opwindende beleidsalternatiewe.

Maar eintlik gaan die aandag vandag veral wees op hoe die EFF vir Ramaphosa hanteer. Die EFF-leier, Julius Malema, se toespraak is die belangrikste toespraak van die dag.

Julius Malema tydens die perskonferensie.

Verlede week was daar ʼn teenstrydigheid in die EFF se gedrag te bespeur, en dis baie ongewoon, want die EFF is gewoonlik trefseker en konsekwent. Donderdag het Malema op ʼn aggressiewe mediakonferensie die moontlikheid totaal uitgesluit dat hy en sy mense ooit na die ANC sal teruggaan. Hy het Ramaphosa gruwelik aangeval en die EFF het Ramaphosa se amptelike verkiesing as president deur die Nasionale Vergadering geboikot.

Maar Vrydagaand het Malema gereageer op die staatsrede soos op Kersfees. Hy en Ramaphosa het tydens die staatsrede grappies gedeel en agterna het Malema gesê Ramaphosa se “meerdere logika” het geseëvier.

Hy sal my dit vreeslik verkwalik, maar vir my het dit gelyk, geklink en gevoel asof Malema “gemesmeraais” is, as ek daardie handige ou Afrikaanse politieke term kan nader trek.

ʼn Interessante dag lê voor! Kom ons kyk hoe geskiedenis gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarie ·

Jou DA is flou. Onthou nog die dae toe Helen Zille jou gemesmeraais het. Ongelukkig is haar stem ook stil gemaak oor sy die waarheid gepraat het en nou sit sy in ‘n hoekie en tweet.

Loeis ·

Die DA het strategies slim gewerk deur Maimaine as leier te verekies, want hy het die swart middelklas, wat ‘n afkeur in Zuma ontwikkel het, na die DA help oortrek. Ramaphosa gaan waarkskynlik daardie steun terugtrek, sonder dat die DA ‘n teenvoeter het. Zuma het heelwat steun in die Kwazulu-Natalse platteland en ons kan hoop dat die IVP moontlik nou daardie steun mag inpalm, en so die ANC verdeel.

Ek wil mense wie efories oor Ramaphosa is daaraan herinner dat Ramaphosa adjunk president tydens Zuma se plundertog was, dat hy blankes soos ‘n padda stadig wil kook, en dat hy die een is wie onteiening sonder vergoeding tydens SONA aangekondig het. Ook wil ek mense daaraan herinner dat Mamaine ingenome gelyk het met daardie aankondiging, en dat die EFF dit ondersteun.

Dit is ‘n goeie ding dat Zuma uit is. Maar as jy op hierdie stadium bly is oor die verwikkelinge, dan wil ek graag vir Ramsy Snow aanhaal: “You have not been paying very close attention”.

Cherokee ·

Miskien, net miskien, is dit nie so goeie ding dat Zuma uit is nie. Terwyl die opposisie vuis gebal het en spiere gewys het kon die ANC ooit werklik behoorlik raakgeslaan word nie. Zuma, enkeling wat hy is, het sy moue opgerol en die ANC uitmekaar geskeur soos al die ander partye saam dit nie kon doen nie.

Hannelie ·

Ai Malema, hy is nes ‘n groot kind, wat nog nie groot geword het nie. Lyk altyd of hy sy toys uit die kot gooi, maar toe gesien Ramaphosa is ‘n groot kanon en nie ‘n kind nie, die dat hy grappies met hom deel.

Louwtjie ·

Ramaphosa se aanstelling as staatshoof is NIE per toeval, maar strategies. Die ANC het gesien hul verloor steun onder Zuma se leiding en het gewéét hul gaan groot loesing in die algemene verkiesing in 2019 kry mits daar nie ingegryp word nie.

Deur Ramaphosa nóú al aan stuur te kry gee hul die geleentheid om die massas wat oorgeloop het opposisie toe, terug te wen met mooi woorde en leë beloftes. Die belofte van meer werksgeleenthede en grond is die grootste trekpleisters, en ek’s bevrees geen ander party kan en gaan hul keer.

Hou maar die volgende verkiesing dop. Die ANC gaan heelwat beter doen as voorheen.

Alida ·

Malema sal nou groot word. CR sal hom opvoed. Die pres moet sekere goed se om almal gelukkig te hou en ander warm onder die kraag. Gee hom kans julle sal sien.

Pop ·

Ek hou glad nie asem op oor enige een van die spul nie. Wat gebeur, gebeur nou maar. Daars niks wat enigeen aan dit kan doen nie. Ek is egter nuuskierig om van die vrae te hoor en dan die antwoorde daarna

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.