Staatsrede: ‘Ekonomie het fundamentele hervorming vereis’

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Die kritieke toestand van die Suid-Afrikaanse fiskus en ekonomie het fundamentele hervorming in regeringsbeleid van president Cyril Ramaphosa vereis.

“In stede daarvan het die president sy regering opnuut verbind tot die intervensionistiese benadering verantwoordelik vir die land se benarde toestand,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

Gisteraand se staatsrede was ook die debuut van Sakeliga se uitkomsgebaseerde presidensiële telkaart. “Dié telkaart is ’n saamgestelde meetinstrument van tien objektiewe maatstawwe, ontwikkel om werklike ekonomiese seine te onderskei van politieke geraas. Volgens die aanwyser funksioneer die Ramaphosa-administrasie teen ’n historiese lae vlak van 30 uit ’n 100 en kon dit nie daarin slaag om die afwaartse trajek wat reeds by sy inhuldiging as president bestaan het om te keer nie.”

Volgens Le Roux is Ramaphosa se toespraak deur twee fundamentele mistastings gekenmerk. “In die eerste plek het hy fouteer deur al die skuld vir die geknelde ekonomie en fiskus toe te skryf aan korrupsie en staatskaping. Dog skadelik, was hierdie bloot bydraende faktore tot die land se probleme – ver oorskadu deur die skade veroorsaak deur staatsinmenging soos hoë belasting, burokratiese rompslomp, SEB, wanbesteding, mededingingsbeleid, en onteiening sonder vergoeding.

“Tweedens het hy versuim om te erken dat burokrate en politici nie welvaart skep nie, maar eerder besighede in mark-ekonomieë. Dit is duidelik in sy klem op ‘ekonomiese meesterplanne’ en ‘sosiale konsensus’ as kernpilare in sy strategie vir ekonomiese groei. In hierdie trant het hy ook ’n staatsbeleggingsfonds en staatsbank aangekondig.”

Positiewe verwikkelinge was skaars, meen Le Roux. Een voorbeeld is Ramaphosa se bereidwilligheid om te erken dat dit beter is om kragonderbrekings te aanvaar as om die opknapping en herstel van Eskom se kragstasies nog verder uit te stel.

President Ramaphosa het sy toespraak afgesluit deur te sê dat “’n nuwe era aangebreek het”. Volgens Le Roux is dit egter nie korrek nie. “Hy het inderwaarheid sakelui en die publiek daarvan verseker dat sy administrasie homself opnuut tot intervensionisme verbind.

“Sakeliga bly verbind tot interaksie en bedinging met die regering vir ’n beter sake-omgewing. Gegewe die gebrek aan ʼn koersverandering op regeringsvlak sal ons egter voortgaan met die ontwikkeling van inisiatiewe om nie net ons lede nie, maar die ekonomie en publiek in die algemeen meer en meer staatsbestand te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oudste ·

Einstein het gese dit is dwaas om dieselfde ding oor en oor te doen en dan verskillende resultate verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.