Staatsrede kort detail oor sukkelende staatsondernemings

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Sommige ekonomiese ontleders sê pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdag het tekort geskiet wat betref besonderhede oor hoe om sukkelende staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) reg te ruk.

Ramaphosa het in sy toespraak toegegee dat Afrika se mees geïndustrialiseerde ekonomie, wat verlede jaar met ʼn karige 0,8% gegroei het, nie vinnig genoeg groei of genoeg werk skep nie. Hulle sê dit is ʼn “kommer wat alle ander troef”.

Die president het egter weinig gesê oor die las wat SBO’s op die land se hulpbronne plaas, hoewel hy erken het die rede vir die lustelose groei was die beurtkrag wat Eskom, Suid-Afrika se beleërde kragvoorsiener, gedwing is om vroeër vanjaar in werking te stel. Dit is gedoen om te keer dat die netwerk heeltemal inmekaar stort.

Die ekonoom Peter Attard Montalto het gesê die besonderhede wat Ramaphosa oor Eskom gegee het, was teleurstellend en dat die president geen woord gerep het oor die soortgelyk sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens en openbare uitsaaier (SAUK) nie.

“Ons vind dit vreemd en dit gaan krediteure bekommer dat geen politieke hoëvlaksteun enigsins aangebied is nie,” het Montalto, hoof van kapitaalnavorsing by Intellidex, gesê.

Hy sê hoewel Ramaphosa verwys het na stappe wat gedoen is om veranderinge aan visums vir Chinese en Indiese burgers aan te bring, het hy niks gesê oor die wye visumhervorming rakende geskoolde immigrante wat beleggers as belangrik beskou nie.

Terwyl Ramaphosa wel belangrike punte aangeraak het, is daar steeds onsekerheid oor kwessies soos grondhervorming, langtermyn-oplossings vir bestedingsverbintenisse en finansiële volhoubaarheid van staatsbeheerde instellings,” het Sanisha Packirisamy, ʼn ekonoom by Momentum, gesê.

“Dit verg politieke wil en ʼn vermindering in politieke en beleidsonsekerheid oor die instelling van groeigedrewe hervorming om positiewe sentiment te kweek,” het Packirisamy gesê.

“Die president se plan om Suid-Afrika se groeikoers te versnel steun swaar op die vermoë van die topleiers om die ekonomiese planne wat voorgestel is, te dryf.”

Ramaphosa het die onafhanklikheid van die Reserwebank weer bevestig. Dit het onlangs onder kritiek deurgeloop, ook uit ANC-geledere, vir wat beskryf is as ʼn blindelingse najaag van inflasieteikens, ten koste van ekonomiese groei.

“Ons Grondwet gee die Reserwebank die mandaat om die waarde van ons geldeenheid te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei. Ons bevestig weer hierdie mandaat, wat die Reserwebank onafhanklik moet uitvoer, sonder vrees, guns of vooroordeel,” het Ramaphosa in sy staatsrede gesê.

Montalto sê hoewel Ramaphosa die sentrale bank se onafhanklikheid bevestig het, was die bewoording koddig en het dit die deur oopgelaat vir verdere debat oor óf die inflasieteiken nodig, maar nie voldoende is nie, vir volhoubare groei.

“Daar is breedweg gesê wat nodig is, maar dit is beslis nie die einde van dié saak nie,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) het gesê Ramaphosa se plan om deur kleiner sakesentrums, waar jong entrepreneurs tegniese en finansiële bystand gaan kry, lewe in die ekonomie te blaas, is ʼn positiewe stap.

Sacci het ook die voorneme dat finansiële en operasionele probleme by Eskom gepak gaan word, verwelkom en sê hy sien uit na die mediumtermynbegrotingsrede om te hoor hoe die plan gefinansier gaan word.

“Terwyl die president goeie planne gehad het, veral oor hoe om die ekonomie aan die gang te kry, wil ons graag sien hoe lyk die planne om dit uit te voer,” het Sacci gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kobus

Hierdie SONA is geskryf deur interns wat vir die staat werk. Baie praat, maar detail ontbreek. Vroeg volgende jaar is daar weer ‘n nuwe plan op die tafel.