Staatsrede: Landbou optimisties oor planne, maar…

(Foto: @AgriChamber/Twitter)

Die landbouorganisasie TLU SA het pres. Cyril Ramaphosa se oproep dat Suid-Afrikaners plaaslike produkte moet ondersteun, verwelkom.

Ramaphosa het Donderdagaand sy staatsrede in die parlement in Kaapstad gelewer.

“Ons is werklik opgewonde oor die gedagte dat die Suid-Afrikaanse publiek eg Suid-Afrikaanse produkte moet ondersteun. Veral ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte behoort ondersteun te word en verbruikers moet probeer om stortingsprodukte van ander lande te vermy,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.

“As ons Suid-Afrikaanse landbouprodukte kan koop, sal dit outomaties werkskepping bevorder terwyl die kommersiële boere daardeur ʼn kans op oorlewing kry ten spyte van veral klimatologiese uitdagings waarmee hulle te make het.”

Ramaphosa het in sy toespraak gesê Suid-Afrika moet ʼn land word wat homself kan voed en die jongste tegnologie vir sogenaamde slim landbou gebruik.

“Ons gaan die landboubedryf en landbouverwerkingsbedryf aansienlik uitbrei deur sekere sleutelwaardekettings en -produkte te steun, nuwe markte te ontwikkel en nie so swaar op landbou-invoere te steun nie,” het Ramaphosa gesê.

TLU SA sê, nes die president, het die organisasie ook ʼn droom vir Suid-Afrika en dit is dat die land ontwikkel in ʼn ekonomiese reus, gegrond op vryemarkbeginsels en vry van historiese en ideologiese vooroordeel. Die organisasie sê as alle burgers gelyk gerespekteer moet word, “geld dit ook vir Afrikaners”.

Hy is egter nie oortuig dat twee miljoen werksgeleenthede binne die volgende tien jaar geskep gaan word nie.

“Sy voorganger (oudpres. Jacob Zuma) se een miljoen het nie eens gerealiseer nie. Om dit te bereik, sal hy moet afsien van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging en onvriendelike arbeidswetgewing moet aanpas,” het Meintjes gesê.

Meintjes sê die organisasie is bekommerd dat die ANC-regering meer praat as doen, hoewel hulle bereid is om hom die voordeel van die twyfel te gee.

“Opmerklik is dat pres. Ramaphosa weer eens die geleentheid verpas het om daadwerklike steun aan die landbouers te gee en om plaasmoorde te veroordeel.”

Die landbousakekamer Agbiz het Ramaphosa se verbintenis tot ekonomiese groei verwelkom, maar sê die sektor is bekommerd oor ʼn gebrek aan duidelikheid oor grondhervormingsbeleid.

Agbiz sê daar moet gefokus word op hóé die ekonomie verbeter gaan word. “Breedvoerige besonderhede oor die breë beleidsrigting en implementering is deurslaggewend.”

Die sakekamer sê ook hy sien daarna uit om oor die inhoud van die presidensiële adviespaneel se verslag oor landbou en grondhervorming te beraadslag, wanneer dit uitgereik word.

“Vir die landboubedryf om te floreer benodig Suid-Afrika nie net verhoogde produksie nie, maar ook verhoogde toegang tot uitvoermarkte. Ons is bly die president het die belang van uitvoergedrewe groei in die sektor erken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Genade in watter lala land leef hierdie manne kyk die geskiedenis dink hulle vir een oomblik hy gaan enige hulp aan ons boere gee word wakker man

ne ·

Wonder wanneer cr sy geldjies met die armes gaan deel. Heuning om die mond is al wat hy ken.

Johan ·

Vyf (5) dakloses word vermoor en onmiddelik word ‘n spesiale polisie taakspan op die been gebring om die moorde te ondersoek…

‘n Oorlaaide taxi (soos gewoonlik) verongeluk en 24 mense sterf – ramaphosa is dadelik daar om simpatie te gee aan die naasbestaandes…

Daar is amper DAAGLIKS ‘n plaasaanval/plaasmoord in SA. Tot op hede is DUISENDE boere vermink, verkrag, gemartel en gemoor op hulle plase… en ramaphose is doodstil.

En ons wil hom die “voordeel van die twyfel” gee oor landbousake?

marous ·

Waarvan praat hulle ? Uitvoer is vir landbou 16 – 1 meer lonend as die lokale markte . Die oosterse markte se produkte word vir die helfte goedkoper op die rakke verkoop as wat die plaaslike produsente se gelyk breek prys is . Verhoog invoer belasting soveel dat mense dubbel betaal om sodoende die lokale mark te ondersteun , en alles word afgebrand .

Realis ·

Almal wat dink dat dinge gaan beter raak veral in Landbou lewe in n droom wereld…..!!

Wonner ·

Hulle voel niks vir ons boere nie.Die banke en die politici voel vir ons niks.Die banke vertaan nie eers meer boerdery nie…hulle wil hê ons moet n swak jaar se verliesse in een jaar terugbetaal met swak graanpryse…die bankiers is almal oningelig en so ook die leiers.

Julie Jansen van Rensburg ·

Cyril sal nooit as te nimmer erken dat plaasmoorde gereeld plaasvind nie – hy het dan selfs vir die VVO weet te vertel dat daar geen plaasmoorde plaasvind nie – nog minder dat dit meestal WIT boere is wat op die wreedste maniere gefolter en vermoor word… maar weet iemand of die aanvallers ook swart boere so folter en vermoor? Ek is daarvqan bewus dat daar ook swartes is wat vermoor word,maar die media is ook maar bra stil hieroor. Wanneer gaan hierdie korrupte regering besef dat as daar geen boere meer oor is nie – hetsy wit of swart – sal “OUR PEOPLE” begin hongerly, want geeneen van hulle stel daarin belang om self te begin boer en kos produseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.