Staatsrede: ‘Meer staatsinmenging nie die antwoord’

Pres. Cyril Ramaphosa saam met ander beamptes van die parlement tydens die staatsrede (7 Februarie 2019). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die vakbond Solidariteit het in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê die regerende party se wesenlike uitgangspunt is ooglopend dat meer staatsbeheer tot beter resultate sal lei en dít ondanks die jare lange rampspoedige gevolge wat deur staatsinmenging veroorsaak is.

Werner Human, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê die hardnekkige deurvoer van onder meer die inwerkingstelling van die Nasionale Gesondheidsversekering en die onderneming om eiendom sonder vergoeding te onteien, dui op ʼn staat wat poog om mense al hoe meer afhanklik van hom te maak.

“Die regerende party kom duidelik nie tot die besef dat die staat eintlik die grootste struikelblok is om Suid-Afrika op ʼn pad van welvarendheid saam te neem nie. In plaas daarvan om te dereguleer, beloof die staat net meer regulasies en meer wetgewing, wat uiteindelik ʼn groter meulsteen om die nek van die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan wees,” sê Human.

Human het soos talle politieke partye en ander organisasies gesê Ramaphosa se staatsrede gee geen aanduiding dat die regering die ekonomie sal kan regruk nie. Inteendeel, Human meen dat die regering eerder net ʼn groter hindernis tot ekonomiese groei sal wees.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2019 (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

“Die regerende party dui aan dat miljarde rande van die belastingbetaler gespandeer gaan word om die huidige stand van sake te verbeter. Die probleem in Suid-Afrika is nie dat die regering te min geld uitgee nie; dit is dat hulle te veel geld verloor. Ongelukkig neem bevoegdheid nie toe namate syfers groter raak nie, en meer geld wat in onwerkbare staatsprojekte ingestoot word, beteken net minder geld in Suid-Afrikaners se sakke en meer skuld vir die fiskus, terwyl die uitwerking op Suid-Afrikaners se lewe ten beste weglaatbaar en ten ergste duidelik skadelik is,” het Human gesê.

Volgens Human is staatsinstellings wat lamgelê word deur swak bestuur nie volhoubaar nie. “Buiten die klein groen loot van ʼn belofte om deur middel van ʼn skeiding van sake-eenhede ʼn ommekeer by Eskom te bewerkstellig, bly staatsinstellings ʼn groot plunderput wat deur swak bestuur lamgelê word, terwyl die belastingbetaler die las daarvan dra. Die regerende party sal tot die besef moet kom dat tegnokraties oorweldigende staatsorgane bloot nie doeltreffend kan funksioneer nie – ongeag wie in die direksies van daardie organisasies dien.”

Human meen privaat besighede moet toegelaat word om kwessies soos wat in die staatsrede genoem is, te takel. Hy wys daarop dat dit wêreldwyd duidelik is dat die privaat sektor die primêre bron van dinamiese, innoverende en paradigmaskuiwende idees bly. “As die regering net meer vertroue in gewone Suid-Afrikaners gehad het om oor hul eie sake te beslis, in plaas daarvan om alle besluite by ʼn paar staatsamptenare te sentraliseer, sou ons almal soveel beter daaraan toe gewees het.”

Wat van die jongmense?

Ook die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) meen die president se staatsrede het weinig inligting bevat wat daarop dui dat die regering weet hoe om die kwessies aan te pak wat die ekonomie kniehalter. Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die IRV, sê daar was geen aanduiding dat die regering die probleem van ʼn groot getal jongmense wat by die ekonomie uitgesluit is, gaan takel nie.

Obed Bapela, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, en metgesel tydens die 2019 staatsrede. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

“Werkloosheid is ʼn groeiende krisis. Nicholas Lorimer, ʼn ontleder vir die IRV, het daarop gewys dat die getal werkloses gegroei het van 1 998 000 in 1994 na 6 177 000 vandag – ʼn styging van meer as 200%.”

Cronje sê verder beskikbare data toon dat 39% van jongmense (tussen 18 en 34 jaar oud) nie werk, studeer of opgelei word nie, “en daar is geen groter bedreiging vir Suid-Afrika se langtermyn-stabiliteit as die ekonomiese uitsluiting van jongmense nie”.

Hy voeg by te veel van die regering se beleidstellings het ʼn verswakkende uitwerking op die ekonomie en werkskeppings. “Twee van die regering se grootste beleidsprestasie in die afgelope jaar – die skuif na onteiening sonder vergoeding en die nuwe minimumloonwette – sal ʼn negatiewe netto effek op die oorkoepelende lewenstandaarde en inkomstevlakke hê.”

AfriForum: “Met volharding oor onteiening sonder vergoeding in staatsrede, dobbel president met almal se toekoms.”

“Grondkwessie steeds ʼn meulsteen”

AfriForum meen Ramaphosa se staatsrede behoort geen gerusstelling aan buitelandse of plaaslike beleggers te bied nie, maar het juis rede vir groter onsekerheid en kommer geskep.

“Die president ignoreer die waarskuwings van die vernaamste beleggers in Suid-Afrika – soos wat duidelik uit die kontroversiële diplomatieke memorandum van die VSA, VK, Duitsland, Nederland en Switserland wat die afgelope naweek aan die lig gekom het, blyk – deur hardkoppig te volhard met planne vir die inwerkingstelling van onteiening sonder vergoeding,” sê Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

“Duidelik ignoreer die president die voorbeelde van lande soos Venezuela en Zimbabwe wat die rampspoedige gevolge van soortgelyke programme ervaar en dobbel met die toekoms van almal in die land.”

Volgens Bailey het die president in die staatsrede voorgegee dat entrepreneurskap bevorder en ongelykheid omgekeer kan word deur ’n herverdeling van eiendom, maar deur die wêreld is telkemale bewys dat die beskerming van privaat eiendomsreg die sleutel tot ekonomiese ontwikkeling bied.

“Verder is so min moontlik owerheidsregulering, asook beleidsekerheid nodig om die ekonomie te laat groei. Die staatsrede het egter geen gerusstelling of duidelikheid op dié terreine gebied nie. Inteendeel, met verwysings na die voortsetting van BBSEB en die mededingingswysigingswetsontwerp, het die president die indruk gewek dat regulering nog meer verskerp gaan word.”

Bailey beklemtoon AfriForum besef dat staatsredes in die maande voor ’n nasionale verkiesing gewoonlik neig om kiesers en afvallige partygenote te probeer paai, maar sê in die ekonomiese krisistoestand waarin die land tans verkeer, veral wat die skaal van werkloosheid, korrupsie en misdaad betref, is dit teleurstellend dat die president nie sterk leierskap kon toon om van populistiese beloftes van kitsoplossings soos onteiening sonder vergoeding af te sien nie, maar steeds op hierdie selfvernietigende pad voortstu.

Minister Blade Nzimande en sy vrou, Phumelele Nzimande, tydens die 2019 staatsrede. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

“Waar menseregte soos privaat eiendomsregte geskend word, het ekonomiese groei nog nooit gevolg nie en was die slagoffers deurgaans die mees weerlose mense wat sogenaamd by herverdelingsprosesse moes baat. Al die mooi beloftes wat pres. Ramaphosa dus in die staatsrede oor opheffingsprogramme gemaak het, is tot mislukking gedoem, tensy eiendomsregte beskerm word.”

Louis Meintjes, president van TLU SA, stem saam dat grondonteiening sonder vergoeding ʼn meulsteen bly wat plaaslike en buitelandse beleggers afskrik. “Die beleggingslande was reeds bekommerd oor die implikasies wat grondonteiening sonder vergoeding vir private eiendomsreg inhou. Maar in die staatsrede beklemtoon pres. Ramaphosa die hersiening van artikel 25 van die Grondwet wat handel oor grondonteiening sonder vergoeding,” sê Meintjes.

“Die kommersiële boer, wat die anker en basis is van die ekonomie en voedselsekerheid, is nie op sy agenda nie,” sê Meintjes. “Mens sou verwag dat die president van landbou sy vriend sou maak as hy darem kan sien hoe belangrik dit vir die ekonomie is. Maar hy hanteer die bedryf met minagting, al is daar groot welwillendheid van ons kant af.”

Hy sê ook dit is vir TLU SA onduidelik hoe die president korrupsie, veral rakende landbou, gaan beperk. “Vandeesweek het R220 miljoen wat in 2015 vir droogtehulp aan KwaZulu-Natal bewillig is, weer onder die loep gekom. Vier jaar later kan daar steeds nie rekenskap gegee word vir die geld nie. Dit het nie by die boere uitgekom nie,” sê Meintjes.

“Daar kan maar berade gehou word oor werkskepping, planne gemaak word vir onderwys en  beloftes oor ʼn beter lewe vir armes gemaak word, maar as landbou nie reg ondersteun word nie, is dit alles verniet. Die president droom mooi drome vir die land, maar as die kommersiële boer nie beskerm word nie, gaan dit in ʼn nagmerrie ontaard.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Bekommerd ·

dis mos kommunistiese beleid dat alles aan die regering moet behoort

piper ·

die witman word gehaat want dit is die witman wat die korupsie en stelery openbaar maak. ankyk wat magda van sygnia uitgevind het van groot bedrae uitbetaal deur die staatspensioenfonds as sg. adviseur en kommisie kostes.

Deon ·

Die kiekies lyk soos die Oscars. En dìt terwyl meer as 50% van die bevolking in armoede leef.

Gemaskerde Sopbeen ·

Wat verstaan julle nie? Meer staatsinmenging = meer poste wat geskep word = meer kader ontplooing = “beloofde werkskepping” = “Vote for us”???? Dis “Africa Democracy” people……

Loeis ·

Human en Cronje is reg om die tekortkominge uit te wys, maar moet onthou dat die sosialis almal ten alle koste gelyk, en dus arm, wil hê. Die regering het al baie bewys dat die ekonomie eintlik hulle vyand is. Daarteenoor is meer maatskaplike toelae en beloftes van gratis onderwys en gesondheidsorg hul vriend, want daarmee koop hulle stemme. Dinge gaan net erger word solank die ANC regeer.

John ·

CR sal onthou word as die sanitasie-pres… maar nie wat staatskorrupsie betref nie, inteendeel. Eskom se ontbondeling gaan ons meer geld uit die sak jaag en eerder meer aanstellings en chaos tot gevolg hè. Quantumspronge die ruimte of die seebodem in… hiper-RR’e of mega-r’e vir miljoene swart boere/besighede, terwyl triljoen onder die tafel van hande verwissel… Rekordlange duur toesprake sè zero, maar ‘n paar goed reg doen, sè alles.

Gemaskerde Sopbeen ·

Goeiste….maar mense verstaan nie? Net verlede week was daar ‘n berig in Bussiness Insider van hoeveel miljarde Rande wat geoormerk was vir grond-onteiening “weggeraak” het…..Al wat nou oorbly is om die grondwet te verander sodat grond gevat kan word SONDER vergoeding. Die volgende ding wat gaan gebeur is dit: Die reserwebank gaan genasionaliseer word…..dan skryf die regering vir die reserwebank voor wat weer vir die pensioenfondse voorskryf waar om tot 30% van hulle beleggings te doen…..Wil julle ‘n raaiskoot waag? Ja….in Eskom, SABC, SAL…en al die sukkelende staatseintiteite…….en VOILA!!…problem solved!!! Of so dink hulle…..

Antoinette ·

Ek wonder maar net . is dit werklik nodig om so op te “dress” soos vir ‘n matriekafskeid vir ‘n vervelige twee ure?

IK ·

Die vere maak die voël. Dis net hoofstrate wat se name verander word.

Gert ·

Ek wens die heeltyd hulle wil ons verder straf deur ons op ons eie in ‘n tuisland in te forseer waar ons self sal moet oorleef sonder enige hulp van hierdie staat.

Dries du Toit ·

Daai tuisland Gert sal spoedig verander in die broodmandjie van Afrika.

humor ·

Het u al daaroor gedink net een enkele swart anc kieser in jou fabriek skep al vir die staat n bepaalde mag in jou besigheid.

Johann M van Heerden ·

Dit is ‘n gepraat en praat en niks word gedoen nie. Die swierigheid is ook beledigend vir arm mense. Dit maak mens naar. Hoe kan enige regdenkende mens glo dat CR met al die stories die land kan regruk. ‘n Afrikaner tuisland moet onmiddelik beplan word en op dreef gekry word. Nodusse wat werk en rykdom kan genereer moet gevestig word. Belastings moet deur die entiteite ingesamel word en vir dienste aangewend word. Dit moet NOU gebeur, want dit is reeds laat im die dag.

Jerry ·

Die staatrede dui daarop dat die ANC sy magsgreep op beheer van die ekonomie gaan versterk. Die denkwyse is ook om die ekonomie te laat goed lyk deur buitelandse investering en binnelandse beleggings en om NDR verandering te implementeer om die revolusioneres groter bevryding en meer regte te gee. Die kern van die staatsrede dui daarop dat die belastingbetaler nie net gaan betaal vir die ANC se staatskaping en mislukkings soos bv Eskom nie, maar ook gaan sorg vir die werklose massas vir water, elektrisiteit, grants, medies, pleegsorg, onderwys ens. Dit is die kern, die wat het, gaan vir die wat nie het nie moet sorg. Staatsentiteite en die staat gaan vergroot om sodoende werk te skep waarvoor die belastingbetaler gaan moet betaal. Die ANC gaan dus groter tree begin gee na sosialisme. Die ANC elite en staatsdiens revolusionere kaders gaan ryker en magtiger word met die middelklas belastingbetalers wat armer word. N revolusioner wat nie werk nie en wat nie belasting betaal nie gaan met n Land Cruiser rondry, dit is SA se onomkeerbare voorland. Alles wat geimplementeer gaan word gaan tot voordeel van die revolusioneres strek wat dan uiteraard baie sleg gaan wees vir die regdenkendes. Hierdie opinie van my is gebaseer op die mees optimistiese opinie wat ek kan gee. Die pessimistiese opinie kan ek ongelukkig nie met julle deel nie, omrede MM dit defnitief nie sal plaas nie!

Herman ·

Sprikane is opertuniste. Hulle spring van groen kol tot groen kol en eet alles op voor hulle na die volgende groen kol spring.
Jagter versamelaars doen dieselfde.
Die groen kol van die huidige begroting is nou te klein vir al die sprinkane en nous die volgende groenkol die plase en pensieonvondse.

Bets Burger ·

Kannie wag vir ons tuisland nie. Harde werk wasnog nooit n probleem vir ons nie

Charl ·

Bets jy kan maar in n tuisland gaan bly die hele SA behoort aan ons nie net n klein gedeelte nie. Ek gaan beslis nie op n klein stukkie grond bly en dit my huis noem nie.

Gert J ·

Die ANC is deur Rusland opgelei volgens sosialistise beginsels. Dieselfde as wat EFF voorstaan. Hulle is uit en uit kommuniste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.