Staatsrede: ‘Ons kies om self te bou eerder as staatsafhanklikheid’

President Cyril Ramaphosa lewer die 2020 staatsrede. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Solidariteit Beweging het in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede bevestig dat hy steeds sal aanhou om gemeenskapsinstellings en projekte te bou om sodoende ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika vir sy lede te verseker.

Die beweging, wat uit sowat 18 instellings bestaan, het dit gestel dat alhoewel pres. Ramaphosa die versekering gegee het dat hindernisse uit die weg geruim sal word sodat die private sektor kan floreer en dat staatsbesteding ingeperk sal word, die regering steeds daartoe verbind is om beleide wat die ekonomie onomkeerbare skade gaan berokken, soos onteiening sonder vergoeding en die implementering van die nasionale gesondheidsversekering (NGV), uit te voer.

Die beweging reken voorts dat die ANC se ideologiese begronding om die nasionale demokratiese rewolusie uit te voer deur die staat meer mag te gee en meer te sentraliseer lynreg teen sekere voornemens wat in die toespraak onthul is, indruis.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van die beweging, is die beweging daartoe verbind om Suid-Afrika as ’n geheel suksesvol te maak, en dat die toekoms nie slegs aan die regering oorgelaat kan word nie.

“Die mislukkings van die regering is duidelik vir almal om te sien. Die agteruitgang in opleiding, ekonomiese groei, veiligheid, kragvoorsiening en werkloosheid is maar net ’n paar voorbeelde daarvan sedert die vorige staatsrede,” het Redelinghuys gesê.

“Die staatsrede bevestig maar net weereens vir die beweging dat ʼn toekoms deur middel van gemeenskapsinstellings eerder as staatsafhanklikheid verseker moet word,” het Redelinghuys afgesluit.

Dr. Dirk Hermann. (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het die drastiese stappe wat Ramaphosa aangekondig het om kragopwekking te desentraliseer, verwelkom.

“Die volgende stap is om die transmissienetwerke vir private kragopwekkers beskikbaar te stel,” het Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Daar was egter geen plan om Eskom se ontsaglike skuldprobleem te hanteer nie. “Dit blyk dat afgesien van pensioengeld die regering sonder planne is om die enorme Eskom-skuldkrisis te hanteer.

“Ons voorsien ʼn enorme botsing tussen pensioenfondslede en die regering. Solidariteit sal aan die voorpunt van die geveg wees,” het Hermann aangevoer.

Verder blyk dit dat die regering voor die afhandeling van die openbare prosesse reeds besluit het dat die NGV geïmplementeer gaan word.

“In die lig daarvan gaan Solidariteit sy regspan opdrag gee om te begin voorberei vir ʼn hofstryd om die NGV te stop.”

AfriForum het ná afloop van die staatsrede gesê dit blyk dat pres. Ramaphosa vasberade is om vas te klou aan die ANC se verloorresep om die land oor die afgrond van sosialisme en armoede te regeer.

Dit is duidelik deur sy beklemtoning van beleide soos onteiening sonder vergoeding, die NGV, swart ekonomiese bemagtiging en verhoogde staatsinmenging.

Ernst Roets. Foto: Ernst Roets/Twitter

“Indien Ramaphosa konkrete planne ter tafel gelê het oor hoe om onder meer ekonomiese groei (wat tans 0% is) aan te wakker, internasionale beleggers gerus te stel en werkloosheid die hoof te bied, sou ’n mens hierdie staatsrede ernstig kon opneem.

“Ramaphosa se staatsrede is egter soos om gif vir ’n siek pasiënt te gee en te sê dat dit hom of haar gesond sal maak,” het Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, gesê.

Die president het veral klem gelê op die ANC se verbintenis tot onteiening sonder vergoeding. “Dit bly egter vir AfriForum ’n raaisel waarom die regering aan ’n universeel-mislukte beleid bly vasklou,” sê Roets.

Die staatsrede wys weer eens dat die regering die probleem is, maar dat die oplossing in die burgerlike samelewing gesetel is. “Daarom moedig AfriForum gemeenskappe aan om al hoe meer selfstandig en onafhanklik van die staat te word. In ons strewe hierna, stig ons landwyd buurtwagte en takke; het ons ’n privaatvervolgingseenheid; beveg ons sosialistiese beleide soos die NGV en onteiening sonder vergoeding; en pak ons korrupsie- en haatspraaksake in die howe,” sluit Roets af.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Solidariteit het meer as 500 000 lede en dis ‘n organisasie wat 99% dieselfde oor die politiek dink as VF-Plus. Tog het die VF-Plus maar 410 000 stemme in 2019 se algemene verkiesing gekry. Iewers is dus meer as 100 000 mense wat nie in stem belangstel nie. Ons eie mense wat dus ons eie mense in die rig steek…

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die staatsrede maak geen melding dat die ANC afstand doen van sy National Democratic Revolution om ‘n sosialisties-kommunistiese National Democratic Society in Suid-Afrika te vestig nie. So, wat gaan regtig verander? Die ANC-Elite wil beheer bekom oor alle magshefbome en geldbronne. Hulle wil ons lewens tot in detail beheer en bestuur asof ons slawe is en nie self kan dink nie. ‘n Regte “nanny state”.

Pieter J ·

Eintlik het niemand meer verwag van die ANC as wat CR in die vooruitsig gestel het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.