Staatsrede: Ramaphosa praat baie, doen min

oring-koringare-landerye-son

Foto: Freestocks.org/Pexels.com

President Ramaphosa moet ophou praat en dóén. So meen landbouorganisasies ná pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdagaand.

“Mense is siek en sat vir grootpraters wat nie optree nie en dit is tyd vir Ramaphosa om die daad by die woord te sit,” sê Omri van Zyl, uitvoerende hoof van AgriSA. “Pres. Ramaphosa het tydens sy 2019-staatsrede groot beloftes aan die land se mense gemaak. Dit is egter duidelik dat hy nog geen van hierdie beloftes nagekom het nie en die land is inderwaarheid besig om agteruit te beweeg.”

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. Foto: Facebook

Van Zyl het verwys na die groeivooruitsigte vir Suid-Afrika wat tot minder as 1% verlaag is vir 2020, die amptelike werkloosheidsyfer van 29% en die ware matriekslaagsyfer van 42,2%.

TLU SA is ook nie oortuig dat die beloftes wat Ramaphosa tydens sy staatsrede gemaak het, wel tot voordeel van die land is of selfs deurgevoer kan word nie.

“Suid-Afrika is vasgevang in die ANC, SAKP en Cosatu se ideologiese net wat oor tyd ’n bepaalde beleidsomgewing geskep het waarmee alles moontlik gedoen is om die ekonomie te skaad,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA. “Die ANC se blaf raak nou uitgedien en indien hulle byt nie gekoppel is aan kundigheidsbenutting sowel as die etiese implementering daarvan nie, sal sake maar net op die korrupte manier aankarring.”

Van Zyl sê die president moet in die volgende jaar op die volgende fokus:

  • ʼn Ander plan vir landbouontwikkeling as onteiening sonder vergoeding, omdat dit katastrofies vir die land se ekonomie en voedselsekerheid sal wees.
  • Dringende droogtehulpverligting aan boere behoort ʼn nasionale prioriteit te wees en die regering moet saam met die private sektor werk om ʼn volhoubare oplossing hiervoor te vind.
  • Beperk die skade van siektes soos bek-en-klouseer deur die kundigheid in die private sektor te gebruik.
  • Maak landelike veiligheid ʼn nasionale prioriteit.
  • Privatiseer staatsbeheerde entiteite soos die SAL en Eskom en kry kundiges om die werk te doen.

TLU SA meen die oplossing is om te belê in bestaande kundigheid en die oordrag daarvan. “Die oplossing is nie om net meer opleiding te verskaf en entrepreneursprogramme aan te bied nie,” sê Meintjes. “Indien daar geen beleggers in die land is nie, is daar geen werk nie. Indien arbeidswetgewing dit onmoontlik maak om ʼn besigheid op die been te bring sonder om korrupte bande met die regte mense te hê, is daar geen werk nie. Indien besighede dit nie kan bekostig om mense in diens te neem nie, is daar nie werk nie.”

Christo van Rheede, president van AgriSA, sê daar is planne gereed om die ekonomie te help groei en vorentoe te beweeg. “Maar die gebrek aan politieke wil om dit tot uitvoering te bring veroorsaak baie frustrasie in die landbousektor en die ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zirk ·

Die ANC is vasgevang in sy sosialistiese beleid waaruit hy met die beste wil in die wêreld nie kan ontsnap nie. Sny nog hul kollektiewe besluitnemings prosesse saam in hierdie pot van die dood, en jy kry ‘n hopelose brousel.

ElizeK ·

Sal dit nie fantasties wees as al hierdie mensies soos byv Afriforum, Solidariteit, TLU, ens ens onder 1 sambreel gevoeg kon word nie. Dink net die krag wat uit so n samevoeging kan voorspruit.
Dan kan ons ook opstaan en ons stemme baie dik maak. Ons gaan NIKS uitgerig kry deur klein groepies nie. Vir ANC regering is dit soos klein hondjies wat blaf.
Ons beter baie vinnig saamstaan en vat waar dit seermaak. Net soos die EFF moet ons ook nou oorgaan tot optrede.

Anoniem ·

Die man is soos n pappegaai. Praat en praat en praat. Dan het hy ook nog n ander droom en dit is om n skrywer te word want hy wil net heeldag briefies skryf. Hy is so besig tussen al die gepraatery en briefies skryf dat nie tyd het om aandag te gee aan die land se probleme. Jaag hom weg en kry iemand wat tyd het. Hy sal nie n dag op my werf gewerk het nie.

Jakes ·

Hoe lank gaan die president nog probeer om met sy slim praatjies ons n rat voor die oge te draai? Na 26 jaar van ‘ demokrasie” is dit duidelik dat die struggle comrades nie bevoeg is om die land suksesvol te regeer nie. Om n AK 47 rond te swaai maak nie van jou n bevoegde politikus nie.

Wondermaarnet ·

Al wat hy kan praat is om geld te bedel oorsee. Wie wil in elk geval in hierdie land belê?

KB ·

Ek het gisteraand die hele spektakel gade geslaan, en by myself gedink:
Hoekom enigsinds media-dekking gee aan die EFF? Die effek is dat ons hulle onwetend bemark!

Ramphosa se hele SONA was soos ‘n passer – al om die punt, praat baie, sê niks…dan het ons nog nie by die DOEN uitgekom nie. Nee wat, daai ou saai toesprakie kon hy maar gelos het.

Alwyn ·

Hulle hoef nie kundiges in die privaat sektor te gebruik vir die Bek-en-Klouseer nie. Daar is genoeg kundiges in die Dept van Landbou, hulle moet net doen wat gedoen moet word.

Cherokee ·

Ramapoker, as jy vir my gewerk het, het ek jou lààànkal afgedank. Die huidige waarheid is dat jy tòg vir my werk, maar vir tè veel van die opposisie ook. Jou tuindienste is power, maar ek het nie meer die totale seggenskap, want die tuin het meer eienaars gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.