“Dit ontwrig die media se werk aangesien joernaliste hul selfone gebruik om inhoud en foto’s aan hul kantore te stuur en om inligting op Facebook en Twitter te laai,” het Mthatha Tsedu, uitvoerende direkteur van Sanef, gesê.
“Ons doen ʼn beroep op die parlement se leierskap om onmiddellik die besluit te heroorweeg in belang van ʼn demokratiese parlement wat die hoeksteen is van ons demokrasie.”
Talle joernaliste wat die staatsrede bywoon het op Twitter gekla dat hulle nie selfoonsein het sodra hulle die Nasionale Vergadering binnegaan nie. LP’s het ook hul misnoeë te kenne gegee oor die beweerde blok van selfoonsein.
Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, het die volgende getwiet:
Cell phone signal was switched off in the House. Riot cops. Now this? #Dontyalovedemocracy
— Dianne KohlerBarnard (@DKB20) February 12, 2015
Tsedu het gesê indien die parlement nie die selfoonsein weer beskikbaar maak nie, dit op sensuur sal neerkom.
Daar is intussen ook kommer dat die parlement sy regstreekse uitsending van die staatsrede sal onderbreek indien daar chaos in die parlement uitbreek, soos wat verlede jaar gebeur het. Tsedu het gesê Sanef het reeds met die parlement hieroor vergader.