Staatsrede: ‘Só kan ekonomie omgeswaai word’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa lewer vandag (7 Februarie) sy tweede staatsrede in ’n beleidsklimaat wat nie net onseker is nie, maar ook teenproduktief.

Dit is die mening van Sakeliga, die regtewaghond wat homself beywer vir ʼn selfstandige sakegemeenskap.

“Ramaphosa het die moeilike taak om nie net internasionale en plaaslike beleggers te paai en ernstige plaaslike ekonomiese uitdagings die hoof te bied nie, maar ook om die strydlustige invloede in sy eie party aan bande te lê.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie het ’n ander soort staatsrede broodnodig, een wat ekonomiese vooruitsigte feitlik onmiddellik sal verbeter,” sê Gerhard van Onselen, ʼn senior ontleder by Sakeliga.

Van Onselen meen so ’n Staatsrede sal beleidsaankondigings soos die volgende moet insluit:

Die impak van BSEB moet bepaal en hersien word

“Die ANC se swart ekonomiese bemagtiging is teenproduktief en skadelik vir die ekonomie. Dit kom neer op die oordrag van eienaarskap ten koste van werknemers, entrepreneurs en verbruikers in alle sfere van die samelewing,” sê Van Onselen.

Hy sê boonop is die beleid nog nooit aan ’n deeglike koste-voordeel-ontleding onderwerp om die uitwerking daarvan op produktiwiteit, investering, rompslomp en algemene nakomingskoste te evalueer nie.

“Die huidige toepassing van die beleid gee ook nie gehoor aan die redelike aanbevelings in die Final Recommendations of the International Panel on Growth in 2008 nie, [ʼn paneel] wat op versoek van die destydse pres. Thabo Mbeki aangestel is onder voorsitterskap van prof. Ricardo Hausmann.”

Hausmann pleeg tans met die tesourie oorleg oor ekonomiese beleid. Aanbeveling 20 van die 2008-verslag vra vir die uitskakeling van die ekwiteitsdeelname wat vir nuwe ondernemings vereis word.

Van Onselen sê Sakeliga wil graag aanvanklike beslissende stappe sien om BSEB af te skaal, beginnende met terugwerkende vrystelling van BSEB-ekwiteitsvereistes van bona fide, nuwe ondernemings wat sedert 2008 gestig is.

Die risiko’s wat staatsbeheerde ondernemings vir die ekonomie inhou, moet verminder word

“Staatsbeheerde ondernemings hou tans ’n duidelike risiko vir die Suid-Afrikaanse fiskus in,” sê Van Onselen.

Vorige staatsredes het talle beloftes ingehou om die bestuur van hierdie instellings reg te ruk, maar hierdie pogings het weinig opgelewer. Trouens, dit blyk dat die situasie steeds vererger – met selfs die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se portefeulje van R2 000 miljard wat by bewerings van korrupsie betrek word.

Van Onselen sê staatskaping en korrupsie is net simptome van ’n veel ernstiger onderliggende situasie – die kaping van privaatsektorhulpbronne en -aktiwiteite deur die staat.

“As Ramaphosa ernstig is om die ekonomie beter te laat werk, kan hy gerus ’n padkaart bied vir die afskaling en privatisering van riskante staatsbeheerde entiteite soos Eskom.”

Die onafhanklikheid van die Reserwebank moet bo alle twyfel staan

Ten spyte van Ramaphosa se gerusstellings in Davos, Switserland, vroeër vanjaar is die ANC, te oordeel na sy verkiesingsmanifes, vasbeslote om politieke inmenging in die werking van die Suid-Afrikaanse Reserwebank te verskerp.

“As Ramaphosa ernstig is om investering in die Suid-Afrikaanse ekonomie te lok, moet hy sterk versekerings gee dat die geldeenheid nie onder onbehoorlike politieke invloede sal wees nie,” sê Van Onselen.

Afskaling van regering

Suid-Afrika se kabinet, bestaande uit 70 ministers en adjunkministers benewens die president self, is veel groter as soortgelyke liggame in ander jurisdiksies.

“Hierdie tendens strek tot heel onder – en Suid-Afrika se loonrekening is veels te hoog, proporsioneel tot die BBP, op ongeveer 11,7%.

“Hierdie poste is natuurlik nie kosteloos nie, want dit word deur die regering geskep en in stand gehou ten koste van poste in die private sektor – poste wat deurlopend bedreig word deur die ekonomiese gevolge van die regering se rampspoedige beleid.

Die private sektor het baie meer ruimte nodig om te groei en werkverskaffing te verhoog – en afskaling van die regering se betaalstaat sal die private sektor genoeg geleentheid bied om dit te doen,” voeg Van Onselen by.

Beveiliging van private eiendomsregte

Die diskoers oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding berokken die Suid-Afrikaanse ekonomie ernstige skade en Van Onselen meen dit sal waarskynlik so voortgaan as die openbare diskoers op dieselfde grondslag voortduur.

Hy meen dit is noodsaaklik dat Ramaphosa hom ondubbelsinnig verbind tot die bewaring en beskerming van eiendomsregte.

Korrupsie moet behoorlik bekamp word

Die Suid-Afrikaanse publiek het meer as net ’n eindelose stroom kommissies van ondersoek nodig om korrupsie effektief te bekamp, sê Van Onselen. “Selfsugtige burokratiese hekwagters vir die ekonomie rig veel groter skade aan as wat bloot in die geldwaarde van omkopery en onvanpaste tenders gemeet kan word.”

Hy voeg by om vertroue en die oppergesag van die reg te herstel moet daar onmiddellik stappe gedoen word om die geïmpliseerde persone te vervolg, “maar op langer termyn moet geleenthede vir nastrewing van eie gewin en spesiale gunste deur amptenare en reguleerders uitgefaseer word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jerry ·

Die ekonomie gaan omgeswaai word en verandering gaan teweeg gebring word en die ANC gaan alles beheer vir die ANC omrede goedgelowige beleggers gaan bele en die ANC verder versterk in hulle kwaad. Die ANC elite en revolusionere strukture gaan stinkryk raak en die res brandarm. Soos Steve se, dis hoe dit is! Soos ek se, dis hoe dit sal wees, tensy Eskom sink en beleggers nie in mynbou en olieontginning bele nie, dan sink die ANC.

Spike ·

Daar is nie ñ kans dat die ekonomie omgedraai kan word met die comrades en kader idiologie nie. Kommunisties, hulle moet als beheer en dan is die vermoëe nie daar nie

Gert J ·

Die ekonomie kan alleen omgeswaai word indien die leiers van die land verantwoordelik begin word vir hulle optredes. Hulle kan nie die Weste beskuldig van slawerny en kolianisme en dan nog verwag om beleggings te kry. Die weste het reeds laat weet dat hulle SA nie vertrou nie. Korrupsie en misdaad moet aangespreek word en die skuldiges moet tronk toe. Staatskaping skuldiges moet veroordeel word en tot verantwoording geroep word. Tot dan lyk die prentjie nie goed nie. Die ANC moet op die toekoms ag gee en die verlede kan hulle nie verander nie.

Nel ·

Ou paling probeer alweer om almal ‘n gat in die kop te praat, maar ons weet die stert (ANC) swaai die hond.

Frans C ·

Die ekonomie is die afgelope 25 jaar op die agtervoet want die en semi-staatsinstellings,
het indiensnemingsinstansies geword.
In baie munisipaliteite is poste voorheen beklee deur een amptenaar eenvoudig in drie verdeel om twee ekstra amptenare aan te stel.By baie van diegroter munisipaliteite was daar bv ‘n siviele ingenieur ondersteun deur tegniese personeel verantwoordelik vir die
instandhouding van paaie en stormwater en kleiner konstruksie projekte daaraan verbonde,
Nou kry ‘n mens ‘n siviele ingenieur belas met die instandhouding van paaie,nog een vir
stormwater en nog een wat konstruksiespanne vir kleiner projekte beheer.

By Eskom is die tendens nog erger.By Eskom is of was daar 47600 mense werksaam teen oor 32 600 ‘n dekade gelede.Die meer mense het nie beter diens beteken nie,maar het saam met nagelate onderhoud tot beurtkrag,korrupsie en stygende elektrisiteitspryse gelei,.

Omdat krag ‘n belangrike produksiefaktor in baie bedrywe is ,was dit mi saam met verhoogde petrolpryse belangrike faktore in verhoogde voedselpryse en dus ook inflasie.

Dit is duidelik dat die regering nie ontslae gaan raak van oortollige weknemers nie en sodoende werkloosheid verder verhoog en sy kiesers te vervreem nie.

Ek hoop ek is verkeerd maar met dieselfde mense aanbewind en ‘n uitgediende beleid
sien ek swarigheid vorentoe,veral as grondonteiening van produktiewe grond ‘n werklikheid word.

Thinus ·

Al wanneer die ekonimie ‘n ommeswaai gaan maak is wanneer die ANC kommuniste nie meer in beheer van die land is nie. Hulle is bloot te korrup, onbevoeg en lui om ‘n moderne land te kan regeer. Als wat voorheen 100% gewerk het, werk min of geen meer nie.

Aitoggie ·

Alles lee woorde. As daar maar iets van sou gekom het. Gaan nie eens luister daarna nie.

Eddie ·

Daar is net te min kapasiteit in SA tronke om al die skelms wat skep te akkomodeer en hulle weet dit goed !

Werner ·

Mens se kans is beter om die Lotto te wen as wat hulle kans is om die ekonomie omgeswaai te kry.

Ronel ·

Die prentjie van die wonderlike Suid Afrika wat gisteraand geskilder is, n paradys wat net nog meer ongelooflik gaan word met nog 5 jaar se gratis tersiere studie ens ens is beslis nie die land waarin ek woon, waarin ek vanoggend wakker geword het nie!

Minora ·

Wat was die spotprent van nou die dag? woorde woorde woorde woorde lee betekenlose woorde. Dis soos Charlie Brown tekenprente as die grootmense gepraat het ! nhop nhop nhop

lewies ·

Die ekonomie kan gered word!!. Skaf BEE af!!!! Die wortel van alles wat in SA skeefgeloop het. Kompeteer op gelyke voet, met ‘n standaard kriteria vir aanstellings. Waarvan interiteit met al sy komponente soos werksetiek en kennis ens. ondersoek en meetbare komponente MOET wees en ook bewys kan word.

Pietman ·

President en ANC verkeer onder die wanindruk as iets gesê is dit so sal gebeur. Hou die spasie dop vir al die verskonings wat opgedis gaan word hoekom beleid nie suksesvol deurgevoer is nie en ook hoekom dit nie hulle skuld is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.