Staatsrede: Woorde moet nou dade word

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Donderdagaand se staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede geloof, maar waarsku dat hy in die verlede ook “die regte geluide gemaak het, net om te verdwyn wanneer dit in werking gestel moet word”. Die VF Plus meen op sy beurt Ramaphosa het die ANC weer bo die land gestel.

Die president het Donderdagaand gefokus op praktiese stappe om die ekonomie te versterk, het onderneem om van burokratiese rompslomp ontslae te raak en gesê hy is van voorneme om die nasionale ramptoestand op te hef sodra ander maatreëls en wetgewing daaroor ingestel word.

John Steenhuisen, leier van die amptelike opposisie, sê egter Suid-Afrikaners sal moet wag en sien of enige van die woorde ooit in dade omskep word.

Die DA-leier sê Ramaphosa se besef, dekades te laat, dat die private sektor en nie die regering nie werk skep, is taamlik ver verwyder van sy party se sentrale beheer-benadering tot die ekonomie en werksgeleenthede. “Tot hy egter daad by die woord voeg, arbeidswetgewing beduidend hervorm en sy opgeblaasde staatsdiens met duisende miljoenêrbestuurders verklein, gaan dit alles net woorde bly.”

Die DA sê ook indien die president enigiets gedoen wil kry, hy van omtrent sy hele kabinet ontslae moet raak en wegstap van die ANC se beleid van kaderontplooiing. “Tot dan gaan hierdie leë woorde bly.”

Die VF Plus sê egter die president was nie bereid om enige ongewilde besluite – soos om aan te kondig dat kaderontplooiing beëindig word – te neem nie.

“Nóg beloftes, nóg leë woorde, raamwerke en taakspanne. Dit is die oplossing wat pres. Ramaphosa as oplossing gebied het vir ’n land wat kritiek in die waaksaal lê. Daar kan geen twyfel meer wees dat die president die ANC en sy beleid bo Suid-Afrika en sy mense stel nie,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Hy sê nes in die verlede het die president ʼn goeie opsomming van die land se probleme gegee, asook van die faktore wat ekonomiese groei aan bande lê, maar weer eens “nie ʼn enkele stap om daadwerklike veranderinge teweeg te bring nie”.

“Hy praat van reuse-infrastruktuurontwikkeling en ander projekte van miljarde rande sonder om te sê waar die geld hiervoor gevind gaan word. Hy erken onder meer beleggings het oor jare afgeneem, dat kragprobleme die sakesektor kortwiek, die belang van die private sektor en dat dié sektor gehelp moet word, probleme op plaaslike regeringsvlak, die gevolge van staatskaping op Eskom, die noodsaaklikheid van werkende hawens en rompslomp wat entrepreneurskap moeilik maak.

“Dit weet almal in Suid-Afrika. Die president het bloot ’n perfekte prentjie geskets van die haglike toestand waarin Suid-Afrika onder die ANC beland het. Wat die land wou hoor, is wat die regering gaan doen om hierdie probleme op te los, sê Groenewald.

Volgens Steenhuisen is Ramaphosa se stelling, dat te veel regulasies in die land onnodig ingewikkeld, duur en moeilik is om aan te voldoen – en dat dit maatskappye verhoed om te groei en werk te skep, presies wat die DA al jare lank sê.

Groenewald sê egter hoewel die Ramaphosa wel die probleem van werkloosheid erken en planne bekend gemaak van ’n stimulusprogram om werk te skep, is dit “kosmeties en onvolhoubaar aangesien die staat die projek sal dryf”.

Die president erken dat daar wetgewing en regulasies is wat werkskepping deur die privaatsektor bemoeilik, maar volgens Groenewald bied hy nie werklike oplossings daarvoor nie.

Die DA het ook die aankondiging oor ʼn afsonderlike elektrisiteitstransmissie-eenheid, wat deel vorm van die ontbondeling van Eskom, verwelkom. Die president se aankondiging dat die beoogde breëbandspektrumveiling gaan plaasvind is ook goeie nuus vir die DA, hoewel Steenhuisen sê dit is die afgelope paar jaar elke jaar in die staatsrede genoem.

Steenhuisen het ook die aankondiging dat arbeidswetgewing vir klein- en mediumgrootte ondernemings verslag gaan word, as ʼn stap in die regte rigting bestempel. “Die ironie is natuurlik dat die DA nie net hierdie dinge dekades lank sê nie, maar ook wetsontwerpe voorgelê het om die regering te help om hierdie doelwitte te behaal,” sê Steenhuisen.

“Gemeet aan net die woorde, is hierdie ʼn geloofwaardige staatsrede, maar woorde beteken niks tot dit in dade oorgaan nie. Ons sal ons oordeel terughou tot ons dinge oor kwessies sien gebeur.”

Die VF Plus meen wat Suid-Afrikaners wou hoor, is wat die regering gaan doen om die land se talle probleme op te los. “Daarvan was daar oudergewoonte niks,” sê Groenewald.

“Die enigste plan wat op die tafel geplaas is, is dat Suid-Afrikaners saam binne “honderd dae”’ ’n plan moet beraam om die ekonomie te stimuleer. Dit is ’n tipiese voorbeeld van leë woorde wat niks kan of gaan oplewer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Blah,,Blah,,,en nog n Blah,,

H.A.

WAT VAN MISDAAD ? Hy is n gebore kommunis + die hele ANC kabinet en al hulle KADERS. MAG JULLE EINDE ASSEBLIEF VINNIG KOM !

FrikkievV

Rerig! Ons het al die twak en lee beloftes al menigmale die laaste 25 jaar gehoor. Die enigstes wat dit nog glo is die ANC muppets.
Die definisie van ‘ n idioot is as jy elke keer dieselfde doen/ se en dink dit gaan die keer anders wees, maar jy doen steeds niks. Narre!

Susan

Hulle sê dit al van 1994 af , ek lees maar eerder nie die artikel nie – vir bloeddruk redes!

JM

Beloftes, beloftes, beloftes; só het die miskruier gesê toe hy agter die 1912-Fordjie aangeloop het … Van ál Ramaphosa se beloftes gaan dadels kom, dit weet almal. Mag die ANC-regering spoedig tot ‘n val kom!