Staatsrede: Zuma fokus op armoede, werkloosheid en ongelykheid

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie. Foto: SA Government News, Facebook

President Jacob Zuma tydens die staatsrede in Februarie. Foto: SA Government News, Facebook

Suid-Afrika kort drastiese ingryping om die ekonomie ‘n hupstoot te gee en armoede, werkloosheid en ongelykheid te oorkom, het president Jacob Zuma Dinsdagaand in sy staatsrede gesê.

Zuma het sy staatsrede begin deur sy medelye te betuig rakende die afsterwe van Michael Coetzee, sekretaris van die parlement. Coetzee is Vrydagaand na ‘n lang kankerstryd oorlede.

Zuma het volgende gefokus op die uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid wat die lewens van talle mense raak. “Soos ons die tweede fase van die oorgang van apartheid na ‘n nasionale demokratiese samelewing binnegaan, moet ons begin met radikale sosio-ekonomiese transformasie om die drie uitdagings aan te spreek. Verandering sal nie kom sonder verreikende ingrypings nie.”

Zuma sê die mees doeltreffende wapen teen armoede is die skep van behoorlike werk. “Ons het ‘n groeiteiken van 5% teen 2019 gestel. Om dit te vermag sal ons verskeie maatreëls en ingrypings in plek stel om die ekonomie ‘n hupstoot te gee. Die ekonomie het die afgelope drie jaar stadiger as sy potensiaal gegroei en talle huishoudings gaan deur moeilike tye.”

Zuma sê die stadige groei is deels veroorsaak deur die wêreldwye ekonomiese afswaai en tweedens binnelandse toestande soos uitgerekte, en by tye gewelddadige, stakings sowel as die tekort aan energie.

Zuma het ook op die land se energietekort gefokus. “Die suksesvolle elektrifiseringsprogram, wat die lewens van baie huishoudings verander het, is bereik deur uit kunsmatige elektrisiteitsreserwes te put, wat nie ontwerp is om voorsiening te maak vir massa-energie-verspreiding nie.” Zuma sê daar is radikale transformasie in die energiesektor nodig ten einde ‘n volhoubare energiemengsel van steenkool-, sonkrag, wind-, gas en kernkrag te verseker.

Zuma het ook aangekondig dat die regering die implementering van die Wysigingswetsontwerp op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Gelyke Indiensneming sal verskerp ten einde eienaarskap, bestuur en die beheer van die ekonomie te transformeer. Volgens Zuma sal die bemagtiging van die jeug geprioritiseer word in die regering se program vir ekonomiese transformasie.

Zuma sê die landboubedryf is geïdentifiseer as ‘n sleuteldrywer tot werkskepping. “Ons teiken is om teen 2030 ‘n miljoen werksgeleenthede in die landbousektor te skep.” Zuma sê die regering sal omvattende ondersteuning aan kleinboere gee deur grondhervorming te bespoedig en deur tegniese en finansiële ondersteuning te gee.

Zuma sê onderwys bly een van die hoof prioriteite van die regering. “Ons sal voortgaan om in onderwys en vaardigheidsontwikkeling te belê, aangesien dit die sleutel is tot ekonomiese groei en ontwikkeling. Ons benodig ingenieurs, elektrisiëns, loodgieters, dokters, onderwysers en ander professionele mense om die land se ekonomie op te bou.”

Zuma sê daar is die afgelope vyf jaar vordering gemaak om ernstige misdade soos moord, roof met verswarende omstandighede en misdade teen vroue en ander kwesbare groepe te verminder. Hy sê dit bly egter onaanvaarbaar hoog.

Klik hier om pres. Zuma se volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

“Zuma sê die landboubedryf is geïdentifiseer as ‘n sleuteldrywer tot werkskepping. “Ons teiken is om teen 2030 ‘n miljoen werksgeleenthede in die landbousektor te skep.” Zuma sê die regering sal omvattende ondersteuning aan kleinboere gee deur grondhervorming te bespoedig en deur tegniese en finansiële ondersteuning te gee.”

Hoe word 1000000 nuwe werksgeleenthede in die landbou geskep? Grondonteiening en die wegdoen met die gewillige verkoper beginsel? En wat van al die mislukte landbouprojekte wat die oorgrootte meerderheid uitmaak van alle herverdeelde grond?

Kyk maar hoe onsuksesvol kleinboere is in die voormalige tuislande – die meeste van daardie grond lewer as gevolg van swak bestuur en gebrekkige insette nie ‘n leefbare inkomste nie, en die mense migreer almal na die stede. Hoekom sou die nuwe inisiatief dan werk as die geskiedenis keer-op-keer die teendeel bewys? Geld en ondersteuning word met elke nuwe onteiende plaas belowe, met geen resultaat in 95% van die gevalle nie.

Ek is bevrees fase twee van die rewolusie gaan SA harder slaan as wat ons verwag.

Ant ·

“die implementering van die Wysigingswetsontwerp op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Wet op Gelyke Indiensneming sal verskerp ten einde eienaarskap, bestuur en die beheer van die ekonomie te transformeer”

Tans word die SA ekonomie beheer deur groot internationale “meestal Wit beheerde” maatskappye. Zuma kon sy Mugabe aanslag tot toekomstige onteiening nie duideliker gestel het nie.

Solank as wat ons bates bou wat hulle kan vat, le groot hartseer vir ons voor. Die wereld is groot, gebruik wat jy hier het en bou bates in ander ekonomiee, jy gaan dit nodig kry in die toekoms.

Lanie ·

Blah ! Blah ! Blah ! Se eerder net hulle gaan nog meer korrup word en daar is niks wat iemand kan doen nie want hulle is deur die “arm versukkelde massas” ingestem ! As hulle die laaste 20 jaar nie iets positief kon gedoen het nie sal dit baie beslis nie nou skielik gebeur nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.