Staatsrede: Zuma het self uitstel gevra

Pres. Jacob Zuma spreek die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) toe (9 November 2017). Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die presidensie het die Dinsdag benadruk dat dit pres. Jacob Zuma self was wat die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, versoek het om die staatsrede uit te stel.

“Pres. Jacob Zuma het skriftelik die speaker van die nasionale vergadering, Baleka Mbete, en die voorsitter van die raad van provinsies, Thandi Modise, versoek om die gesamentlike sitting van die nasionale vergadering en die nasionale raad van provinsies, waartydens die staatsrede gelewer word, uit te stel,” het Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die staatsrede, wat Donderdag sou plaasvind, is uitgestel.

“Die president het die uitstel versoek weens sekere ontwikkelinge wat dit nie gunstig sou maak om suksesvol die sitting te hou en die staatsrede te lewer nie,” het Ngqulunga bygevoeg.

Die parlement het intussen in ʼn verklaring gesê die staatsrede is ʼn baie belangrike gebeurtenis in die nasionale politieke program van die parlement.

“Ons was die afgelope vier jaar teleurgesteld oor die ontwrigting, anargie en chaos wat kenmerkend was van hierdie jaarlikse gesamentlike sitting, wat, op ʼn manier, die opening van die parlement aandui,” lui die verklaring.

“Die staatsrede moet gebeur. Ontwikkelinge vanjaar, veral versoeke dat die sitting uitgestel of ontwrig moet word, het vir ons groot kommer veroorsaak. Ons het ongelukkig tot die gevolg gekom dat dit onwaarskynlik is dat die gesamentlike sitting hierdie Donderdag sonder enige voorvalle sou plaasvind. Ons het daarom besluit om die president van die Republiek te nader om voor te stel dat ons die gesamentlike sitting uitstel sodat ons ruimte kan skep om ʼn gunstige politieke atmosfeer in die parlement te vestig.

“Toe ons met die president vergader het, het ons gehoor dat hy reeds ʼn skrywe aan die parlement gerig het om te versoek dat die staatsrede uitgestel moet word.”

Aldus die verklaring neem die toesighoudende beamptes die nasionale begrotingsrede in ag wat binne die volgende twee weke (21 Februarie) geskeduleer is.

“Ons wil ons mede-Suid-Afrikaners en almal, wat deur hierdie besluit beïnvloed word, die versekering bie dat stappe gedoen word in die belang van die parlement en die land.”

ʼn Nuwe datum vir die staatsrede sal binnekort aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

KOEBAAI NUMBA WHONE!!! heheheheheee. So kom jou gewetenlose magsbehepte vergrype tot n einde. Hoor hulle soek bokwagters da wa jy vandaan kom. Of nee wag… jy gaan VERVOLG word vir jou arrogante berwoesting van n eens stabiele ekonomie en land. SHAME. ON YOU!

Siek en sat ·

Self uitgestel? Baie moeilik vir my om dit te glo. Daar was te veel druk my maatjie. Skrif is aan die muur.

John ·

Binnekort gaan die oom ook kwaai-siek speel… vergiftig of soiets… of help ek hom nou met ‘n verdere opsi? Mogabe gaan mos gereeld na ‘n Maleisiese kundige sodra die eelte pyn… Dubai het glo ook goeie duur dokters.

Elsa ·

Dis snert, zuma gebruik ander se gedagtes, ai spoedig totsiens en vaarwel, hy vat kanse

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.